’n Internasionale afvaardiging met sterk Suid-Afrikaanse verteenwoordiging het tydens Kersfees 2023 op uitnodiging van Palestynse Christene ’n “Pelgrimstog na Betlehem” onderneem en met ’n wye verskeidenheid van geloofsleiers ontmoet wat hulle vir vrede in Gasa beywer. “Ons het soontoe gereis, onseker dat ons (veilig) sal terugkeer,” het spanleier eerw Frank Chikane met hulle veilige terugkeer in Suid-Afrika gesê. Ds Riaan de Villiers, ’n leraar by Groote Kerk in Kaapstad, het saamgereis. Kerkbode het hom uitgevra:
Kerkbode (KB): Gee ’n oorsig van die mense en organisasies wat julle besoek het – watter gesprekke het jou uitgedaag?
Riaan de Villiers (RdV): Ons het gesprekke gevoer met ’n verskeidenheid van senior kerkleiers, lidmate, aktiviste en jeuggroepe vanuit die Grieks-Ortodokse, Katolieke, Armeense, Anglikaanse en Evangelies-Lutherse kerke in Jerusalem en Betlehem. Ons het in Jerusalem ook met verteenwoordigers van die Afro-Palestynse gemeenskap, vrygelate Palestynse politieke gevangenes, ’n imam van die Al Aksa Moskee, Sabeel, Kairos Palestina en menseregteorganisasies ontmoet.
In Tel Aviv het ons ontmoet met twee voormalige Israeliese ambassadeurs na Suid-Afrika, rabbi’s asook familielede van Israeliese gyselaars wat in Gasa aangehou word. Ons het ook ontmoet met die burgemeester van Betlehem, mnr Hanna Hanania wat ook ’n Christen is, soos die munisipale regulasies van die Palestynse Outoriteit in Betlehem voorsiening maak.
Ons het merkwaardige en brawe mense ontmoet wat toegewy is tot die vestiging van ’n samelewing waarin almal met gelykheid en menswaardigheid in vryheid kan saamleef. Elke persoon en organisasie wat ons ontmoet het, betreur die gewelddadige aanvalle van 7 Oktober 2023 en veroordeel die neem van burgerlikes as gyselaars. Die tragiese en gewelddadige aanvalle is egter vir baie nie verrassend nie, en een persoon het genoem dat die enigste verrassing dalk is dat dit nie al vroeër gebeur het nie. Die vrees en afbreek van vertroue tussen Israeli’s en Palestyne, en die woede en lyding van onderdrukking, skep ’n kookpot en ’n situasie wat onhoudbaar is. Die oproep van almal is dat die internasionale gemeenskap die noodkrete moet hoor en Palestyne en Israeli’s moet bystaan om ’n oplossing te vind wat tot ’n einde van die okkupasie en ware vrede sal lei, wat gekenmerk word deur geregtigheid.
Dit was vir my ’n diep betekenisvolle en ook roerende emosionele ervaring waartydens my oë verskeie kere oopgegaan het.
Orals waar ons gekom het is ons met dankbaarheid en liefde ontvang. My ervaring was dat daar opgekyk word na die kerk in Suid-Afrika vir die kerk se prinsipiële posisie ten opsigte van geregtigheid, die nastreef van versoening en die kerk se leidende rol in die stryd teen Apartheid en dat daar ’n verwagting is dat die kerk haar stem weer helder sal laat hoor. Ons is telkemale herinner dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die magte, kragte, sisteme en ideologieë wat ons gevange hou. Hierdie is ’n tyd waarin die kerk hier in Suid-Afrika ook weer besonder goeie onderskeiding en oordeelsvermoë aan die dag moet lê.
KB: Wat het die ervaring jou geleer oor konflik tussen Gasa en Israel wat jy nie geweet het voor jy daarheen gereis het nie?
RdV: Ek het self gesien en ervaar hoe lyk die lewe van Palestyne onder Israeliese onderdrukking en okkupasie en die inperkings en vernedering wat so baie mense daagliks moet ervaar net omdat hulle as deel van ’n ander bevolkingsgroep gebore is. Ek het gesien hoe selfs ek meer vryheid en reg van beweging binne die Palestynse gebiede het as Palestynse mense self wat al vir generasies daar woon. Die diskriminasie is orals sigbaar, van aparte paaie vir Palestyne en Israeli’s, die dubbele standaarde en vernedering wat by militêre kontrolepunte toegepas word en selfs verskillende strafregstelsels wat Palestyne kan onderwerp aan jarelange administratiewe detensie sonder amptelike klagtes en ’n verhoor. Die sistematiese en gewelddadige diefstal van grond en die ontheming van Palestyne deur aggresiewe en militante Israelisetlaars is ondraaglik. Ek kan verstaan waarom Palestyne weerstand en verset bied hierteen en waarom die konflik sal voortduur totdat die Palestyne se reg tot selfbeskikking erken en hulle vryheid bekom word. Daar word voortdurend klem gelê op Israel se reg tot selfverdediging, maar wat van die Palestyne se reg tot selfverdediging teen hierdie vergrype teen hulle?
KB: Die afvaardiging na Betlehem het die doel beskryf as ’n “ministry of presence” … hoe verstaan jy daardie konsep en wat in jou bediening in SA het jou voorberei op van die uitdagings wat julle daar teëgekom het?
RdV: Dit was vir my belangrik om veral langs ons broers en susters van die Palestynse kerk te gaan staan in hierdie tyd en te sê ons hoor julle uitroep vir ondersteuning en vryheid. Die Bybel is duidelik daaroor dat wanneer een lid van die liggaam ly, dan ly die hele liggaam. Palestynse Christene roep al vir jare uit en voel vergeet en verlaat deur die breër kerk. Daar is baie propaganda, politiek, sensuur en ideologieë wat ons nuus en gesprekke vul. Die Palestynse kerk sê reguit, ons wat hier woon en leef ervaar ’n aanslag in die vorm van etniese suiwering, en nou in Gasa ’n volksmoord. Gaan ons na hulle luister, of word hulle stem verdoof terwyl ons verval in die politieke geraas rondom ons?
Komende uit die NG Kerk wat self vir baie jare in diens van ’n koloniale bestel gestaan het, en self op ’n ideologiese manier die Bybel misbruik het vir politieke doelstellings, besef ek die uiterse gevaar om van die Bybel ’n wapen te maak wat ander onderdruk en van hulle vryheid ontneem. Ons sien ook in Israel en Palestina hoe die ideologie van Sionisme ingespan word om vergrype teen die Palestyne te pleeg. Dit is hartseer dat daar ook so baie Christene in Suid-Afrika en die Weste mislei word om blindelings hierdie Sionistiese ideologie na te volg en hulleself aandadig te maak aan die onreg teen Palestyne deur ongekwalifiseerde Bybelse steun en aanmoediging aan Israel. As kerk wat diep berou het oor die manier hoe ons self bygedra het tot die lyding en trauma van Apartheid in ons eie land, behoort ons juis in hierdie tyd diep te besin en onderskei oor hoe ons, vanuit die lesse wat onsself geleer het, duideliker en helderder kan getuig en weerstand bied teen ideologieë soos Sionisme. In my betrokkenheid en ekumeniese samewerking met die mense en kerke van Distrik 6, en die gedwonge verwydering van mense, is die verbande met ons eie storie en wat in die Heilige Land gebeur helder en duidelik.
KB: Dié oorlog in Gasa is gesneller deur Hamas se aanval op Israel in Oktober en julle het onder meer gepraat met naasbestaandes van Israeli-gyselaars. Wat was die aard van daardie gesprekke?
RdV: Ons het Gyselaarsplein besoek wat oorkant die Israeliese Department van Verdediging is en waar daar uitstallings en aktiwiteite is om die lot van die gyselaars en die hoop op hulle vryheid lewend te hou. Baie mense besoek die plein en daar is musiek, kosstalletjies en ’n voortdurende teenwoordigheid van naasbestaandes van die gyselaars. Op die plein het ons ontmoet met ’n familielid van een van die gyselaars wat vir ons ’n prentjie geskets het van die gebeure op 7 Oktober en hoe dit hulle as familie beïnvloed het en die pogings en samewerking van al die gyselaars se familie om hulle vryheid te bekom, en hoe die hartseer en trauma wat hulle getref het eintlik almal saamgesnoer het as een groot familie.
