Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Jan Lubbe skryf: Die ware kerk in wording: Een, heilig, katoliek

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Toe Guido de Bres in 1561 – nog nie veertig jaar oud nie – homself en sy geloofsgenote teenoor die Spaanse regent Philip II moes verduidelik, het hy onder andere die vergrootglas oor daardie aangrypende en troosryke frase uit die Geloofsbelydenis van Nicea gehou: Una sancta catholica. “Ons glo en bely ’n enige, katolieke of algemene kerk, ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag, in sy bloed gewas, geheilig en verseël deur die Heilige Gees” (Artikel 27, Nederlandse Geloofsbelydenis). En, omdat in Doornik self, waar sy gemeente tuis was, en in die res van die Belgiese Nederlande ’n stryd om lewe en dood gewoed het en Europa sedert 1521 in branding staan, moes De Bres duidelik maak wat hy met “waarlik glo” en “ware kerk” bedoel. Want sy stelling daaroor was in sterk taal: “Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ’n versameling is van hulle wat verlos word, en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand … in selftevredenheid hom van hierdie vergadering afsydig mag hou nie” (Art 28, NGB). Extra ecclesia nulla salus. Buite die kerk geen saligheid, bely De Bres.

Hierdie “ware kerk” is nie ’n plek waarby ek aangekom het nie, maar ’n weg waarop ek dankbaar én verlangend gaan, skryf ds Jan Lubbe.

LEES OOK: Teoloë kry danksy sentrum ná 21 jaar steeds rigting en moed by Beyers Naudé

Tereg sou gevra word: Watter kerk? Rome, waar bely is ubi papa ibi ecclesia – waar die Pous is, dáár is die (enigste ware) kerk? Of hierdie Protestantse vlugtelinggemeentes in Londen, Straatsburg en Doornik? Of die radikale Anabaptiste aan die linkerkant, gedryf deur hulle visioene van ’n nuwe Jerusalem en hulle potloodtoets van wie waarlik wedergebore Christene is en wie nie?

Geborg

De Bres vind sy taal uit die hart van die Reformatoriese tradisie. Vir Martin Luther was daar geen saligheid buite hierdie vergadering van gelowiges nie, want vergifnis van sonde, ’n vrygemaakte lewe, hoop en ja, Christus sélf, vind jy bínne dié ecclesia. In sy soeke na ’n genadige God, het Luther hom na dié “een liggaam en een Gees, een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal” gewend (Efes 4:4-6). Dáár klink en leef die evangelie, nie in ’n uitwendige instelling, bepaalde gebou, plek of persoon, regiment of wet opgesluit nie! Heinrich Bullinger noem dié “gemeente van geheiligdes” ’n geestelike werklikheid, verborge vir die menslike oog, bekend aan God alleen en tóg kom dit tot uitdrukking in ’n aardse gestalte, soos wat die voorhof van die tempel verbind was en gelei het na die heilige. De Bres sou hom by Johannes Calvyn aansluit, wat in die laaste deel van sy Institusie (1559) skryf dat hierdie extra ecclesia nulla salus op die “onsigbare kerk” dui, die liggaam van Christus, die volle getal verkorenes en wat óók in ’n sigbare gemeente tuiskom, soos by hulle moeder.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Maartje en Zander van der Westhuizen: twee besige mense, vol positiewe energie en drome

Dit is teen hierdie agtergrond dat De Bres sy gemeente én die Spaanse regent wou help onderskei oor waar ons dan ’n genadige God en sy “heilige vergadering van hulle wat verlos word”, sou kon vind. Naamlik: Daar waar die “suiwer prediking van die evangelie, die suiwer bediening van die sakramente en die kerklike tug” leef (Art 29, NGB). Maar daar is ’n volgorde, het De Bres by Calvyn geleer (en Calvyn weer by Bucer!): In die hart van die Reformasie gaan dit om geloof in Christus, wat geskenk word onder die geklank van die evangelie en wat verseël en gevoed word deur die sakramente van doop en nagmaal. In die liturgie dus, in die erediens! Wat gebeur op ’n Sondag dáár? In die teenwoordigheid van die drie-enige God? In die gees van gebed? Want dáár bedien Christus die genade van God aan ’n ieder en elk wat honger of dors is. Dáár en dán is Hy in die midde van twee of drie, die woorde van Jesus toe Hy met sy dissipels gepraat het oor die omsien na mekaar, oor die ophelp van een wat geval het, oor die nadertrek van hulle wat die weg kwytgeraak het (Matt 18:15-20).

