Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Een van die dinge wat sy onderwyserpa hom geleer het, was om te bid, vertel oud-weermaghoof generaal Georg Meiring. Foto's: Helene Meissenheimer

‘Bid werk … as ek nie meer weet nie, is dit al wat werk’ – oud-weermaghoof praat oor kerk, geloof en ’n laatnagoproep in 1994


Oud-weermaghoof generaal Georg Meiring het verlede jaar na bykans 30 jaar uitgetree as die leierouderling van die NG Gemeente Kameeldrift, ’n makrogemeente in die noordooste van Pretoria. Die man, wat in 1994 die “absoluut ondenkbaar onmoontlike” taak gehad het om ’n nuwe weermag te probeer opbou, het met Kerkbode gesels oor geloof, kerk en ’n kort maar belangrike laatnagoproep …

Hy is elke Donderdagoggend die eerste een wat opdaag om saam met ’n groepie manne van sy gemeente ontbyt te eet, te gesels en bid. Dan moet hy sorg dat die kaggel al brand vir ‘Oom Georg’, vertel Johan Botha, die nuwe eienaar van Cafe Kremetart, die restaurant en geskenkwinkel van die NG Gemeente Kameeldrift waar hierdie weeklikse ontmoeting gebeur in ’n rustige boomryke woonbuurt in die noordooste van Pretoria.

’n Lang skraal man met yl wit hare en netjiese snor sit reeds en wag toe Kerkbode na ’n bietjie verdwaal in dieselfde restaurant sy hand skud. “Ek skuif nie maklik nie oor my been,” groet die 83-jarige generaal Georg Meiring (84 geword op 18 Oktober) en beduie na sy kierie langs hom.

Geborg

Hy het verlede jaar na bykans 30 jaar uitgetree as die leierouderling van hierdie makrogemeente. Deel van sy pligte was om kerkvergaderings te lei waar hy goedig spot hy niemand se nonsens gevat het nie. ’n Mens verwag ook seker niks minder nie van iemand wat vele bevelsposte beklee het insluitend dié van laaste bevelvoerder van die “ou wit weermag” en daarna, op versoek van oud-president Nelson Mandela, ook die eerste hoof geword het van die “nuwe Suid-Afrika” se weermag na 1994.

Op die plat langwerpige tafel voor hom is sy outobiografie, Soldaat en mens, wat hy self in 2020 uitgegee het asook sy Bybel met langsaan ’n skinkbord met gevulde pitabroodjies wat Botha aangedra het, toegemaak onder ’n servet.

Ons gesels begin sommer dadelik by 1994 toe hy in sy eie woorde die “absoluut ondenkbaar onmoontlike” taak gehad het om ’n nuwe weermag te probeer opbou uit soldate en vegters waarvan sommige nog kort tevore mekaar “vyand” genoem het. Dit was ’n uiters gespanne tyd in Suid-Afrika. Daar was selfs vrese dat ’n burgeroorlog kon uitbreek. ’n Tydperk wat “almost superhuman demands” aan enigeen in ’n leierskapposisie sou stel, skryf prof Abel Esterhuyse in sy resensie van Meiring se biografie vir ’n krygskunde-vaktydskrif* in 2021.

“Bid!” antwoord Meiring dadelik op die vraag wat hom destyds gehelp het om moed en koers te hou. “Bid!” herhaal die Vrystaatse boerseun oor wie Esterhuyse skryf sy “integriteit en koelkop professionaliteit … as weermaghoof in dié moeilike tyd het ’n belangrike bydrae gelewer om die oorgangsproses te stabilseer.”

‘Dit is maar ’n vasbytstorie’

Meiring meen sy grootwordjare op ’n plaas in die omgewing van Ladybrand het ’n vormende invloed gehad op sy uitkyk op beide leierskap en geloof.

Lees ook: Jan Lubbe skryf: Die ware kerk in wording: Een, heilig, katoliek

Geborg

Hy vertel sy pa was skoolhoof by ’n klein plaasskooltjie. Die jonger Meiring het dus dikwels op die plaas moes leiding neem wanneer sy pa by die skool moes wees. Hy sê hierdie ervaring het hom later in die weermag baie gehelp. Een van die dinge wat hy op die plaas en tydens die grensoorlog geleer het is dat hy meen wit en swartmense verskillend oor dinge kan dink en reageer. Daarom meen hy ’n onderlinge verstaan van mekaar is voortdurend belangrik. “Dit is maar ’n vasbytstorie,” sê hy.

‘Om te bid het my altyd gehelp’

Nog iets wat sy pa hom geleer het, was om te bid. Meiring onthou sy pa se woorde aan hom was “as jy ’n ding nie kan doen nie, kan jy sommer so ’n skietgebedjie opsê”. Daar is mense wat sê party keer werk dit nie, maar hy sê “vir my het dit altyd gehelp”.

Om dit te illustreer, vertel hy ’n storie uit sy tyd as weermaghoof in 1994. Generaal Constant Viljoen, leier van die Vryheidsfront, wou nie aan die land se eerste demokratiese verkiesing deelneem nie. Meiring onthou Viljoen het gedreig om saam met wyle Mangosuthu Buthelezi van die Inkatha Vryheidsparty ’n staatsgreep uit te voer. Spanningsvolle tye vir hom as hoof van die weermag en die hele land. Meiring vertel hy het die grootste respek gehad vir Viljoen en wou nie teen hom baklei nie.

Toe een aand laat bel Viljoen hom. Dit is ’n vinnige oproep. Al wat Viljoen glo gesê het na hulle gegroet het was “hoor hier, ek wil net vir jou sê ek en Buthelezi het besluit ons gaan aan die verkiesing deelneem. Totsiens”. Toe sit hy die foon neer. Meiring vertel hy het dadelik sy kapelaan gebel met ’n ewe kort boodskap, “bid werk” en ook dadelik gegroet en afgelui.

Die herinnering laat hom eers lag voor hy herhaal: “Bid werk … as ek nie meer weet nie is dit al wat werk”.

By hierdie gemeente, waar hy en sy vrou, Änchen, nou al soveel jare is, het kerk lekker geword.

‘Dit is nie kerk nie, dit is ’n lekker plek’

Geborg

Hy kan ook onthou hoe hy langs die grens tydens die bosoorlog verse uit van die Psalms gebid het, maar oor kerk het hy teenstrydige gevoelens gehad. As kind was dit ’n plek waar jy nie mag lag nie soos hy wat as seuntjie pak gekry het omdat hy gedink het dis snaaks toe sy oupa tydens die erediens ’n vlieg op sy voorkop doodgeklap het.

Na hy met ’n meestergraad in Fisika agter sy naam besluit het op ’n loopbaan in die weermag, was hy vir ’n ruk in Engeland vir verdere opleiding. Hier het kerk vir hom iets gebied om “aan vas te hou”.

By hierdie gemeente, waar hy en sy vrou, Änchen, nou al soveel jare is, het kerk lekker geword. Twee van hulle vyf kinders woon oorsee, maar hulle twee is gelukkig hier, sê hy. Hy geniet veral die +50-mannegroep waarvan hy vermoed hy by verre die oudste lid is. Soos hy nou die dag vir twee van hulle gemeente se predikante glo gesê het, hy sal nooit uit die gemeente wil weggaan nie, want dit is “nie kerk nie, dit is ’n lekker plek”.

*Scientia Militaria: South African Journal of Military Studies, Vol 49, Nr 1, 2021.


Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand