Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Spanning binne kerkverband: Kerkorde moenie stok wees, maar herderstaf

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Daar is net een uitweg en dit is om alle partye betrokke rondom ’n tafel te kry en alles moontlik te doen om die al hoe meer verbrokkelende verhouding binne die NG Kerk te probeer red, skryf Johann Ernst.

 

Die Afrikaanse uitdrukking om die klok te hoor lui, maar nie te weet waar die bel hang nie, is van toepassings wanneer daar gekyk word na die NG kerkverband se nuutste magsmiddel, naamlik die regsmenings wat ingewin is en die Algemene Taakspan Regte (ATR) se advies aan die hand daarvan. Of dalk beter: die duim het op die verkeerde plek gedruk; die hen het haar eier buite die nes gelê.

LEES OOK: NG Kerk hoef stééds nie te skeur, sê Lubbe ná regslui gemeentes se ‘aktes van opskorting’ kap en as ‘vreemd aan die Kerkorde’ bestempel

Dit is ’n basiese lewensreël dat daar eers sorgvuldig na ’n probleem gekyk moet word, alvorens daar na oplossings gesoek word. En laaste van alles word daar na die oorblywende uitkoms gegryp – nie by voorbaat nie. Die kerkverband en haar regslui weet nie wat “opskorting van die kerkverband” is nie en daarom is die regsadvies wat gegee word, van geen waarde nie.

Geborg

Dié probleem waarvoor die kerkverband te staan gekom het, is ’n verhoudingsprobleem, nie ’n regsprobleem nie. Die huidige kerkleiding word nie vertrou nie, is op hulle eie missie en diegene wat van hulle verskil, word sleg gemaak en uitgewerk. Die eintlike probleem kan verduidelik word: Wanneer daar na die huwelik gekyk word, is daar ’n wet wat reël hoe ’n paar in die huwelik kom en ’n wet wat reël hoe hulle uit die huwelik kan kom. Daar is géén wet wat reël hoe ’n egpaar in die huwelik saamleef nie.

Die geploeter om vanuit die Kerkorde te probeer bewys dat in- of uittrede, wat die kerkverband betref, eintlik regtens onmoontlik is, is om aan die Kerkorde die gesag van ’n wet, gegrond op die kontraktereg soos nou verkeerdelik beweer word, toe te ken. Maar dit is nie waarvoor die Kerkorde opgestel is en gehandhaaf word nie. Die Kerkorde reël die onderlinge verhouding tussen die gewillige en vrywillige vereniging in die kerkverband van gemeentes en sinodes onderling. Dit laat ruimte vir die moontlikheid dat die verband kan verbrokkel, verbreek word en selfs tot niet gaan. Byvoorbeeld, volgens Artikel 36 en 37 van die Kerkorde is verbreking van die kerkverband met ’n gewone meerderheidstem moontlik en handel die artikels slegs oor die samestellende kerke en sinodes, wat selfstandige regspersone is, se eie sake. Dit het met dié van gemeentes nie ’n dooie duit te doen nie. Gemeentes tree toe tot kerkverband en kan gevolglik ook weer uittree. Dit kan selfs met gewone meerderheidstem geskied, omdat die kerkverband nie die identiteit van die gemeente bepaal nie, maar die gemeente die identiteit van die kerkverband. Dit is hier waar die kerkleiding nou die pot heeltemal mis sit. Hulle ken aan die Kerkorde wetlike magte toe waaroor dit nie beskik nie en gebruik dit dan om ongelukkiges binne die bestaande kerklike verhouding die skrik op die lyf te jaag, te viktimiseer en te elimineer.

LEES OOK: ‘Neem tyd en wees versigtig’: Jan Lubbe oor kerkverband en kerkskeuring

Hier kan die kerkverband se metafoor van die ruim huis met die baie kamers nogal van besondere hulp wees. Die ruim huis word deur ’n groot gesin bewoon. In die hoofslaapkamer slaap die wettig getroude man en vrou. Hulle huwelikskontrak reël dat hulle op huweliksvoorwaarde getroud is. Elkeen bly hom- of haarself, al is hulle getroud. Selfs al skei hulle, sal die vrou haar man se van behou! Geen wet reël die huweliksregte tussen hulle nie. Dit geskied by wyse van onderlinge ooreenkoms en behoefte, maar is deurentyd afhanklik daarvan dat die huweliksverhouding in stand gehou moet word. Hulle moet een in sin en strewe wees, daar moet ruimte vir mekaar wees, liefde en trou is waarop die verhouding gebou word, daar is geen ruimte vir ’n ander persoon in die huwelik nie, ens.

