Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Brief: ’n Stem vir die ware stemlose

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Dr Nadia Marais se artikel “Die geskenk van ’n stem” (2:10) waarin sy verwys na aborsie as “reproduktiewe gesondheid” het betrekking.

Kinders kan verwek word binne ’n liefdevolle Bybelse huwelik. Soms gebeur dit buite die huwelik (beplan of onbeplan); dit kan ook gebeur deur verkragting of wat dr Marais noem, “roekelose seks”. Volgens Jeremia 1:5 ken God ons voordat Hy ons in die moederskoot vorm. Psalm 139:13-16 vertel hoe kunstig God ons ongevormde klomp weef in die baarmoeder. In Lukas 1:41 lees ons dat die ongebore Johannes die Doper in Elisabet se moederskoot beweeg, die oomblik toe die swanger Maria haar groet.

Op watter manier ’n kind ook al verwek word, alle lewe is heilig en moet gekoester word. Aborsie het al bestaan in die tyd van Hippokrates, wat in die 5de eeu na Christus geleef het. Hy het aborsie in sy eed verbied. Aborsie word nie in die Bybel genoem nie maar wat wel genoem word, is dat ’n mens nie mag doodmaak nie (Eks 20:13). Ook lank voor die Tien Gebooie sien ons dit in God se veroordeling van Kain vir die moord op sy broer Abel. Selfs landswette verbied doodmaak met voorbedagte rade. In Matteus 7:12(a) vind ons die woorde van Jesus: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen”. Dit geld tog seker ook ’n ongebore kindjie?

Geborg

Gereformeerde gelowiges behoort ten minste die heel eerste vraag en antwoord van die Heidelbergse Kategismus te ken: Vraag 1: Wat is jou enigste troos (hoop) in lewe en in sterwe? Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Elke ongebore kindjie behoort nie aan aardse ouers nie, maar aan hulle Skepper.

Dr Marais se aanvalle op mans en wat hulle doen is kwalik verbloem. Haar fokus is hoofsaaklik op die “stemlose vrou (wat) verneder en verketter (word)” en as voorbeeld noem sy “die owerspelige vrou” van Johannes 8:1-11. Waar is die pleidooi vir ’n stem vir die WARE stemlose, die mees weerlose van weerloses, ’n ongebore kindjie geskape na die beeld van die lewende God?


Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand