Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Ondersoek: Verwaarlosing en mishandeling van oueres is ’n toenemende werklikheid, waarsku kenners

Die hoogste risiko vir die mishandeling van ouer persone is onder diegene wat deur informele versorgers en familie tuis versorg word, berig Marietjie Warrington oor die ontstellende werklikheid van als van aanranding tot uitbuiting van die oueres van dae.

 

Plaaslik en wêreldwyd word die mishandeling en verwaarlosing van ouer persone ’n toenemende maatskaplike en sosiale werklikheid – ’n verskynsel wat voorkom in alle sfere van die gemeenskap, ongeag van ekonomiese, etniese, geloof-, geslag- of akademiese status.

Weens die beperkinge van misdaadstatistiek in hierdie verband, is die ware omvang van bejaardemishandeling en -verwaarlosing in Suid-Afrika nie bekend nie, maar verskeie organisasies en kundiges is dit eens dat, ongeag van dié tekortkoming, geweld teenoor en mishandeling van ouer persone plaaslik besig is om te eskaleer.

Toename ook binne gesinsverband

Prof Syd Eckley, praktiserende gerontoloog en lid van die Menseregtekommissie se Seksie 11, die waghondkomitee vir die regte van ouer mense, sê die mishandeling van ouer persone het oor die afgelope vyf jaar of meer, veral op finansiële vlak, toegeneem en ongelukkig meestal binne gesins- of familieverband.

“Die oorgrote meerderheid van die ouer bevolking in Suid-Afrika wat versorging benodig, kan dit nie bekostig om na ’n institusie te gaan nie. Die hoogste risiko vir mishandeling is onder dié landsburgers wat deur informele versorgers en familie tuis na omgesien word,” sê dr Carla Kotzé, die hoof van Geriatriese Psigiatrie en medeprofessor by Weskoppies-hospitaal, Gauteng se Departement van Gesondheid en die Universiteit van Pretoria se Gesondheidswetenskappe.

Ageism en ander skadelike houdings

Kotzé sê goeie statistiek vir Suid-Afrika rakende die mishandelingverskynsel is tans nie beskikbaar nie. Luidens haar Suid-Afrikaanse Navorsingverslag van 2018 sê sy die gepubliseerde syfers van mishandeling en verwaarlosing van bejaardes verskil baie en wissel tussen 2 en 60%. “’n Geskatte algehele voorkoms van 10% word as redelik beskou, maar sal waarskynlik ’n onderskatting wees. Die voorkoms van mishandeling in institusionele omgewings word as hoër beskou, met tot 64,2% van personeel wat op grond van selfrapportering bejaardemishandeling erken.”

Eckley sê, gemeet teen die voorkomspersentasie van 4,6% volgens die omvattende studie van die lewensomstandighede van ouer persone van 1990, is 10% skokkend. Volgens Kotzé kan die moontlike toename in mishandeling van ouer persone toegeskryf word aan ’n bevolking se veroudering sonder die teenwoordigheid van voldoende opgeleide personeel óf sosiale ondersteuning vir hulpbehoewende bejaardes.

“Op ’n sosiale vlak dra diskriminerende houdings teenoor ouer persone (ageism) en ander kulturele faktore, soos die normalisering van geweld, by tot dié probleem.”

Tafta skets onrusbarende werklikheid

Volgens The Association for the Aged (Tafta), ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, toegewy aan die verligting van nood en bevordering van die welsyn van bejaardes in Durban, vier bejaardemishandeling tans hoogty en sê hulle nasionale tolvrye hulplyn vir ouermishandeling is dié bewys hiervan.

“Sedert die ontstaan van dié hulpmiddel in November 2022 het die organisasie nie minder nie as 2 008 oproepe van regoor Suid-Afrika ontvang. Van die oproepe het 28% gerapporteer dat hulle meer as een tipe mishandeling ervaar, 22% was rondom emosionele mishandeling, 18% was weens finansiële mishandeling en 6% was verwant aan fisieke mishandeling.

Die mishandeling van ouer persone word gereeld in koerantberigte, by kerke en op sosiale platforms uitgewys. Maroela Media berig op 15 Junie 2022 dat mishandeling van ouer mense tans by ons kommerwekkend is. “Solidariteit Helpende Hand ontvang weekliks, uit verskillende oorde, versoeke vir hulp aan ouer persone en dikwels behels dit die rapportering van mishandeling van ouer persone.”

