Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Danzfuss van Nelspruit-Suid skryf: Teen hierdie tyd weet almal van die groeiende krisis in die NG Kerk rondom dwaalleer wat by verskeie van ons kerkvergaderings ingesypel het. Die groot vraag is: Wat moet ons maak met hierdie “lastige” gemeentes wat nie die NG Kerk wil skeur nie, maar wil reformeer? Wat sal ons doen met hulle wat nie die bande wil breek nie, maar dit wil opskort totdat daar genoegsame tekens van reformasie en bekering is?
LEES OOK: Alle briewe aan Kerkbode
In hierdie gewyde lydenstyd wat ons almal roep tot selfondersoek en verootmoediging, hoor ons twee antwoorde en twee evangelies weerklink: Een is die Paasfeesevangelie van die kruis en opstanding, die kragtige werking van die Heilige Gees en die kerk se boodskap van liefde en eerbied vir die waarheid: “Maak dissipels van alle nasies … leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”. Die ander evangelie wat ons hoor, herinner sterk aan die skare wat hulle ore toegedruk het en die waarheid met geweld probeer onderdruk het deur net te skree “Kruisig hom … kruisig hom …”.
Hoe reageer ringe in hierdie Paasfeestyd op behoudende gemeentes wat uit eerbied vir die waarheid doleer of sekere bande opskort? Ek hoor die week van twee ringe wat presies die teenoorgestelde van mekaar reageer. Een ring volg die patroon van die onlangse dreigbrief teen leraars en gemeentes wat wil opskort. Die leraar word summier geskors en sonder enige inkomste gelaat om sy gesin te versorg, sy bevoegdheid word weggeneem en die ring probeer selfs bestuur van die gemeente oor te neem. (Hierdie besluite gaan daardie ring nog duur te staan kom, want al daardie besluite is natuurlik ’n nulliteit).
LEES OOK: Briewe en skrywes oor die ‘gay-debat’ in die NG Kerk oor die jare
Hierteenoor hoor ons gelukkig hierdie week ook van ’n ander ring wat nog iets van die Paasfeesevangelie verstaan. Toe hulle hoor van een gemeente in hulle ring wat besluit het om weens hulle Skriftuurlike besware teen sinodale besluite, te doleer en om daarom die band met sekere kerkvergaderings wil opskort, toe steek daardie ring ’n hand van liefde en broederskap uit. Hulle verseker daardie gemeente van hulle begrip vir die probleem en onderneem om hulle te ondersteun in hulle soeke na ’n oplossing.
Vir hierdie ring wat met so ’n gesindheid reageer, haal ek my hoed af. Met sulke broeders en susters kan ’n mens nog saam ’n pad loop selfs al is ons nog nie volledig op dieselfde bladsy nie. Kom ons sê dankie dat daar tog ’n paar gemeentes, ringe en sinodes van die NG Kerk is wat nog iets verstaan van die krag van die Paasfeesevangelie.
Ds Danzfuss se skrywe in kerkbode verwys: Ek het nogals waardering vir u poging om met soveel keurigheid en versigtige omgang met woorde die gemeentes van die NG Kerk in twee groepe te groepeer asof u nou presies “uit-gefigure” het waar dinge in die kerk verkeerd geloop het. Om die minste te sê is dit teleurstellend dat die Kerkbode oorweeg het om u skrywe spasie te bied in hulle publikasie, maar nou leef ons mos in ‘n tyd van uiterste verdraagsaamheid. Doen gerus die moeite en besoek bietjie wyer gemeentes in die NG kerk en u sal vinnig algterkom dat hierdie verdagmakery waar mee u en vele andere besig is beslis nie gebore is uit ‘n diepe soeke na antwoorde nie maar veel eerder uit ‘n diepe verhaderde hart wat nie bereid is om selfondersoek te doen nie. begin bietjie nader krap en u sal agterkom miskien moet u nog meer versigtig wees in die wyse hoe u gemeentes groepeer in u gemaklike groepies (wat u oortuigings pas). Ons koet liefdevol omgaan in die gees van Paastyd, maar dis presies juis nie wat u doen nie. En “ons” wat sogenaamd verdwaald is moet maar altyd die slaansak bly en lidmate wat beslis nie u opinies en u eendersdenkendes se oortuigings deel nie moet maar net aanhoorders wees van u kritiek. Asseblief, groot asseblief – hou op daarmee. Ek ken u nie en u ken my nie, maar ons het (so wil ek graag glo) het beide die Here lief. Die Gees van God wat in my leef en die Gees van God wat in u leef kan mekaar mos nie so vertrap nie. Dis mos bloot nie Bybels moontlik nie. Dus moet daar iewers ‘n ander gees wees wat die Gees van God in ons wil aankla en aftrek na hul vlak toe. Kom ons respekteer mekaar en probeer ten minste met minder vernynigheid om hierdie soeke van u te verwoord. U hoef nie ander leraars en gemeentes en kerkleiers verdag te maak ten einde u plekkie in die so te kry nie. Daar moet beslis ander maniere wees en u kan beslis beter doen as dit. Dink mooi daaroor na. Ek mag selfs veel jonger as u wees in die bediening, maar ek het genoeg gesien om te weet dit waarmee u en andere besig is beslis nie die kerk van die Here meer dien nie. Stap dan eerder weg van die gesprek of gaan besin en begin weer van voor af met meer deernis in u hart, want wat ek hoor en beleef is uiters ongemaklik en bewolk.