Hierdie dokument verduidelik die benadering wat die Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) volg in die uitvoering van opdragte. Dit sluit aan by die Algemene Sinode se beleid oor Skrifverstaan, soos verwoord in die besluite van 2011, 2004, 2002, 1990 en 1986. Die dokument is ’n opsomming van werk wat deur verteenwoordigers van die samestellende sinodes gedoen is ná indringende gesprekvoering oor ’n Gereformeerde verstaan van onderskeiding. Kerkbode publiseer dit hier in sy geheel.
Geloof en Gesprek
Christene streef daarna om die goeie wil van God te gehoorsaam. Dit is egter nie altyd voor die hand liggend wat die beste keuse is om te maak om binne God se wil te bly nie. Daarom kan ons nie anders as om aan te hou soek na die wil van God nie. Hiervoor het ons mekaar nodig. Dit is nie goed om net op jou eie te onderskei nie.
Ons glo die Bybel lig ons in oor die wil van God vir ons hele lewe. Die Bybel bied egter nie vir ons glashelder voorskrifte oor elke moderne saak nie. As dit so was, was al ons vrae vinnig opgelos. Gelukkig weet ons, soos die Algemene Sinode in 2011 dit gestel het:
“Hoe ingewikkeld ons probleme ook al is – wanneer ons in gesprek met mekaar daaroor bly en bid dat ons liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling om die dinge te onderskei waarop dit werklik aankom, sal ons in die lig van die Skrif die rigting kan peil waarin ons die oplossing moet soek” (sien Fil 1:9-10).
Onderskeiding vind die beste plaas deur gesprek. Ook in die Bybel self sien ons tekens van gesprek. Die Bybel het ontstaan in gesprek tussen God en mense, tussen mense onderling, en tussen mense wat in verskillende tye op verskillende plekke geleef het.
In die teologie hou hierdie siening van hoe die Bybel ontstaan het verband met die sogenaamde “organiese inspirasieleer”. Die Gees het die Bybelskrywers nie “meganies” gelei nie, maar hulle persoonlikhede en omstandighede juis in die skryfproses ingeskakel. Die Gees het hulle in hul menslikheid en besondere omstandighede geïnspireer om oor God te praat. Daarom het die Woord telkens in nuwe tye vir gelowige mense nuut geword.
Die Gees lei ons as moderne lesers vandag ook deur ons in óns omstandighede by die gesprek wat in die Bybel plaasvind te betrek.
Ons vind ‘n mooi raamwerk vir ‘n gelowige interpretasie van God se Woord in die volgende formulering van die Algemene Sinode van 2004:
i. Die Bybel is die Woord van God en is daarom gesagvol oor ons hele lewe. Dit is betroubaar, duidelik en
voldoende.
ii. Ons denkvermoë word nie uitgeskakel wanneer ons die Bybel lees nie.
iii. Die kerk soek onder leiding van die Heilige Gees as geloofsgemeenskap na dit wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie soeke geskied nie sonder verantwoordelike Skrifinterpretasie nie.
iv. Die kerk mag in elke tyd anders oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg. v. Ons is daartoe verbind om in gesprek te bly met mekaar en met ander, as deel van die kerk van alle eeue, om die dinge te onderskei waarop dit aankom (Fil 1:9-10)
Vyf bewegings na wysheid
Die volgende vyf bewegings komplementeer mekaar:
i. Van debat na dialoog
Dialoog vind plaas wanneer gespreksgenote hulleself met ’n ontvanklike gemoed vir mekaar oopstel en nie vinnig antwoorde probeer gee nie, maar toelaat dat vraag en antwoord as’t ware heen en weer tussen hulle beweeg.
Hierteenoor wil debat dikwels ’n bepaalde onwrikbare posisie handhaaf en word dit maklik ‘n twisgesprek, gemik op ‘n keuse tussen vaste, teenoorstaande standpunte.
Gespreksgenote in ‘n dialoog is daarop ingestel om na mekaar te luister. Egte dialoog maak verhoudinge sterker, laat groei begrip vir mekaar se menswees en verbeter insig oor ‘n saak.
Dialoog kom volop in die Bybel voor. Wanneer God ná die sondeval met die man en vrou praat, bring opregte vrae en antwoorde insig oor dit wat skeefgeloop het (Gen 3). Wanneer die profeet Natan met koning Dawid dialoog voer, vind ‘n ontmaskering plaas (2 Sam 12). Die Psalms en die profete bied voorbeelde van egte gesprekke met indringende vrae en soms verrassende antwoorde tussen God en mens. In die Evangelies hoor ons hoe Jesus en sy dissipels talle gesprekke voer. Jesus is ook deurlopend in gesprek met die godsdiensleiers wat sy motiewe bevraagteken. Sy antwoorde en teenvrae lei tot groter begrip. Paulus se tekste bied uitnemende voorbeelde van indringende dialoog. Met sy gesprekstyl van vrae en antwoorde bring hy verheldering.