 

Nou het dit gebeur dat die man ontrou was teenoor sy vrou en dat hy ’n buite-egtelike verhouding met ’n ander vrou of man aangeknoop het. In ’n ring word by ’n ringsitting nagmaal bedien met ’n vreemde reënboogvlag oor die tafel gedrapeer. Die beswaarde dominee en ouderling kan nie daarin deel nie. By die sinode word locus standi verleen aan ’n buitekerklike aktivistiese groep en hulle siening word in beswaarde afgevaardigdes se kele afgedruk. By die teologiese fakulteit poseer dosente met ’n ander groep se T-hemde en ’n moderator van die algemene sinode laat hulle daarin afneem. By meer as een teologiese opleidingsentrum word profete in amptelike seminare as “queer” voorgestel. ’n Kerklike dosent ontken die godheid van Jesus en moet daaroor “belyn” word. ’n Moderator van ’n sinode word belaster en by die Menseregtekommissie aangekla omdat hy dit durf waag het om op teologiese gronde te verskil. Besware word by kerkvergaderinge onder die tafel gevee. ’n Leraar verkondig dat God ook die Vader van Moslems is en ’n ander verkondig God die Moeder. Alles glo net randsake. Wat nou gemaak? Wel, die man in die huis kan die buite-egtelike verhouding dadelik verbreek, berou toon en sy vrou kan hom daarvoor vergeef. Dan is die verhouding herstel. Maar sê nou net die verhouding duur voort en hy dring daarop aan dat hulle ruimte vir mekaar moet maak, sodat hy die buite-egtelike verhouding kan voortsit, of dat dit wat gebeur nie so erg is nie. Die Bybel laat in elk geval ruimte vir meer as een vrou. Wat dan? Wel, sy kan hom dadelik skei oor sy egbreuk en owerspel!

Daarvoor gaan sien sy haar prokureur en advokaat en eers dan handel sy met regsadvies. Maar daar is ook ’n ander opsie, en dit is wat die kerkvaders en -moeders met hulle advokate nou mis. Sy kan die dreigende egskeiding uitstel met die biddende verwagting dat haar man sy foute sal agterkom, dat hy sy aandeel aan die verbreking van die huweliksband sal erken, dat hulle hulle saam voor die Here sal verootmoedig, dat hulle mekaar van harte sal vergewe, dat sy na eie besluit die deur na die kamer weer vir haar man sal oopmaak en dat hulle weer veilig en gelukkig langs mekaar in die bed sal slaap.

LEES OOK: Koinonia aan gemeentes: ‘Ons konsulteer al lank met regslui’

Geborg

Is enigiets hiervan te bespeur in die optrede van die kerkverband teenoor die gemeentes wat dit net nie meer kan uithou met die kerkverband se ontrouheid nie? Wanneer daar vir huweliksberading gegaan word, sal die huweliksberader heel aan die begin vra wat die ongelukkige eglied se probleem met die ander is. Dit is wat in die aanhef van die akte van opskorting opgegee word. Dit help nie om in selfregverdiging te sê dat dit nie waar is nie, want vir die gemeentes is dit waar. Dit help nie om uit “hoëre stoele” dominees van hierdie gemeentes te bel en vir hulle te sê hoe teleurgestel hulle is nie. Dit help nie om hierdie gemeentes met verlies van bevoegdheid, pensioen, eiendom en identiteit te probeer afdreig nie. Dit help nie om ampsdraers hieroor van “kerkskeuring” aan te kla nie. Dit help nie om lidmate in hierdie gemeentes teen hulle kerkraad en leraar op te maak en so ’n eie aandeel in die ergerlike sonde van kerkskeuring te neem nie, want dit is presies wat die ATR en ASM van voorneme is om te doen!

Daar is net een uitweg voordat die klok slaan en die egskeiding onafwendbaar word. Dit is om alle partye betrokke rondom ’n tafel te kry en alles moontlik te doen om die al hoe meer verbrokkelende verhouding te probeer red. In plaas daarvan om die Kerkorde as ’n stok te gebruik om ander mee te probeer slaan, moes die kerkleidings liefs die Kerkorde as herderstaf opgeneem het om die NG kerkverband van die tans vir hulle onafwendbare wetlik voorgeskrewe kerkskeuring (egskeiding) weg te lei na waters waar daar rusplek (slaapplek styf langs mekaar) is. Daarvoor gee die Kerkorde wel voorskrifte, maar dit word doodeenvoudig nie gevolg nie. Maar die weiering om op regsgronde (die ATR se ultra vires mantra wat met wêreldse geregshowe te doen het) vir mediasie (huweliksberading) te gaan, gaan die wetgeleerde en -gedrewe NG kerkverband nog baie duur te staan kom. Dit sal die tyd ons leer. Op die weg wat die ASM nou inslaan, gaan daar nog baie trane vloei. Niemand is so stiksiende as hulle wat nie wil sien nie.

Dr Johann Ernst is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode van die NG Kerk.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Spanning binne kerkverband: Kerkorde moenie stok wees, maar herderstaf”

  1. Stem volkome saam. Nog meer verteenwoordigers van gemeentes moet tetugvoering aan hul gemeentes gegee. Mens weet nie waar gemeentes hulself in hierdie warboel bevind nie.

  2. Dawie deWet

    Baie dankie Dr Ernst, vir ‘n uitstekende uiteensetting van die werklike probleme in hierdie saak.
    Ek vind dit ironies dat die ATR diegene wat bande met die kerkverband opskort, beskuldig van kontrakbreuk omdat hulle intererpretasie van die Kerkorde (wat jy baie netjies verkeerd bewys) nie gevolg is nie. Maar die Legitimasie-eed, waarvolgens die verkondiging van die ware leer en die teenspreek van dwaalleer die ononderhandelbare kern is, word geïgnoreer.
    Wie is dus eintlik skuldig aan kontrakbreuk?

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.