Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Met dié bos blomme het Elna Mouton vir Amanda Carstens bedank vir die uitlegwerk wat Carstens gedoen het met die glansboek wat Mouton oor die geskiedenis en visie van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit saamgestel het.

Spiritualiteit: ‘Kom word met elke sintuig stil’

‘n Nuwe boek vier die lesse wat betrokkenes geleer het uit die skep van ’n “dun plek” – ’n ruimte wat jou verwelkom buite jou gemaksone, berig Le Roux Schoeman.

 

Met ’n voëlvlug oor Wellington – straat-af van die Breytenbach-sentrum met sy Bôrdienghuis-teater en tuin vol poësie – sal die oplettende voël nóg ’n uitgebreide kompleks gewaar, wat eweneens die naam van ’n invloedryke skrywer dra: die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS).

En as die oorvliegvoël boonop op die regte skemeraand in einde Julie sou afswiep in die gerestoureerde Jubileum Zaal op die perseel, sou dié ’n bekendstellingsgeleentheid kon meemaak van ’n 166-blad volkleur slapbandboek wat die geskiedenis en visie van die AMSS nie net vertel vanaf die amptelike opening in 2019 nie, maar so ver terug as die bediening van Andrew Murray self, wat hier gewoon het. Trouens, sommige boekmedewerkers volg die wortels terug, verby Murray met sy tamaai sendingdrif, sy vrou en hulle elf kinders, tot by die Reformasie. En skat die invloedsfeer van hierdie kerklike aanbiddingsinisiatief span veel wyer as diegene wat al hier kom aandoen het.

Elna Mouton lees ‘n gedeelte voor uit Thin Space – tussen hemel en harde grond, die boek wat sy saamgestel het oor die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS). Foto’s: Le Roux Schoeman.

Thin Space – tussen hemel en harde grond, is saamgestel deur Elna Mouton, teoloog, afgetrede dosent en die persoon aan wie die eerste termyn as kapelmeester hier toevertrou is, met die taak om ’n ruimte te skep waar proses belangriker as produk is en waar “oorgee en laat-vernuwe-word” die fokus is, in die destydse woorde van ds Theunis Botha, PSD: Predikantebegeleiding. Dít het Mouton gedoen. Een kapeldiens en stil-ontbyt op ’n slag. Vir sowat drie jaar, tot sy klaargemaak het. “Dit was vir my wonderlik om te ervaar dat hierdie senturm ’n verlengstuk was wat eintlik vir ’n lang tyd in die Wes-Kaapland Sinode aan die gebeur was in terme van pogings tot verdiepte spiritualiteit,” het Mouton by die bekendstelling van Thin Space aan sowat 50 mense in die gehoor gesê. Sy is in haar pos opgevolg deur dr Eddie Orsmond, wat deesdae as kapel-koördineerder optree. Mouton het gesê: “Dit sal my hoop wees vir die toekoms, dat dit ’n plek sal wees maar mense hulleself met waagmoed sal oopstel vir nuwe lewegewende praktyke en gewoontes en as dit nodig is, ouer gewoontes wat nie meer lewe gee nie, laat vaar.”

 

Ritmes en die stilte van alle sintuie

Die AMSS is indrukwekkend op argitekturele, tuinbou- én konseptuele vlak. Hier is als van landskapkuns deur Strijdom van der Merwe, gietyster-Christusse, pilasters en vloerplanke en eikehouttafels en vyebome (besoekers wat met die “Vier” argetipe van die Enneagram identifiseer, mag hulleself betrap waar hulle prewel: skoonheid sal die wêreld red!). Retraitegangers slaap oor in eenvoudige, stylvolle slaapkamers. Klem val op “ritmes” en die woord liminaal word sonder waarskuwing gebruik. Kapeldienste geskied met klokslag (korter en meer dikwels, kan ’n mens maar sê) en allerlei soekers kan vra om in die rooidakgebou waar Murray tot en met sy dood in 1917 die meeste van sy vele boeke geskryf het, te kom navors of self die gansveer te laat beef.

Die kapel en die eko-poel. Foto: 2019/Kerkbode

Die kruisvormige “eko-poel” langs die chic kapel wat uit ’n perdestal omskep is, die labirint op die groot vlakte langs die sportveld van Laerskool Hugo Rust, die reuse-gebedbos in die hoek van die perseel is als leidrade dat hierdie oornagplek en ruimte van “bedieningsgerigte teologiese navorsing” ’n anderste soort agenda hier in die Boland bedryf. En ten minste hierdie besoeker moes fyn luister om al die nuanses te verstaan en soos ’n ui, laag na laag af te skil. Een aspek is natuurlik stilte. “Om met elke sintuig stil te word,” soos die boek die leser leer. “To listen with the ear of the heart.” En, langs ’n laerskoolrugbyveld en met ’n paar omvattende grasperke vol grassnyers en / of blareblasers is stilte selfs hier op sommige dae van die week ’n bedreigde spesie!

Die slaapkamers in die AMSS.

Maar die titelbegrip Thin Space slaan op iets meer geestelik as ontspanning en ’n blaaskans. “(Die boektitel) is doelbewus meertalig om iets van die AMSS vas te vat as plek, waar tale, kulture, tradisies, kontekste, welkom is,” vertel Mouton. Die begrip is oorgeneem uit die Skots-Keltiese tradisie, waarin ’n “dun ruimte” verwys na ’n soort ruimte “waar daar meer dimensies na vore kom as wat met die blote oog waargeneem kan word. Waar hemel en aarde op verrassende manier ontmoet. Waar jy op besondere manier bewus raak van teenwoordigheid,” aldus Mouton. “Uiteindelik glo ons as Christene dat God op ’n vreemde manier tussen hemel en aarde kom hang aan ’n kruis.”

