Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Ons het met mekaar in die ruimte van Eksodus 33 gesels. ’n Ryk teks wat plek-plek ongemaklik is omdat dit herinner dat ons nooit ’n finale houvas op God kan kry nie," skryf Lizl-Louise Schoeman. Foto: Kerkbode-argief

Elders gesien: ‘Dit is ’n kerk wat nie terugdeins van moeilike gesprekke nie’ – Lizl-Louise Schoeman se indrukke van die Algemene Sinode

“Ons was benoud dat BOKS-burg dalk onthou sal word vir al die verkeerde redes …, maar vandag kan ek met verligting en dankbaarheid ’n ander storie vertel,” skryf ds Lizl-Louise Schoeman oor haar indrukke van die Algemene Sinode van Oktober 2023.

Haar skrywe as assessor van die Noordelike Sinode het verskyn in die laaste twee uitgawes van hierdie streeksinode se gereelde nuusbrief, Verskil. In die nuutste uitgawe van 3 November is daar ook ’n video waarin sy vertel hoe sy hierdie NG Kerk saamtrek beleef het (sien hieronder).

 

Lees hier ’n verkorte weergawe van haar skrywe: 

Voordat ons by die afloop kom, moet ek dalk eers iets oor die aanloop tot die Algemene Sinode sê. Woorde soos “’n Waterskeiding Sinode”, spanning, verdeeldheid en onsekerheid het oral opgeklink. Ons was benoud dat BOKS-burg dalk onthou sou word vir al die verkeerde redes. 

Lees ook: Elders gelees | ‘Ons wil as Gereformeerde kerk bly reformeer’ – Jan Lubbe oor die NG Kerk se pad vorentoe

Vandag kan ek met verligting en dankbaarheid ’n ander storie vertel. Dit is van ’n kerk wat nie wegdeins van moeilike gesprekke nie. Ons praat met mekaar. Ek is veel eerder deel van mense wat dit doen, as van geloofsgemeenskappe wat nie eens die moeilike gesprekke op hulle agendas het nie. 

Ons het met mekaar in die ruimte van Eksodus 33 gesels. ’n Ryk teks wat plek-plek ongemaklik is omdat dit herinner dat ons nooit ’n finale houvas op God kan kry nie. Ons vra om Sy gesig te sien en Hy sê nee, eerder My rug… Hoekom? Omdat dit die manier is om Hom te volg, ’n agterna-loop. 

En dít het die kerk op soveel maniere gedoen die afgelope paar jaar. Gaan kyk gerus na die werk oor INPAS geloofsgemeenskappe, ons missionale roeping, die Jeugnetwerk, Roetemerkers en die Nasionale Rampfondsnetwerk. Dit is van die werk wat ons kan help om op grondvlak ’n groter verskil te maak in ons bedieninge en gemeenskappe. 

Lees ook: Skryf vir ons: Wat het Algemene Sinode 2023 jou geleer?

Ja, daar is bietjie skaafwerk in die volgende termyn. Ons moet sensitief bly oor die manier hoe ons praat. Ons behoort ook na te dink oor die ontwerp van die Algemene Sinode. Kan ons die inkleding só verfyn dat ons met nog meer kan teruggaan na ons Sinodes en gemeentes? 

Met die terugkyk sê ek vandag onomwonde – ek kies steeds die kerk. Baie bewus van die kerk se gebreke en gebrokenheid maar ook bewus van die taaiheid en hoop wat binne ons leef. 

  • Bron: Verskil 3 November 2023 (Uitgawe 35).
  • Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
  • Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top