Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Jan Ackerman (1932 – 2023)


Jan Michael Ackerman is op 11 Oktober 1932 op Elsburg gebore en word groot in die moeilike depressietyd op die spoorweg- en myndorp. In dié tyd leer die gesin om op die Here te vertrou en word wonderlike lewenswaardes in die jong Jan se kindergemoed vasgelê. Hy is gebore met ’n skewe voet. Toe hy slegs agt jaar oud is, sterf sy vader en stuur sy moeder hom na die koshuis van die Hoër Volkskool op Heidelberg in Transvaal, ’n skool met ’n kleurryke tradisie wat vormend op Jan inwerk.

Jan studeer onderwys aan die Onderwyskollege, maar kan weens disleksie nie toegelaat word as onderwyser nie. Na sy BA-graad op Potchefstroom voel hy geroepe vir die evangeliebediening en kry in 1959 toegang tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy die BTh-graad verwerf en aan die einde van 1962 as proponent gelegitimeer word. Hy ontvang vyf beroepe, een is na sy geliefde Heidelberg in Transvaal. Hy is intussen getroud met mej Hilda Smit van Franschhoek. Die Here lei die proponent nie na die bekende Heidelberg nie, maar na die afgesonderde gemeente Askham in die hartjie van die Kalahari waar hy op 23 Maart 1963 bevestig word.

Op 23 April 1965 word hy bevestig in die gemeente Bredasdorp, die mees suidelike gemeente in Afrika. Na slegs agttien maande word hy op 30 Oktober 1966 leraar van die NG Gemeente Vanzylsrus. Hy was ’n praktiese man, iemand wat kon sweis en saam met die boere kon praat en leef. Intussen studeer Hilda teologie met ’n olielamp in die pastorie, ’n merkwaardige mens in wie die Heilige Gees wonderlike dinge doen. Ds Jan aanvaar ’n beroep na die NG Gemeente Griekwastad en ’n dag na hulle afskeid sterf Hilda op 15 Desember 1970 in ’n motorongeluk terwyl die gesin op pad was na Franschhoek. Op die toneel van die ongeluk gooi ds Jan oor haar sy toga waarin sy ook sterf.

Op 23 Januarie 1970 word hy en sy vier kinders, twee dogters en twee seuns, in die gemeente Griekwastad ontvang as eerste bewoners van die nuwe pastorie. Hy trou later met mej Merien Stipp van Robertson, iemand wat weer lag en sorgsaamheid in die pastorie bring. Op 20 Julie 1973 neem hy ’n beroep aan na die gemeente Villiersdorp en word op 15 Julie 1977 leraar van die NG Gemeente Prieska, waar hy ’n gelukkige tyd langs die Grootrivier beleef. Intussen vind die Laingsburgvloed plaas en ’n herderlose gemeente beroep ds Jan Ackerman. Hy word op 23 Mei 1981 in die NG Gemeente Laingsburg ontvang, waar die leraar wat van kleins af beproewings en loutering ken, wonderlike werk verrig in ’n stukkende Laingsburg.

Op 15 Februarie 1985 neem hy ’n beroep aan na die gemeente Riebeeck-Wes, waar hy werk tot met sy emeritaat op 18 April 1993. Hy sterf op 24 Mei 2023 en hy het geglo dat die reënboog van God se beloftes altyd die storms in ons lewe oorspan. ’n Troosdiens deur ds Hannes van Wyk vind op 1 Junie 2023 vanuit die kerkgebou te Kegelberg plaas.

Dr Gerdrie vd Merwe VDM


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.