Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Min gepla deur beurtkrag vat ds. Tienie Swanepoel en Gert van der Linde (regs) hulle leesbeurt tydens die onlangse Bybelleesmaraton by NG Gemeente Mareetsane in Noordwes. Foto’s: Verskaf

Elders gesien: Klein Noordwesgemeente lees saam hele Bybel deur

Hierdie Forumbydrae is geskryf en regstreeks deur 'n Kerkbode-blogger opgelaai.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


“Ons moedig alle kerke aan om dit te probeer.” 

So vertel Susan van der Linde vir Kerkbode oor haar ervaring van ’n onlangse Bybelleesmaraton by hulle klein gemeente in Noordwes. Sondag 3 Maart het 27 lidmate van die NG Gemeente Mareetsane begin om elke dag beurte van 30 minute of langer te neem om hardop voor te lees uit ’n grootdruk Bybel wat vir hierdie doel oopgelê het op die nagmaaltafel voor in die kerk. 

’n Leesrooster is opgestel en hulle siersteenkerkgebou was elke dag oop van vyfuur die oggend tot tienuur saans. As Eskom elke aand die ligte om agtuur afsit, is ’n kamplig en ’n ‘spotlight’ aangeskakel en aangelees.

Teen 18:00 op Vrydag 8 Maart, 90 ure se lees later, was alles gelees wat geskryf staan tussen Genesis 1 vers 1 tot by die laaste Amen aan die einde van Openbaring. 

Hulle leraar, ds Tienie Swanepoel en mede-lidmate, oud en jonk, het deelgeneem. Die oudste leser was oom Gerrie Grobler (94) en die 7-jarige Daniel Fick die jongste. 

Gerrie Grobler (94).
Die 7-jarige Daniel Fick en sy ma Louise.
Nita van Eden (82) lees terwyl Susan van der Linde luister.

Susan vertel die idee vir die saamleespoging kom vanuit haar eie behoefte om meer van die Bybel te weet. Sy en haar man Gert lees self so een keer ’n jaar deur die Groot Boek. Dit het haar gevoel in die tyd tussenin vergeet mens so baie. “Hoeveel mense lees nog die Bybel?” het hulle gewonder.

So toe stel hulle twee ’n uitdaging aan hulself om die Bybel in ’n week se tyd deur te lees en nooi hulle gemeente van so 110 lidmate om deel te neem.

Oor die belewenis vertel sy dit was verrykend. “Om in Numeri iets te lees en te onthou wat jy net vroeër die oggend in Genesis gelees het is kosbaar. Die Woord het soveel kleur by gekry.”

  • Susan is deel van die NG Kerk in Noord-Kaapland se sinodale kommissie vir bedieningsondersteuning (SKBO). Sy en haar man Gert is besig met die Bedienaars van die Woordkursus.
  • Gebeur of doen julle iets by jou gemeente wat julle in Kerkbode wil vertel? Ons hoor graag daarvan: e-pos kerkbode@tydskrifte.co.za

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.