Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Bekkie van Roodepoort skryf:
Ek lees Vrydag 28 Julie 2023 die brief van Anoniem van Pretoria raak, en dink by myself hoe braaf, akkuraat en sagkens Anoniem die boot waarin hulle sit beskryf (Brief: “Ek het nie ’n storie van hoop nie, maar my storie is steeds geldig”).
Dit roer my hart, want ek is ook daar.
Eers pak ek dit saam met die uitnodiging van terugvoer in my kop se binnekamers weg, maar Saterdag word ek deel van ’n gesprek met ’n emeritusleraar in die ring waarvan ek deel is. Hulle deel hoe oorlaai hulle is. Daar is te veel wat vra vir hulp op Sondae met prediking. Daar is ’n groot tekort in die ring en buurringe, sukkelende gemeentes neem toe.
Ek maak myself weer beskikbaar. Vra of my inligting oorgedra kan word. Ek is meer as bereid en het in traumabehandeling en brugbediening gespesialiseer.
Dieselfde leraar wat my bevoegdheid tot teologiese studies goedgekeur het, en my dekades al ken, se antwoord kom skokkend: “Die kerkraad het my genooi, ek kan nie vir hulle van jou vertel nie. Dis die kerkraad se keuse …”
Ek wonder stilweg hoe die kerkraad my betroubaar sou vind sonder die netwerk wat nou skielik my bestaan ontken. My hart roer toe weer. Daarom trek ek ook my braafheid aan want Anoniem is reg, ons het waarde.
Anoniem skryf iets van die ontsaglike pyn van die ontkenning van jou roeping raak wat ek tot dusver net in trane kon omskryf. ’n Moontlike onbewuste afgestomptheid teenoor hande wat kan en wil dien, maar vir welke rede afgesny word met min verantwoordbaarheid van die figure agter geslote deure in die strukture van ons kerk.
Saam met die vergrootglas en oordeel is die merkwaardige afmaking van hierdie pyn asof dit eintlik nietig is. Hierdie ervaar ek as ’n geestelike “gaslighting” want my roeping is die kern van my bestaan. Ek ken ook geen proponent wat deur al die uitdagings tot legitimasie stap en dan bloot net kies om nie beroepbaar te wees sonder om ’n kerndeel van hulle wese tot sterwe te bring omdat hulle fisies elders moet oorleef nie.
Ons doen ander dinge en smeek dat God hierdie pyn van half leef sal stil. Sommiges vervorm hulle roeping in rolle by skole of NGO’s terwyl hulle in elke eerlike gesprek steeds hulle roeping hartseer meedeel. Ander skans weg van enige vorm van roeping erken weens die seer. Niks van hierdie opsies maak werklik God se fluister in jou hart stil nie.
Ek soek ook die tekorte in my eie menswees. Ek vervaardig selfs al redes afbrekend tot my eie menswaardigheid ter verdediging van die NG Kerk, waarvan ek deel is en innig lief het, want met vrae vra kom antwoorde dat die fout by my moet wees.
Die ongemaklike vraag of die tekort nie dalk lê in disfunksionele netwerke binne die werking van ons kerkstrukture wat onverantwoordbaar verdwyn nie, word dikwels afgemaak as ongeldig.
Intussen is my hart is opreg en my hande toegerus. Ek vra nie leë simpatie of jammerkry nie. Ek vra om gesien te word, om saam te dien terwyl ek die pad tot bevestiging stap. Ons kan saam help gemeentes bou. Anoniem herinner my aan ons waarde. Dankie daarvoor.
