Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boek: Oor wanhoop, aanpassing en ’n reis met genade

Onbeskryflike genade deur Stefaans Coetzee
Uitgewer: Lux Verbi, 2023
Resensent: Maryke Hansen

Stefaans Coetzee maak dit duidelik dat hy nie sy verlede is nie. Buiten die string ander etikette wat hy homself so mildelik toe-eien, wil ek een ding byvoeg: eerlik. Want dít is hy.

Dié vertelling van sy lewe, sy grootwordjare, sy lewe in die tronk en ook daarna, is sonder voorgee en sensasie. Die boek is selfondersoekend en voel plek-plek soos ’n persoonlike joernaal.

Onbeskryflike genade vertel ons van ’n man wat van kleins af aan verskriklike verlies en verwerping moes gewoond raak. Hy probeer sin maak van sy lewe nadat hy op parool vrygelaat is, maar hy kyk ook terug op die omstandighede wat hom gelei het tot waar hy op Oukersdag 1996 die Worcester-bomplanter word – die moeilikste en seerste titel om af te skud. Sy pa is ’n alkoholis en sy ma verlaat hom en sy sussies toe hy ses jaar oud is. Hierdie seuntjie se enigste droom is aanvaarding, liefde en om tuis te voel êrens, by enigiemand.

Lees ook: Stefaans Coetzee het eers bomme geplant, nou plant hy groente

Hy skryf oor sy gevoelens van wanhoop, depressie, die verskriklike aanpassings binne en buite die tronkmure en die vrese wat hy het vir die land en sy kinders. Meer nog vra Coetzee baie moeilike vrae oor pa-wees, kwaad-wees, skuldig-wees en uiteindelik, vergifnis.

Die titel van die boek was vir my misleidend. ’n Mens sou dink dat ’n boek met so ’n titel die verhaal sal wees van iemand wat onbeskryflike genade omarm en aanvaar, maar dit is baie duidelik dat Coetzee nog op reis is om op ’n plek te kom waar hy werklik kan leef binne hierdie onbeskryflike genade. Sy raad aan ander is om sagter te wees op jouself, en dit is ook my wens vir hom.

Maryke Hansen is ’n projekkoördineerder by Bybel-Media.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top