Denzil Holloway het Sondag 23 Julie die eerste graafvol grond gegooi op moontlik die grootste doodskis wat nog laat sak is op die historiese kerkterrein van Swartland Moedergemeente op Malmesbury.
Die beendere glo van 44 mense, wat laasjaar ontdek is tydens bouwerk aan die gemeente se nuwe kerksaal, het so ’n laaste rusplek in ’n dubbellaaghoutkis van 2,4 m lank, 1,2 m breed en 80 cm hoog onder ’n jakarandaboom gevind.
Lees ook: Bouwerk grawe raaisel maar ook hartseer in die Swartland oop
Holloway is die voorsitter van die gemeente se kerkraad en hy vertel vandeesweek vir Kerkbode hy hoop hiermee kan hulle gemeente die “erfenisleer sluit”.
Sondag se diens is bygewoon deur lidmate sowel as ondermeer verteenwoordigers van die Wes-Kaapse Erfenisstigting. Studenteleraar Matteus Vorster se boodskap Sondag was uit die deel in Esegiël waar die profeet ’n gesig sien van ’n vallei vol doodsbeendere. Anja Huisamen vertel wat by haar ‘n “snaar geroer het want sy voel ook so” was sy verduideliking dat die droë bene in die kis in die kerkportaal “eers mense (was) wat hier in die huis van die Here ’n gemeenskap was, net soos wat ons vandag is en dat ons hier bymekaar is omdat hulle die fondasie van die kerk, gemeente en gemeenskap was …”


Sy was nogal benoud dat die houtkis se bodem mag uitval want dit was swaar, voeg die honneurs honneursstudent in argeologie by wat meeste van die beendere uitgegrawe het. Verlede week het sy alleen die beendere van elke mens in sy eie kompartement gesit saam met “hulle eie goed” soos ’n goue gebit, knope en pypstele. Sy het ook ’n paar van die items uitgehou sou die gemeente, een van die oudste NG gemeentes in die land, later iets oor hierdie gebeure in hulle kerkkantoor wou uitstal.
Vroeër vanjaar het Kerkbode gehoor dat die beendere se ontdekking vir Holloway en van die kerkleierskap ’n hartseer skok was. Die kerk se begrafnisrekords dui aan dat 144 mense op hierdie eeue-oue kerkterrein begrawe is, maar niemand was bewus van hierdie grafte nie.

Na Holloway het verskeie lidmate ook beurte geneem om grond met ’n graaf op die kis te gooi. Die nuwe graf is enkele meters van waar die gemeente se nuwe saal reeds feitlik klaar gebou staan. Die dak is al op en dit is nog net binne wat afronding nodig is.
Al wat nog oorbly vir die “erfenishoofstuk” is om die graf met ’n blad te seël waarop die volgende woorde in Engels en Afrikaans staan: “Ter nagedagtenis van onbekendes ontdek tydens die bou van kerksaal in 2023”.
