Haar pa, Coen Brand, het “ongemaklik gevoel” om met Ettie Louw te trou oor sy kom uit die bekende Murray/Louw-familie. Toe vra hy haar of sy vir hom sal wag dat hy op Stellenbosch verder leer …
Só het vyf jaar verloop waarin hulle elke week vir mekaar geskryf het. Die honderde liefdesbriewe uit hierdie tyd het Marianna de Jager, hulle vyfde kind, onlangs in boekvorm uitgegee as Mudiwa wangu / My geliefde: Liefdesbriewe van Coen Brand en Ettie Louw.


De Jager (77) vertel sy het hierdie boek oor haar ouers saamgestel, “eintlik maar vir familie en sendingvriende, maar het toe gewonder of dit gepas sou wees om dit ook in Kerkbode te plaas?”
Haar ma, Ettie, was die jongste kind van die bekende ds Andries Adriaan (Andrew) Louw wat beskou word as die stigter van die Mashonalandse Sending in Zimbabwe (voorheen Suid-Rhodesië). Ds Louw se ma, Jemima Murray, was een van ds Andrew Murray senior, van die gemeente Graaff-Reinet, se vier dogters wat met ’n predikant getrou het.
Lees ook: Vars, statige interpretasie van Skotse invloed op NGK

De Jager, self ’n afgetrede onderwyseres, vertel haar ouers het in 1928 in Mashonaland ontmoet. Die briewe is in ou Afrikaans geskryf “toe daar nog nie spelreëls was nie” en hier en daar het hulle ook Shona-woorde gebruik”, soos byvoorbeeld het hulle dikwels hulle briewe begin met die woorde ‘Mudiwa wangu’ wat Shona is vir ‘my geliefde’.
Oor die briewe voeg De Jager by dat sy daarin nie net haar ouers as jong mense leer ken het nie, maar ook meer ontdek het oor die tyd waarin hulle geleef het. Sy noem dat die politiek van daardie tyd na vore kom soos toe haar pa ’n konferensie oor rasseverhoudinge by Rhodes Universiteit bygewoon het, en daar word ook belangrike gebeurtenisse genoem soos die verskyning van die eerste Bybel in Afrikaans.
Haar ouers is in 1934 getroud en het daarna in Mashonaland gebly. Altwee was onderwysers. Haar pa was later hoof van die opleidingskool waar onderwysers opgelei is.
Die boek kos R100 met R60 by vir aflewering, dus R160. Belangstellendes kan Marianna kontak by 082 577 2653 of e-pos: dejagerb@gmail.com. Oplaag beperk.
