Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode. Foto's: Le Roux Schoeman

NG Kerk hoef stééds nie te skeur, sê Lubbe ná regslui gemeentes se ‘aktes van opskorting’ kap en as ‘vreemd aan die Kerkorde’ bestempel


Ernstige meningsverskil binne die NG Kerk hoef steeds nie op kerkskeuring uit te loop nie.

Só sê ds Jan Lubbe te midde van ’n aantal kerkrade wat sedert verlede jaar “aktes van opskorting” uit die kerkverband aan hulle ringe, sinodes en die Algemene Sinode gestuur het.

“Ek is hoopvol,” het die moderator van die Algemene Sinode laat op Woensdag 28 Februarie ná ’n twee-uur-lange bespreking van ’n regsmening oor dié saak gesê.

Geborg

“Ek sal altyd pleit vir, ‘kom ons gee ’n tree terug, neem tyd, praat nog ’n keer,’” het Lubbe by ’n vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) in Benoni gesê.

Die totale aantal opskortings van die kerkverband wat sedert die Algemene Sinode-sitting in Oktober verlede jaar ontvang is, is ’n “ontwikkelende situasie”, volgens Lubbe. “Maar ek dink ons praat van 14 gemeentes en 1 ring … Maar ook onderling is daar verskille.” Die gemeentes is onder meer ongelukkig met die verloop van die 2023 Algemene Sinode. Die NG Kerk het sowat 1 062 gemeentes.

Dr Dewyk Ungerer
Dr Chris van Wyk

“Die advies wat ons gekry het van ons Algemene Taakspan Regte (ATR) sê dat die akte van opskorting eintlik om twee redes nie regskragtig is nie. Een is gegewe die Kerkorde … hierdie akte praat ’n taal en stel standpunte wat buite die Kerkorde lê. Daar is ook gekyk na die gemenereg … En ons advies is dat hierdie aktes van opskorting ook daar nie voldoen nie,” het Lubbe gesê.

Die ATR-verslag noem inleidend dat die begrip “Akte van Opskorting van Kerkverband” vreemd is aan die Kerkorde. Uittrede is wel gemeenregtelik moontlik, luidens die verslag. “Uit die gemene reg is dit duidelik dat ’n besluit van ’n gemeente om uit kerkverband te tree onderhewig is daaraan dat so ’n besluit nie deur ’n kerkraad alleen geneem kan word nie, maar ’n eenparig (sic) besluit van al die lidmate van ’n gemeente moet wees.”

Die “implikasie van die regsadvies” is eintlik ’n beroep, ’n “uitnodiging na daardie kerkrade toe wat sê wag, kom terug, kom ons praat met mekaar.” aldus Lubbe.

Harde en sagte stem

Tydens ’n bespreking van die regsmening, moes die sowat 60 afgevaardigdes van die ASM besin oor die pad vorentoe met dié dokument.

Geborg

Ds Kenneth McKenzie van die NG Kerk in Namibië het gesê daar moet ook ’n “positiewe komponent” wees aan die boodskap wat uitgaan aan gemeentes tesame met die regsmening: “Enige herder het twee stemme, soos Calvyn sê, ’n harde stem om die wolwe weg te jaag en ’n sagte stem om die skape te roep … Nooit maar nooit mag daar van ons gesê word dat ons hand stomp geraak het om uit te reik nie. Ons moet altyd probeer om te ontdek wat goed is (en nie net reg nie),” het McKenzie gesê.

Dr Chris van Wyk van NG Kerk in Oos-Kaapland het daarna gesê hoewel hy meen dat daar nie juis veel positiefs is om te sê nie, die feite bloot oorgedra moet word. “Ek word baie gebel (hieroor) en ek gaan van nou af doodgewoon sê (daar is) drie modelle en julle moet ’n keuse maak. Van Wyk het sy interpretasie van die drie modelle gebied: “Jy kan bedank en ’n eie kerkgenootskap stig. Dit is altyd vir enige iemand waar. Ons sê tweedens, daar is die moontlikheid, dis ’n verskriklike moeilike moontlikheid, moeilike stappe wat jy moet volg, maar daar is Art 32 (van die Kerkorde), jy kan miskien by ’n ander (streek)sinode aansluit as gemeente. En die derde is om net eenvoudig te sê opskorting is onmoontlik en as julle daai roete wil gaan, gaan dit beteken dat almal van die gedoopte baba’s tot by die oudste lidmaat moet instem om uit te gaan … dis die drie maniere. En ek dink nie ons moet dit sugarcoat nie.”

Sommige wou met ontevrede gemeentes in verdere gesprek tree.

“Ek dink ons moenie twee goed deurmekaar maak nie,” het ds Hannes Windell van Hoëveld Sinode gesê. “Ons praat van verhoudings en ons praat oor ’n regskwessie. Die oomblik wanneer jy sê ek skort my kerkverband op, is dit ’n regskwessie. Vir regskwessies moet ons met regsaanbevelings werk. Dit help nie ons probeer regskwessies op verhoudingsmatige wyse hanteer nie.”

Die ATR het die regsmening ingewin omdat kerkleiers wel ’n risiko in die gesig staar, volgens dr Bertus Celliers, ’n kerkregkundige. “Ons soek nie ’n hofsaak nie, maar jy kan in die hof beland … En die hof, wanneer dit kom by kerklike goed, vra heel eerste, het jy jou eie reëls gevolg. En hierdie regsouens (advokate wat deur die ATR genader is) het nou vir ons gesê dis hoe hulle uit hulle hoek ons reëls verstaan,” het Celliers aan afgevaardigdes verduidelik.

(Lees die volledige regsmening onderaan hierdie berig. – Red).

VERSLAG ATR – regsadvies 27 Feb.docx

 

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “NG Kerk hoef stééds nie te skeur, sê Lubbe ná regslui gemeentes se ‘aktes van opskorting’ kap en as ‘vreemd aan die Kerkorde’ bestempel”

  1. Marietjie le Roux

    TROEFKAART VAN DIE MODERAMEN ?
    Die sitting van die NG Kerk Moderamen te Benoni verwys.
    In `n kort video opname met die voorsitter dr. Jan Lubbe noem lg. o.a. een rede waarom die behoudendes “regskragtig” (regstegnies) nie `n voet het om op te staan nie:
    Dat die Kerkorde `n kontraktuele ooreenkoms met gemeentes het.
    As die AS wesenlike sake soos aborsie (sesde gebod), Intergodsdiensaanbidding ( eerste en tweede gebod) seks buite die monogame, heteroseksuele huwelik ( sewende gebod) so gemaklik kan omarm, sou dít ook as kontrakbeuk beskou kan word? (Dit sluit natuurlik ook afwykings van die Nederlandse geloofsbelydenis, Dordtse leereëls, Heidelbergse Kategismus, die legetimasie- en belydeniseed van lidmate in.)
    En nou het die strategie verander – word die wurggreep van die welsprekende ysterhand- in- die fluweelhandskoen met eufemistiese, sinodale terminologie- om die keel van die behoudendes versterk. Word hul met die gemenereg gedreig…..
    As daar nou één rede is wat uitgesonder sal word hoekom die doodsklokke vir die NG Kerk aan`t luie geraak het, sal dit hiérdie dreigement wees.
    Nóú wil die AS in gesprek tree. Dit terwyl tientalle gravamina geÏgnoreer is, stemprosedures op bedenklike wyse by sinodesittings gemanipuleer is en talle versoeke om gesprekke in die verlede afgewys is. Word leraars openlik gewaarsku dat indien hul nie saamspeel nie, hul van hul pensioen, lewensonderhoud en hul gemeentes gestroop sal word.
    Dit is soos die skynbaar gelate, dog gedwonge onderdanigheid van`n vrou aan haar geweldadige man omdat sy finansieël van hom afhanklik is…..
    Die lidmate is onaantasbaar , hul kan en sal gaan waar hulle wil. Dis die leraars wat siel sal moet verkoop aan die hoogste bieër….. of `n ander heenkome moet soek.
    Ek voorsien dat daar spoedig menige kerkgebou beskikbaar gaan wees om omskep te word in tempel en moskee……
    Wat my, as gewone lidmaat betref, is die verlies aan vertroue en respek vir die leierskap van die kerk so intens, dat ek nouliks uitkoms sien.

    Marietjie le Roux
    Fabriekstraat 5
    Parys 9585
    0827708843

  2. In die werksituasie gebeur dit dikwels dat omstandighede tot gevolg het dat dit vir die werkgewer beter is om die kontraktuele bande met ‘n werknemer onmiddellik op te skort, as dit die wens van die werknemer is. Dan is daar nie sprake van penalisering nie.
    In kerklike verband, waar aanvaar kan word dat die liefdesgebod geld, sou verwag kan word dat as die oorgrote meerderheid lidmate eens is met hul kerkraad en die sinodale bande wil verbreek, kom dit op penalisering en beskerming van aardse goedere neer, as aangedring word op 100% aanvaarding.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.