Die 2024-verkiesing is die belangrikste verkiesing sedert die totstandkoming van ons nuwe grondwetlike bedeling. Hoe kan die NG Kerk ’n positiewe bydrae lewer? vra Gustav Claassen.
Met die dertigjarige viering van ons nuwe grondwetlike bedeling wys akademici, politici, joernaliste en leiers van die burgerlike samelewing telkens op toenemende politieke, maatskaplike en ekonomiese uitdagings waarmee Suid-Afrika gekonfronteer word.
Leiers oor die breë korporatiewe sektor waarsku tans, in sterk gelade taal, oor wat in die land kan uitspeel indien drastiese hervormings nie spoedig uitgevoer sou word nie.
Toenemende onstabiliteit en geweld as gevolg van nie-volhoubare dienslewering (water, elektrisiteit ens) is kernprobleme van die huidige bestel. Internasionale sanksies as gevolg van Suid-Afrika se anti-Westerse sentimente en onoordeelkundige ondersteuning van Rusland in sy oorlog teen die Oekraïne en die hantering van die Israel/Palestynse konflik bring wesenlike risiko’s mee. Dit kan lei tot geweldige verliese aan buitelandse beleggings. Dit bring byvoorbeeld die Agoa-ooreenkoms in die gedrang, en gevolglik kan dit beteken dat duisende mense hulle werk verloor. ’n Onbeheerde eskalerende skuldlas met ’n fiskale afgrond wat geantisipeer word, word deur talle ekonome, beleggers en finanskenners uitgewys.
Suid-Afrika kom seker te staan voor sy grootste veranderinge sedert 1994, met groot onsekerhede op die pad vorentoe wat ons uitdaag. Die vraag is hoe dié komende verkiesing die land ten goede kan verander of nie. Dit maak die 2024-verkiesing die belangrikste verkiesing sedert die totstandkoming van ons nuwe grondwetlike bedeling, met groot risiko’s vir veral die regerende ANC.
Die vraag wat die NG Kerk haarself moet afvra, is hoe ons ’n positiewe bydrae tot die verkiesing kan lewer. Tydens die afgelope Algemene Sinode se tafelgesprekke na die verslag van die Taakspan Publieke Getuienis is die vraag by talle van die tafels geopper.
Verteenwoordigers van die NG Kerk was die afgelope tyd by heelwat gesprekke, saam met ander burgerlike organisasies, betrokke oor hulle rol rondom die verkiesing van 2024.
Dit is baie duidelik dat kerke ’n baie belangrike rol kan en moet speel sonder om by partypolitiek betrokke te raak. Die aangewese wyse om ’n groot impak op die verkiesing te maak is deur kiesersopleiding. Die kerk is besonders goed toegerus om hier ’n groot verskil te maak en het in die verlede reeds die rol gespeel.
Tydens ’n vergadering van die National Church Leaders’ Consultation (NCLC) op 1-2 November, wat deur die Konrad Adenauer Stigting moontlik gemaak is, het kerkleiers oor die breë spektrum kerklike betrokkenheid by die verkiesing bespreek en bepleit. Biskop dr Sithembele Sipuka, president van die Suid-Afrikaanse Katolieke Biskopperaad het as voorsitter opgetree. ’n Verklaring na die vergadering het gewys op die belangrikheid van deelname deur kerke by die 2024-verkiesing. Kerke word opgeroep tot deelname en ondersteuning.
Die kerklike verteenwoordigers het hulle besorgdheid uitgespreek oor die groot gros, en veral jongmense tussen 18 en 32 jaar, wat nie as kiesers geregistreer is en van voorneme is om nie aan die verkiesing deel te neem nie. Daar word bereken dat hierdie groep uit sowat 15 miljoen potensiële kiesers bestaan wat ’n groot verskil kan maak indien vir hulle ’n werkbare politieke alternatief gebied kan word. Die oorgrote meerderheid van hierdie groep is van mening dat hulle stembrief nie ’n verskil aan hulle konteks kan maak nie of dat hulle nie weet vir watter party om te stem nie.
Kerkleiers het derhalwe vrae geformuleer wat deur ’n onsekere kieser gevra kan word om te bepaal watter sou die aangewese party wees om voor te stem ten einde ’n verskil te maak. Hierdie vrae sou kon deel uitmaak van die kiesersopleidingprojek.
Opsommend sou gesê kan word dat kerke oor die wye spektrum oortuig is van deelname aan die verkiesing maar dan op ’n onpartydige wyse. Denominasies word ook ontmoedig om politici ruimte te gee om tydens kerklike byeenkomste op te tree en hulle spesifieke party te promoveer.
Kiesersopleiding is ’n belangrike voertuig om op ’n nie-partypolitieke wyse deel te neem maar tog ’n groot verskil te kan maak aan die uitslag van die verkiesing en beter regering op alle vlakke te verseker.
Die NG Kerk met sy beduidende demografiese teenwoordigheid kan en moet ’n belangrike rol speel in die oploop na die verkiesing. Sy sal die rol nie alleen speel nie maar ekumenies met ander kerklike vennote.
Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.
Kerkleiers oor die wye spektrum moet lidmate aanmoedig om hierdie verkiesing in gebed
tegemoet te gaan.
Geloof moet negatiwiteit vervang en dit kan slegs deur die Genade van Bo gebeur.
Die kerk se taak is so maklik, die dringende aanbeveling sou moet wees, stem vir ‘n party met christelike beginsels. Anti moord ook genoem aborsie, pro lyf en doodstraf, anti sgv, anti sonde, anti godslastering ens ens.