Wat ons die Christelike “tug” noem, behoort tot die welwese van die kerk – aldus Calvyn – maar tot die wese van hierdie “heilige vergadering” behoort eerstens Woordverkondiging en sakramentsbediening, eenvoudig en opreg, met fyn aanvoeling, goed voorberei. Hulle wat op ’n Sondag daar byeenkom en waarvan Gód alleen weet wie hulle is en wat in hulle hart leef. Daarom is die bediening van Woord en sakrament en die nadertrek van mekaar na die Lig – die “kenmerke van hierdie heilige vergadering” – altyd pastoraal, medisinaal, nie juridies nie. Selfs in die lees van en luister na die Wet klink die evangelie op!

LEES OOK: Kerke wil graag ’n positiewe bydra maak tot die algemene verkiesing in 2024

En dáár lê die “maklike” onderskeid tussen die “ware” en die “valse kerk”, skryf Guido de Bres. Jy sien dit in hoe mense met mekaar omgaan; jy hoor dit in hoe hulle met mekaar praat in daardie “heilige vergadering”. Daar is nie ’n “selftevredenheid” nie, maar selfondersoek: Leef die geloof in Christus in mý hart, het ek God en my naaste lief, streef ek daagliks na geregtigheid, stry ek teen my eie sondige geneigdhede en vlug ek van versoeking omdat daar steeds – “al die dae van my lewe” (!) – “groot swakheid” in my ís (Art 29, NGB)? Hierdie “ware kerk” is nie ’n plek waarby ek aangekom het nie, maar ’n weg waarop ek dankbaar én verlangend gaan. Hierdie “ware kerk” is altyd en oral in wording, meer en meer na die gestalte van Christus. Semper reformanda. Geroep om te word wie ons is; gelei na wie ons gaan wees. Hier, tussen Hervormingsondag en Advent in die jaar van ons Heer 2023.

  • Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein en moderator van die NG Kerk.

4 thoughts on “Jan Lubbe skryf: Die ware kerk in wording: Een, heilig, katoliek”

  1. Woordbedienaars lei die kudde na selfondersoek – “[l]eef die geloof in Christus in mý hart, het ek God en my naaste lief, streef ek daagliks na geregtigheid, stry ek teen my eie sondige geneigdhede en vlug ek van versoeking [1 Kor 6:9-11, Gal 5:19-21, Heb 4:12-13]” – deur die bediening van die Woord, d.w.s. die “suiwer prediking van die evangelie [Rom 3:21-26, 1 Joh 4:9-10, 2 Tim 3:16-17], die suiwer bediening van die sakramente en die kerklike tug”.

    Mag kerk-eenheid werklik meer sigbaar word (dis ook my hoop), maar kerk-eenheid nie bloot vir die doel tot kerk-eenheid nie (dikwels sonder Waarheid), maar ‘n kerk wat God lief het in gehoorsaamheid (Joh 14:23-26).

  2. Dankie vir die verduideliking, ds. Lubbe. Ek bid dat ons, as Christus se volgelinge, ons sal hou by die verkondiging van Sy Woord en om mekaar in liefde te dien.

  3. Dankie vir ‘n uitsekende stuk. Maar ai tog wanneer gaan ons leer: Hy is nie Moderator van die NG Kerk nie! Hy was Moderator(Voorsitter) van ‘n vergadering (Algemene Sinode).

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand