Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Pieter Verster van Bloemfontein skryf oor verootmoediging en Apostolicum: Daar bestaan geen twyfel nie dat ons tans een van die ernstigste krisistye in ons bestaan in Suid-Afrika beleef. Op alle terreine is daar diepgaande probleme. Onder sulke omstandighede moet die kerk nie twis nie, maar alles inspan om voor God in totale verootmoediging te verskyn. Ware verootmoediging beteken dan ook dat ons ons sonde soos Daniël (Daniël 9) voor God bely.
Die vertikale aspek van verootmoediging is sentraal. Vandaaruit moet die liefde ongeveinsd na almal uitgedra word. Ons het nie nou die luukse om te twis oor vrou in die amp, egskeiding en die LGBTQIA+ saak nie. Juis onder hierdie omstandighede moet ons die wonderbare belydenis wat deur so baie kerke saam bely word, naamlik die Apostolicum of 12 Artikels opnuut verkondig. Daarin bely ons juis dat God die Skepper, ons Vader is, en dat ons ’n besondere persoonlike verhouding met Hom kan hê, tot Hom kan bid en dat Hy lééf. Hy is die Skepper, al weet ons nie presies hóé nie, maar dát Hy geskep het. Hy is geen onpersoonlike mag of krag nie.
Hy is die Almatige omdat Hy God is. So word Hy ook as liefdevolle Vader erken. Dit is ook geen gender-saak nie, maar God openbaar Hom as Vader. Oor Jesus bely ons met vreugde sy wonderbare geboorte, dat Hy die ware Seun van God is (volgens Nicea ook God uit God), sy dood aan die kruis, sy oorgawe in die dood en terhelleneerdaling, sy ware opstanding uit die dood, sy troonbestyging en wederkoms, waartydens Hy sal oordeel.
Geen van hierdie wonderbare belydenisse moet ons misken nie. Jesus se lewe word ook nie noodwendig in die Apostolicum uitgespel nie omdat ons soos Paulus bely dat ons niks anders wil weet as Jesus en Hom as die Gekruisigde nie. In die kruis is sy lewe saamgevat. Die belydenis oor die Heilige Gees en die kerk bevestig dat God ingryp in die lewe. Die werklikheid van die sonde moet erken word.
Die Bybel getuig oorvloedig daarvan en Jesus is die Een wat ons daarvan kan verlos. Saam met Paulus wil ons getuig dat daar ewige lewe is en opstanding uit die dood. Hoe absurd dat sommige beweer dat daar nie genoeg plek sal wees vir almal om op te staan nie. Paulus skryf juis in 1 Korintiërs 15:14-19: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” Laat ons dit saam met Paulus onomwonde bely.