Die Gereformeerde teologie beklemtoon God se openbaring as ’n ontmoeting deur taal heen. Die God van die Bybel is ‘n God wat met ons praat en na ons luister.
Die beweging van debat na dialoog berus op
verhoudingsteologie. Dialoog vestig en versterk die verhoudings tussen God en mens en tussen mense onderling.
ii. Van standpunt na perspektief
’n Mens dink gou dit wat jy vanuit jou gesigshoek sien, is die eintlike weergawe van wat jy waarneem. Elke deelnemer aan ‘n gesprek dink egter vanuit ’n eie perspektief. Elkeen neem waar vanuit ’n bepaalde gesigspunt. Niemand se perspektief is volledig nie. ‘n Perspektief mag verander.
Wanneer ‘n gespreksgenoot sy of haar eie perspektief absoluut maak en daarmee teenoor die ander stelling inneem, breek dit eensgesindheid en bring dit verdeling. Wanneer gespreksgenote egter mekaar se reg om ’n ander mening oor dieselfde saak te hê, erken, word die speelveld vir dialoog gelyk en word konstruktiewe gesprek moontlik.
Om met die werklikheid van verskillende perspektiewe rekening te hou, beteken nié dat alles relatief en enigiets aanvaarbaar is nie. Dit beteken wel dat ons konstruktief soek na ’n beter waarnemersposisie. Ons wil die probleem of uitdaging beter sien. Daarom verwelkom ons verskillende perspektiewe wat mekaar aanvul en verryk.
Die waarde van die kerkverband is onder andere juis dat dit struktuur skep vir gemeentes om mekaar te help om blinde kolle raak te sien en ‘n getrouer perspektief te bereik.
Die term “sien” kom meer as 1000 keer in die Bybel voor. Die konsepte van “kyk”, “sien” en “oog”, met soms verrassende verwysings na perspektief, kom in feitlik elke boek in die Bybel voor. In Eksodus 23:8 hoor ons: “Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat sien blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop”. Jesaja 42:18-20 lui: “Luister, dowes, kyk, blindes, dat julle kan sien. In Lukas 6:41-42 lees ons: “Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?”. Volgens Johannes 9:39 sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ‘n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.” Paulus skryf in Ef 1:18: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat God vir die gelowiges bestem het…”.
iii. Van kompromie na konsensus
Wanneer mense met mekaar gesprek voer en van dít wat hulle met mekaar deel, bewus word, begin konsensus ontwikkel. Goeie gesprek, waarin gepraat én geluister word, bring gewoonlik verskillende opsies oor ‘n saak op die tafel. Waar die groep hierdie moontlikhede in balans tot mekaar erken, kan dit as die konsensus vir hiérdie tyd en omstandighede aanvaar word.
Konsensus is altyd voorlopig. Dit is altyd plaaslike konsensus, onder hierdie omstandighede, vir die huidige, met die lig waaroor ons tans beskik. Dit is nie ‘n sekerheid wat vir altyd geld nie. Konsensus nooi almal uit om volgens ’n bepaalde oortuiging op te tree, tot tyd en wyl ’n later onderskeidingsgesprek dalk ’n nuwe konsensus na vore bring.
Konsensus is die betekenis wat ‘n groep mense gemeenskaplik vind. Dit is nie ’n onderhandelde skikking nie. Dit kom nie neer op “gee en neem” totdat die meerderheid gelukkig is en reken hulle sal op ’n manier kan saamleef met die uitkoms van die
gesprek sodat almal maar net “aanbeweeg” nie. Dit is ook nie ’n kortstondige uitkoms om tyd te wen vir ‘n bepaalde standpunt wat uiteindelik as die oorwinnaar uit die gesprek wil tree nie. Konsensus is moontlik waar deelnemers aan die gesprek aanvaar daar is ’n verskeidenheid van legitieme perspektiewe.
Paulus sê vir die Korintiërs: “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk” (I Kor 12:13). Hy skryf aan die Filippense: “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe…” (Fil 2:1-2). Die belangrikste rede waarom gelowiges konsensus soek, is omdat hulle een is in Christus.
Konsensus oor komplekse sake is nie vir die gemeente van Christus wensdenkery nie. Dit is eie aan die kerk – en dit is moontlik.
iv. Van finale sekerheid na helderheid
’n Saak word vir ons helder na mate daar meer lig daarop val en verskillende kante daarvan duideliker waargeneem word. Helderheid is die gevolg van langdurige en volgehoue ondersoek en gesprek.