 

Plek van ongemak en verwondering

Mouton is by die bekendstelling uitgevra oor haar eie ervaring van haar kapeltermyn. Sy praat met ’n helder stem, in suiwer Afrikaans en versigtige woordkeuse soos een wat kaalvoet deur ’n vlak maar koue water loop. By die sentrum het sy ’n drumpelruimte geskep. “As jy op die drumpel staan is jy nie meer in jou gemaksone nie, jy weet nie waarheen jy op pad is nie. So, ons is baie bewustelik by AMSS as drumpelruimte waar ’n mens van ’n klomp goed laat gaan maar ook weer nuwe perspektiewe verwelkom. ’n Plek van ongemak maar ook ’n plek van verwondering,” verduidelik Mouton. Haar hare is grys en kort gekap, wat haar ’n maklik uitkenbare teenwoordigheid in die groot saal maak, selfs wanneer die sosialisering begin en gaste op die vingerhappies toesak.

Dr Lisel Joubert, prof Elna Mouton en dr Frederick Marais op die aand van die bekendstelling van Thin Space.

Almal welkom, maar nie almal tuis

Daar was ook goed wat moeilik was vir haar as kapelmeester. “Daar was ook mense wat nie met die naam (Andrew Murray Sentrum), die hele konsep tuisgevoel het nie. Dit het my baie diep uitgedaag om nie te verdedig nie, maar te verreken. Of … met geen woorde nie, net te luister. Ek dink dit is vir die senturm belangrik, in die konteks van ons land, dat ons oor en oor vra, wie se stemme word hier gehoor, wie word uitgesluit, wie voel uitgesluit al is die nie so bedoel nie. Die feit dat ons alle stemme hier wil hoor – ook dié wat nie saamstem met wat hier beliggaam word nie.”

Die teoloog dr Lisel Joubert het Mouton in ’n onderhoud oor die boek vroeër die aand gevra hoe Mouton self geraak is deur haar termyn in die “drumpel”. Mouton betree kortstondig ’n soort voordrag-modus van praat, asof sy ’n onsigbare coda aflees vanaf die verste muur agter die gehoor. Sy praat oor ’n plek op die perseel waarheen sy herhaaldelik teruggekeer het, “na daardie hoek waar ek uitsig op die berge gehad het, vanwaar ek my verwonder het aan elke valk wat verbygevlieg het, die tarentale wat loop en ek elke boom en bos en vlakte kon voel waar my menswees nuwe dimensies gekry het omdat ek myself as mens in verhouding meer en meer kon ervaar.” Haar vertelling herinner aan die Amerikaanse mistikus en monnik Thomas Merton se bekende beskrywing van sy gewaarwording op ’n straathoek in Louisville “… At the corner of Fourth and Walnut, in the center of the shopping district, I was suddenly overwhelmed with the realization that I loved all these people, that they were mine and I theirs, that we could not be alien to one another even though we were total strangers …” En dit voel nogal kosbaar om in ’n gehoor te wees waar iemand beskryf hoe sy ontwaak uit wat wyle Merton as die “droom van apartwees” beskryf het.

‘Reddingsboei vir die NG Kerk’

Dr Frederick Marais, voorsitter van die AMSS-bestuursraad, skryf in sy voorwoord tot Thin Space dat die voorbereiding vir die sentrum as ’t ware herlei kan word “na die merkwaardige geskiedenis van dr Andrew Murray Jr en die Sendinginstituut, en die invloed wat dit in kerke en gemeenskappe gehad het. Marais verwys ook na die teoloog John de Gruchy van die Volmoed-retraitesentrum in die Hemel-en-Aarde-vallei, wat verduidelik dat daar insiggewende samehang tussen die monastiese en gereformeerde tradisie te vind is. “The fathers of the Reformed tradition, following Zwingli and Calvin, wanted to reconstruct the church from the ground up much like the early monastics,” skryf De Gruchy. Hy omskryf monastiek as “‘a movement of the Spirit’ which expresses ‘the power and vitality of the church.’”

Die boek – deels fotoboek, deels geskiedenisboek, deels sense-making – getuig daarvan dat ’n groot klomp mense saamgewerk het om die AMSS staan te maak. Ds Charl Stander, aktuarius van die Sinode Wes-Kaapland, word aangehaal waar hy juis hieroor praat. “Ek het gesien hoe hierdie visie mense se verbeelding aangryp,” vertel dié leraar, self in die “aandskemering van sy bediening”. “… Hoedat ’n projek wat die Here in 1877 deur Andrew Murray begin het, te midde van verskeie turbulensies, uit die as verrys en die NG Kerk in ’n nuwe rigting neem. Ek is daarvan oortuig dat ’n verdiepte spiritualiteit, soos dit deur die AMSS beliggaam en bevorder word, God se reddingsboei vir die NG Kerk is.”

  • Stuur ‘n e-pos na Amanda by toerusting@kaapkerk.co.za om die boek te bestel. R380 as jy dit in Stellenbosch kan afhaal, andersins sal daar koerierkoste gevra word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top