Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Stemme by die sinode: ‘Ons kan nie toemaak nie, want wie gaan dan na die oumense kyk?’

Attie Kotze (72) van NG Moederkerk Vereeniging (Klipkerk) vertel**: “Ons gemeente is bekend as die Klipkerk. Dit is gestig op 16 Maart 1912 en is die oudste in Vereeniging in die Vaaldriehoek. Ek het grootgeword in hierdie gemeente waar ek nou leierouderling is. Ons het al die jare ’n eie dominee gehad, maar dit is nou al tien jaar wat ons nie een kan bekostig nie. Maar ons as kerkraad het gesê ons kan nie dink aan toemaak nie, want wie gaan dan na die oumense kyk? Ons het baie oumense. Baie van hulle kry swaar. As iemand 50c ingooi, dan wonder ’n mens partykeer wie eet nie vanaand nie. Dit help ook baie dat ons vir Sondae ’n Hervormde vrouedominee het wat by ons preek. Ons is baie lief vir haar, want sy wys soveel omgee vir mense wat siek en broos is, sy vou hulle toe in liefde. Ons is maar 11 kerkraadslede. So, ja, partykeer raak ’n mens moeg omdat ons alles doen maar twee goed gee my hoop: dat ons mense vir mekaar omgee en dat ons sien dat skoolkinders, wit, bruin en swart, na die jeug by ons kerk kom. Daar is al so 60 kinders wat kom. Ek help hier ook lei, want die kinders is soekend.” Foto: Heléne Meissenheimer
Lawrence Mafifi (59), ouderling van NG Gemeente Ledig in Rustenburg, vertel: “Ons gemeente se naam is NG Gemeente Ledig wat in Afrikaans beteken niks doen maar eintlik is dit altyd besig hier by ons in Rustenburg. Hier is groot myne, baie besighede en natuurreservate. Ek is ouderling by ons gemeente wat so 150 mense het. Die meeste is ouer mense wat afhanklik is van Sassa (staatspensioene), maar daar is ook middeljarige mense en kinders. Dit is vir my belangrik om wat ek leer en ervaar hier by die sinode te deel met ons mense by die kerk. So, hierdie is my tweede Algemene Sinode. My eerste een was in 2015 toe ek gekom het as deel van ’n afvaardiging van die NG Kerk in Afrika. Die jaar daarna het ons ring saam met nog twee ringe gevra om deel te word van die NG Kerk se streeksinode Goudland. Die manier hoe hulle ons aanvaar het, veral ds Anton Mieny (uitvoerende amptenaar by Goudland), was wonderlik. Hy is vir ons soos ’n peetpa. Dit het vir my gewys ons kán as swart en wit saam in een kerk wees. Selfs al kan ek nie goed Afrikaans praat nie. Ek sien die mense hier aanvaar dit.”

** Dié is ’n gasrubriekreeks waar ons sinodegangers aan die woord stel.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top