’n Soeke na helderheid voorkom dat ‘n saak vinnig verteken en polarisasie versterk word. Die lense vir waarneming word liewer skoner gemaak om skerper te kan sien wat werklik tersake is.
Helderheid is nie om ‘n finale siening oor ’n saak te bereik nie. Dit is eerder die besef dat hoewel alles nie klaar gedink, gesê en gehoor is nie, dinge vir die huidige wel in ’n duideliker lig gestel kan word.
Groter helderheid is van ouds af wesentlik deel van die wandel met God. Psalm 19:9 lui: “Die gebod van die Here is helder: dit gee insig”, en Spreuke 4:18: “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is”. Petrus beklemtoon die belang van duideliker insig wanneer hy sê hy wou sy lesers “weer helder laat dink deur julle te herinner aan die woorde wat vroeër deur die heilige profete verkondig is…” (2 Pet 3:1). Die lewe in die geloof is vir Paulus ’n groei na volwassenheid en ’n vordering op die uitnemende weg van die liefde. Deur die liefde word die gelowige se oë gaandeweg geopen om die raaiselagtigheid van die lewe al hoe helderder in God se lig te onderskei. Groter helderheid is die gevolg van die werk van die Heilige Gees in die gemeenskap van gelowiges. Paulus skryf in Romeine 12:2: “…laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”.
v. Van eiewysheid na wysheid
Wysheid groei waar die Gees ons denke en gedrag verander. Om wysheid te bekom, is om in jou waarneming, gesindheid, denke en dade al hoe meer aan die beeld van Christus gelykvormig te word.
Volgens Spreuke 1:7 is die beginsel van wysheid die “vrees van die Here”. Om die Here te “vrees” is om deur Hom gefassineer en in verwondering te wees. Om met wysheid te leef is om daarop ingestel te wees om soos Jesus Christus te dink en op te tree.
Dieselfde gesindheid moet in ons wees wat ook in Christus Jesus was (Fil 2:5). Die woord vir gesindheid hou hier verband met die woord “phronesis” of wysheid. Jesus se gesindheid is een van selfontlediging en radikale diensbaarheid. “…Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis” (Fil 2:7-8).
Wysheid in die Bybel is nie dieselfde as praktiese vindingrykheid of “common sense” nie. Dit is nie eiewyse vernuftigheid wat mense met slim woorde wil oortuig en uitkomste wil manipuleer nie. Dit is nie om met argumente en bewyse die posisies wat reeds vooraf ingeneem is te regverdig nie. Dit is ook nie om liewer die vrede te bewaar en te swyg wanneer moeilike vrae gevra moet word nie. Om wys op te tree is iets anders as om die gewilde pad te soek.
Die profeet Miga verwoord die aard van wysheid prakties. Die volk het vrae oor wat Jahweh se wil nou eintlik is. Miga sê vir hulle: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Om die Here te dien, dit is wysheid” (Miga 6:8).
Jakobus sê: “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak” (Jak 3:17-18).
Veral in Ou-Testamentiese tekste sien ons hoe die teenpool van wysheid beskryf word. Dwaasheid is nie verstandelike beperking nie, maar ’n leefwyse van selfgerigtheid en liefdelose gedrag.
Wysheid hang saam met die inwoning van die Heilige Gees. Die Gees oortuig ons van die liefde van die Vader en die genade van die Seun. Die Gees bewerk dit so dat die vrug van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22), nie ‘n teoretiese ideaal bly nie, maar die praktyk word van mense wat in verhouding met mekaar lewe.
Ten slotte
Lewenskeuses is nie altyd eenvoudig nie en Christene stem nie oor alle keuses saam nie. In ʼn tyd van onder andere kunsmatige intelligensie en digitale versnelling, wat keusemoontlikhede al hoe komplekser maak, sal dit toenemend die geval wees.
Gelukkig is ons eenheid nie gewortel in ons eenstemmigheid oor alles nie, maar in ons gedeelde geloof in Jesus Christus ons Here.
Juis omdat ons een in Christus is, hou ons aan praat met mekaar en luister ons na die Woord, na mekaar en na ander stemme. Die belydenis dat Jesus Christus die Here is, verbind ons in ʼn volgehoue, eensgesinde, gesamentlike soeke na God se wil.
- Bron: Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) Algemene Sinode, Oktober 2023
Hoe is de Bijbel betrokken bij het gesprek en de zoektocht naar God’s wil in ons leven? Telkom University