Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: ‘Geen verdelingstrategie kan ooit ’n goeie uitkoms hê nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

André Mouton van Otavi skryf: As lidmaat van ’n Namibiese gemeente word ek nou gekonfronteer met ’n hangende skeiding tussen ons en die Algemene Sinode (AS). In my soeke na sin, het ek tot my verbasing agtergekom dat daar in die agtergrond ’n organisasie is wat ’n rol speel hierin. Dit is Kairos Netwerk (KN).

Op die KN-webwerf verduidelik hulle hulle posisie en plan oor hoe hulle die kerk wil tot inkeer bring en daarvan beheer wil oorneem om haar van dwaling te bevry.

Die stellings wat gemaak word is gerig, na my mening, op ’n verdagmaking van die integriteit van die AS en dat hulle die vegters in die trojaanse perd is wat die NG Kerk tot inkeer gaan bring.

Die Fariseërs in die tyd van Jesus het geglo hulle besit die volle kennis van die geskrifte en is deur Jesus aangespreek omdat hulle die geskrifte belangriker geag het as God. Geeneen besit die volle waarheid nie.

LEES OOK: Dankie vir ringe wat nog die evangelie verstaan

Die erkenning deur KN dat probleme net van binne opgelos kan word, is lofwaardig en is die halm waaraan vasgehou moet word. Die aantygings wat deur KN uitgespreek word, kan ook nie onaangespreek gelaat word nie. Dit kan egter net binne ’n raamwerk van wedersydse respek en in afhanklikheid van God plaasvind.

Geen verdelingstrategie kan ooit ’n goeie uitkoms hê nie. Ongelukkig is die enigste plan om vorentoe dinge beter te doen deur saam te worstel en tyd te gebruik. Die beginpunt is om die beginsels te bevestig waaroor daar saamgestem word. Die manier waarop dit gedoen word is ook belangrik, want dikwels word die stryd in die liefdeloosheid van die argumentering verloor.

Die begrip diversiteit is nie van toepassing op kernbeginsels nie. Diversiteit is waar verskillende sondaars (wat ons almal is) wat verlossing ontvang het, binne ’n ruimte wat ons as familie beskou, wat ons nie kon kies nie, maar moet liefhê, worstel met sy eie vertwyfelinge op pad na heiligmaking deur Christus te volg.

Slegs as ons daagliks elkeen ons eie kruis opneem in navolging van Christus sal ons meer toegerus wees om ander te begelei op hulle eie worstelpad na heiligmaking in Christus Jesus.

In wese is die KN-benadering ’n bedreiging van die eenheid van die kerk. Dit is nie in die gees van kerkwees om te baklei nie, maar ons het ’n rol van teregwysing. Dit is belangrik om ’n proses te kies wat ontlont en fokus op die kerngeloofsbeginsels waarvoor die kerk staan (as middelgrond) en vanuit daai waarheid mekaar dan te begelei binne ’n raamwerk van eenheid.

Die Algemene Sinode is die verpersoonliking van die kerk se koinonia. Hierdie forum gee ons die geleentheid om voortdurend ons broederlike liefde en liefde vir God uit te leef. Hierdie voortdurende interaksie hou die kompas van ons wese. As dit in liefdelose kansellasie van andersdenkende lidmate en strukture is, gaan ons gemeenskap tot niet en die kerk gaan in irrelevansie verdwyn. Voortdurende selfondersoek (deur jou eie kruis te dra) in ons soeke na die waarheid is ’n voorwaarde tot ware liefde wat God bo alles stel. (Brief verkort. – Red).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top