Ons het by ’n gebou daar naby wat beskryf word as die hoof- operasionele sentrum van die families van gyselaars met diplomate, rabbi’s en familielede gesels oor hulle interaksie en verskille met die Israeliese regering oor Israel se optrede in Gasa. Die familielede is ten gunste van ’n onmiddellike skietstilstand en ’n diplomatiese oplossing vir die vrylating van hulle naasbestaandes. Hulle plaas druk op die regering om alle Palestynse gevangenes vry te laat in ruil vir die vrylating van die gyselaars wat deur Hamas aangehou word. Ons gesprekke met die rabbi’s het by my vrae laat ontstaan of die gemiddelde Israeliese burger werklik bewus is van die omvang en implikasies van die okkupasie en Israeliese regeringsbeleid in die Palestynse territoriale gebiede. ’n Rabbi het genoem dat hy nie die aggressie verstaan nie aangesien hy gereeld in vakansies humanitêre werk onder Palestyne gaan doen. Dit het my laat dink aan ’n opmerking tydens een van ons gesprekke in Jerusalem: “Ons vra nie vir humanitêre hulp nie, ons vra vryheid om onsself te kan help.”
KB: Betlehem is maar ’n paar kilometer van Jerusalem af, maar deur ’n grenspos … beskryf daardie deurgang en hoe jy die ervaring beleef het.
RdV: Betlehem en Oos-Jerusalem is geleë aan die Wesoewer en nie deel van Israliese grondgebied nie. Die afstand tussen Betlehem en Jerusalem is 10 km. In Betlehem bly baie mense wat al vir baie jare nie die nodige permitte kan kry om hierdie afstand af te lê om selfs net by familie te gaan kuier nie. ’n Oom het ons vertel dat hy al vir 42 jaar nie uit Betlehem na Jerusalem kon reis nie. Een van die ouderlinge by die Lutherse kerk in Betlehem het al vyf van haar broers en susters se begrafnisse in Gasa gemis omdat haar aansoeke vir ’n permit elke keer afgekeur is. Betlehem is heeltemal onder beleg en die in- en uitgange word deur die IDF beheer en word vir ’n uur of twee per dag oopgemaak waartydens mense met die nodige permitte daardeur kan beweeg. Daar is ook aan ons meegedeel dat hierdie vergunning ook dikwels afhangend is van die diskresie of “gevoel” van die betrokke IDF-patrollie aan diens. Ons het Betlehem binnegegaan op die Vrydagaand kort voor Sabbat en omdat ons bus nie die nodige permit gehad het nie, moes ons ons bagasie oor die versperrings dra en inloop onder die toesig van swaargewapende IDF-soldate. Gedurende hierdie proses het ons gesien hoe ’n Palestynse man die soldate nader vir toestemming om Betlehem te verlaat met sy siek pa en hy is aggressief met die geweer beduie om terug te gaan. Ons is aan die ander kant deur Palestynse Christene ontvang en wat my getref het, is die opmerking: “Sabbat vir hulle is hel vir ons”.
KB: As jy ’n enkele interaksie (tydens die reis) moet uitsonder, wat jou sal bybly, wat sal dit wees?
RdV: Daar is baie, maar as ek een hier moet noem was dit die geleentheid waartydens ons met ’n vrygelate Palestynse gevangene gepraat het. Hy was 17 jaar oud toe hy in hegtenis geneem is vir ’n klip wat hy skynbaar gegooi het, alhoewel hy op daardie stadium by die huis was. Hy is vir vyf jaar aangehou in administratiewe detensie, sonder dat hy formeel skuldig bevind is en waartydens baie basiese regte ontneem word. Die gebruik is dat daar van hierdie Palestynse gevangenes se families verwag word om groot boetes te betaal by hulle vrylating. Hierdie boetes is veronderstel om die koste van hulle gevangenskap te dek en om dit moontlik te maak word fondse deur die families gewerf vir die doel. Toe hierdie jongman vrygelaat is het die owerhede bevind dat van die geld gekom het van ’n organisasie wat deur hulle as “terreurorganisasie” geïdentifiseer is, en die jongman is weer in hegtenis geneem en uiteindelik na altesaam 10 jaar vrygelaat. Die verhale van marteling en mishandeling in die Israeliese tronke was oorweldigend, en vir baie van ons kerkleiers in die delegasie was dit ’n diep pynvolle en emosionele ervaring, wat herinner het aan die soortgelyke geweld en trauma wat hulle self ervaar het gedurende Apartheid. Ek is gevra om die gesprek af te sluit met gebed en ons het almal hande vasgehou en ’n oomblik in stilte gestaan om net die lyding, emosies en pyn voor God en mekaar te erken en daarna het ons uitgeroep vir verlossing en herstel. Daar is ongeveer 8 000 Palestynse politieke gevangenes in Israeliese tronke waarvan ongeveer 3 000 sonder verhoor aangehou word. Hulle word almal beskou as Palestynse gyselaars wat deur Israel aangehou word.