 

Maatskaplike werker oor kernwaarhede en bewusmaking

Annelie Zaayman, ’n maatskaplike werker en kundige op die gebied van beveiliging en beskerming van weerlose volwassenes, tans werksaam by Ekklesiapark, ’n bejaardesorgfasiliteit in Blairgowrie en projek onder die vaandel van die NG Kerk se diensarm, Tutela, is uitgesproke oor die onderwerp van mishandeling en verwaarlosing van bejaardes.

Met onder andere 14 jaar se ervaring in Engeland, waarvan sy agt jaar op dié gebied in ’n gespesialiseerde hoedanigheid gewerk het, sê Zaayman: “Die beveiliging van bejaardes is elke mens se verpligting  en ons het sodoende ’n verantwoordelikheid om bewustheid te skep. ’n Land se beskawingspeil kan gemeet word aan die wyse waarop die owerheid en landsburgers sy bejaardes en ander weerlose volwassenes beskerm.

“Om bejaardes te beskerm teen mishandeling en verwaarlosing, moet nie gesien word as ’n aparte deel binne ’n instelling of organisasie nie, maar moet soos ’n goue draad deur elke aspek van dienslewering loop. Alleenlik só, sal dit bydra tot ’n kultuur van veiligheid, deursigtigheid, voorkoming, gerusstelling plus regstelling – dit is jou vertekpunt,” sê sy.

Daar moet meer gedoen word om voorkomingmaatreëls in plekke te vestig en met groter samewerking tussen belanghebbendes om voorkoming en beveiliging te bevorder, vertel sy.

‘Begin binne ’n eie familiekring’

Volgens Zaayman is dit belangrik vir instellings om ’n beskermingsbeleid van ouer mense en ander weerlose volwassenes in plek te hê en personeel moet hulle verantwoordelikhede hiervolgens uitvoer.

“Mense kan ook vra om die beleid onder oë te kry wanneer hulle byvoorbeeld by ’n aftree- of versorgingstuiste aansoek doen om verblyf,” sê sy.

Kotzé stem saam dat ouer mense dikwels aan die kortste ent trek en dat hulle behoeftes oor die algemeen, insluitend mishandeling, nie genoeg aandag geniet nie.

“Daar moet baie meer gedoen word om mense meer bewus te maak van diskriminasie teenoor ouer mense, mishandeling en die gebrek aan fasiliteite vir sorg en om ouer mense te help om produktief te bly,” sê sy.

Eckley sê ’n goeie vertrekpunt rakende bewusmaking is jou eie familie. “Begin binne ’n eie familiekring en raak bewus van jou regte.Daar is tans baie goeie wetgewing in Suid-Afrika, maar steeds te veel die gevoel dat iemand anders die kastaiings uit die vuur sal krap.

 

Mishandelingtekens nie altyd sigbaar

Die tekens van bejaardemishandeling is nie altyd sigbaar nie. Volgens Zaayman kan mishandeling en verwaarlosing van bejaardes op enige plek plaasvind en die oortreder kan enige persoon (bekend of onbekend aan die bejaarde) wees. Die hooftipes mishandeling wat kan voorkom, sit sy só uiteen:

  • Fisiese mishandeling: Die sigbaarste vorm van mishandeling is fisiek van aard met die doel om pyn te veroorsaak. Die ouer mens word gestamp, met geweld getrek of hardhandig hanteer. Dit sluit ook in die gedwonge toediening van medikasie.
  • Seksuele misbruik: Aanranding, verkragting, aanraking, onsedelike blootstelling óf opmerkings, asook nie-konsensuele handelinge, insluitend waar die persoon nie in staat is om toestemming te gee nie.
  • Emosioneel óf sielkundig: Die vorm van mishandeling kom algemeen voor en is enige optrede wat lei tot angstigheid of stres – dreigemente, die inboeseming van vrees, uitoefening van beheer, bespotting en isolasie. Dit verwys na die gedrag van familie en versorgers wat insluit verbale aftakeling sowel as die onthouding van enige vorm van sosiale stimulasie soos om die bejaarde vir lang periodes eenvoudig net alleen te laat.
  • Finansieel óf materieel: Diefstal, die gebruik van geld of besittings, neem en weerhouding van SASSA-pensioenvoordele en gebruik van kaart sonder toestemming. Dit is bekend dat geldskieters voordele aan pensioenarisse toestaan met baie hoë rentekoerse wat onmoontlik is om terug te betaal. Sommige maatskappye teer op ouer mense en ander kwesbare volwassenes deur onwettig geld van hulle pensioen af te trek. Om ’n persoon te oortuig om hulle testament te verander, óf te oorreed om ’n prokureur volmag te gee, kan moontlik finansiële misbruik wees.
  • Diskriminasie: Misbruik gegrond op waargenome verskille en kwesbaarhede.
  • Verwaarlosing of dade van weglating: Die ignorering van emosionele, geestelike of fisiese behoeftes en weerhouding van basiese lewensbehoeftes, soos medikasie, voldoende voeding en verhitting. Die versuim om in gevaarlike situasies in te gryp waar mense nie oor die verstandelike vermoë beskik om die risiko vir hulleself te bepaal nie.

Reuse-daling in aantal dienssentrums 

Volgens ’n Netwerk24-berig in 2022 sê Petra Fördelmann, direkteur van Creative Wellness, die gevaar van mishandeling van ouer mense neem toe wanneer die bejaarde byvoorbeeld verswak of ’n gestremdheid ontwikkel, wanneer gesondheid afneem, wanneer daar kognitiewe inperking ontstaan of psgiatriese probleme ontwikkel. “Daar is dikwels ’n finansiële verband tussen mishandeling van die bejaarde en die aanvaller en alkoholgebruik of -misbruik mag ook ’n rol speel,” sê Fördeman.

Ouer landsburgers staar tans aansienlike uitdagings in die gesig en baie hiervan kan lei tot mishandeling, verwaarlosing en geweld. Só het die bykans 375 dienssentrums wat meestal deur kerke begin is, nou verminder na slegs 32, sê Eckley.

Hy sê ouer mense geniet nie genoegsame aandag van beleidmakers en die polisie nie en soos sommiges dit stel: “Ons het amper oornag onsigbaar en waardeloos geraak vir die samelewing.”

“Ten spyte van riglyne vir alle polisiebeamptes waarvolgens ouer mense, onder andere bedien moet word, is dit blote ink op papier. Amptenare van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling fokus ook eerder op kinders en dwelmverslaafdes as op ouer persone. Die enigste groep ouer persone wat dalk plaaslik nog ’n soort prioriteit geniet, is die maatskaplikepensioentrekkers,” sê hy.

Volgens Eckley is die Wet op Ouer Persone (Wet 13 van 2006) solied, veral die gedeelte wat op mishandeling fokus, maar leemtes bestaan en is reeds vyf jaar gelede uitgewys.

“Die Departement van Nasionale Beplanning en Koördinering se navorsing in 2018 het bevind dat ouer persone nie deur die wetgewing beskerm word soos wat in die grondbeginsels omskryf word nie,” sê hy.

 

Subsidievermindering wek groot kommer

Die afskaal van subsidies aan instansies is ook tans ’n struikelblok en het reeds verreikende gevolge gehad. Baie tehuise loop stelselmatig leeg met ’n gemiddelde nasionale leëbedstatistiek van 75% – die hoogste nog in die land se geskiedenis. In KZN het 31 tehuise oor die laaste twee jaar deure gesluit en aftree-oorde maak hulle sorgsentrums een na die ander toe.

Volgens Eckley het Deloitte se navorsing in 2019 bevind dat dié toegif met 49% afgeneem het. Die risiko van voortgesette subsidies is volgens rigtingaanwysers onafwendbaar en verskeie aftree-oorde het gedurende die afgelope drie jaar finansieel ondergegaan. Een só ’n uitsoekplek in Pretoria het 314 ouer persone op straat laat beland, sê hy.

In ’n omvattende ondersoek na veroudering in 1990 en opgevolg met die ondersoek na mishandeling in 2000-2002 is uitgewys dat baie professionele persone van dokters, verpleegkundiges en maatskaplike werkers, asook predikante, nie voldoende die eise van veroudering verstaan nie.

Met die stygende veroudering en toename in demensie sal ons gewone landsburgers en Christene hand in eie boesem moet steek en antwoord: Is ouer word ’n las of seën? vra Eckley.

Indien jy vermoed mishandeling van ’n ouer persoon vind plaas, skakel:

  • Tafta se tolvrye hulplyn by 0800 10 11 10.
  • Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie by 011 877 3600.
  • Marietjie Warrington is ’n oudjoernalis wat as vryskut werk.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Ondersoek: Verwaarlosing en mishandeling van oueres is ’n toenemende werklikheid, waarsku kenners”

  1. een ouer kan maklik ses kinders groot maak maar dit is half onmoontlik vir 6 kinders omeen ouerte versorg😢 bejaardes oor die algemmen vra min maar kan baie werk wees en dus is dit belangrik dat n span met kinders ingesluit betrokke raak. Ons moet baklei om dienssentums oop te hou ons moet uitreik waar ins kan maar soos julle ook se moet elke individu eerstens in sy eie krink kyk wat nodig is en dan handjie bysit… n culture of care for those with wisdom is bitter belangrik

Comments are closed.

Scroll to Top