Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Maak aspris tyd vir saam stilstaan


Die jaar van 2024 is teen dié tyd volledig aan die gang. Oral waar ek kom word een ding oor en oor herhaal. Dit lyk my die algemene gevoel onder die mense hier om my is dat 2024 teen ’n geweldige tempo begin het. Ek maak kort-kort die grappie (dis die lekker ding van verskillende mense besoek, jy kan jou grappies herhaal) dat ek al besig is met vanjaar se Kersfeespreek, so vinnig beweeg dinge.

Maar te midde van hierdie gejaag, hierdie tempo wat niemand verwag het (of dalk nie na die vakansie gesoek het) nie is daar een ding wat vir my uitstaan. Sondag na Sondag is die kerk vol of naby daaraan. Verlede Sondag was daar bitter min oop stoele. Dit vang my eintlik so ’n bietjie onkant, want dit sê vir my dat daar nog baie mense is wat ’n honger het vir die evangelie, ’n dors het vir die Here. Wat soekend bly na God.

Lees ook: Kerk wat werk: NG Gemeente Tygerpoort in Pretoria skep werk vir 50 mense

Geborg

Dit druis in teen wat die wêreld daar buite sê.

Dit wys dat die kerk nog vir mense belangrik is. Dat mense nog aan daardie gemeenskap van gelowiges wil behoort, en hulle kinders daarvan leer. Jy sien dat drie, soms vier generasies van dieselfde familie kom om saam te aanbid, om saam tyd met die Here en ander gelowiges te spandeer.

Dit is lekker om te sien, en om te kan deel in soveel mense se toewyding aan die Here en die kerk. Die laaste paar Sondae, en spesifiek verlede Sondag, het vir my die bevestiging gegee dat ons as kerk wel op die regte plek is. Dat ons wel met die Here besig is en dat sy seën regtig nog oor ons is, en sal wees. Die vers “Daar waar twee of meer …” het nou vir my ’n ander betekenis gekry.

My hoop is dat ons as groter kerk iets daarvan in die jaar in kan dra … met al sy stampe en stote, met al die opdraendes, afdraendes en dinge wat reg en verkeerd loop.

Lees ook: Johan van der Merwe: ’n Jaar van herorganisasie vir die NG Kerk?

Dat ons in hierdie jaar wat 2024 is, al het dit met ’n verskriklike tempo begin, tog sal aanhou tyd maak, aspris tyd maak, om saam met ons familie in Christus te gaan stil word by die voete van die Here. Vir sommiges lyk dit dalk na onsin, en as ’n mens kyk na alles wat in die wêreld aan die gebeur is, kan ons ook dalk wil begin wonder of dit onsin is om kerk toe te gaan. Maar ek sê nou vir julle, die kerk het juis nou ’n geweldige taak op hande. Saam as gelowiges, as gemeentes, as geloofsgemeenskappe kan, en sal ons die Lig van God moet laat skyn. Deur aspris tyd te maak om te kom stilstaan.

  • Ds Estian Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie. Hy skryf graag stories oor die mense van die Noord-Kaap. Sy e-posadres is: estian@ngkharmonie.co.za

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.