Vrydag 12 April was die laaste stapdag van 2024 se Red ’n Plaas Red ’n Gemeenskap Camino. Vanaf 6-12 April het 50 stappers van regoor die land in die Karooveld om Victoria-Wes reën, wind en son as deel van hierdie staptog trotseer. Heléne Meissenheimer, joernalis by Kerkbode en ds DJ Muller, ’n dominee* wat hou van stories vertel en mooi foto’s neem het met van die stappers en plaaslike boere gesels oor wat hierdie projek vir hulle beteken.
D.J. vertel daar is ’n sêding in die Noord-Kaap dat ’n windpomp sal begin draai as jy onder dit staan en fluit. Maar dit help nie om dit te doen in ’n erge droogte soos die een wat groot dele van die Noordkaap geteister het tot onlangs nie.
Die Red ’n Plaas-staptogte is juis begin om boere en gemeenskappe wat in die provinsie swaarkry te help. Op hierdie manier is miljoene rande ingesamel en uitgedeel. Ds Kobus van Tonder is een van die touleiers van hierdie gesamentlike fondsinsamelinginisiatief van die NG Kerk in Noord-Kaapland en Agri-Noordkaap. Hy vertel nou dat die droogte op meeste plekke verby is, is besef rampe soos vloede, veldbrande noodsaak dat met die projek volgehou word. Vanaf ’n oorspronklike sterk fokus op bystand met skoolfondse vir boere se kinders val dit nou op die opbou van ’n rampfonds vir “omvattende humanitêre en pastorale hulp aan rampgeteisterde gemeenskappe in die sinodale gebied van Noord-Kaapland wat dele van die Noordkaap- en Noordwesprovinsies insluit,” soos gestel op die Facebookblad van Red ’n Plaas Red ’n Gemeenskap.
Daar is besluit om weer met ’n veeldagstaptog die projek, soos hy dit stel, “op mense se radar te hou”. Dié keer in die omgewing van Victoria-Wes in die Karoo. Van regoor die land het mense ingeskryf. Nie die 100 waarvoor hulle gehoop het nie, maar wel 50.
Soos met die vorige twee Red ’n Plaas-staptogte het die gesoute staptog-organiseerders Tankwa Camino weer al die logistieke reëlings hanteer. Toe gebeur dit na net een dag se stap dat die “hemelsluise” Saterdagnag 7 April open, soos berig deur ’n plaaslike koerant.
Die hele Sondag het dit gereën. Hierdie milde reënval het die Noord-Kaapse Karooveld so goed deurnat het dat riviere wat afkom en verspoelde paaie dit genoodsaak het dat die groep hulle stapprogram gou moes aanpas. In plaas van kamp in die veld is in plaasskure plek gemaak vir tente opslaan tussen trekkers en voerbale. Die groep se eerste nag onder die sterre was toe ons by hulle aansluit op die voorlaaste aand op die plaas Ezelsrus.





So met die deurloop tussen die tente het ons gehoor dat mense om verskillende redes stap. Plaasbestuurder Kobus Swanepoel en sy vrou, Zelda, het vertel die projek lê hulle na aan die hart omdat hulle deel is van ’n boerderygemeenskap. Maar dat hulle ook die meer as 1 300km vanaf Hoedspruit in die Laeveld gereis het om eie binnewerk te kom doen. Zelda sê sy is nou genees van te gou opgee en Kobus van kortpaadjies vat. “Jy moet diep delf om dit te kan doen maar dit is die moeite werd,” sê Kobus. Hy het as plaasseun in die Vrystaat grootgeword tot sy pa hulle plaas verloor het tydens die droogte van die 1980’s. Die twee het verlede jaar op RSG van die projek gehoor.
Lees meer: RSG Red ’n Plaas Camino: ‘Ek wens elke Suid-Afrikaner kon die gees beleef …’ – Amoré Bekker
Hy het ook vertel dat hy baie bang is vir weerlig. “My grootste vrees is om in ’n tent te lê in die veld met weerlig om my … ek het daai aand al my sondes bely,” vertel hy in ’n podsending vir Kerkbode wat by hierdie webskakel geluister kan word.
Met haar borge se name op haar wit T-hemp en vrolike geblomde pers Namakwalandse kappie op die kop, het boervrou Joan Schreuder van Garies vertel sy stap om namens die mense van Namakwaland dankie te sê vir hierdie projek. Sy kan nie die trane keer wanneer sy vertel hoeveel hierdie hulp vir hulle boeregemeenskap beteken het nie. “Toe ons niks planne meer gehad het nie, was die uitkoms daar gewees. Julle het ons skoolfonds betaal,” sê sy.
Of daar volgende jaar weer ’n lang staptog gaan wees is iets waaroor hulle nog moet besluit, sê Van Tonder. “Die energie is nie dieselfde sonder die droogte nie,” verduidelik hy, maar voeg by fondsinsameling vir die rampfonds gaan voort. Mense kan nog heeljaar die projek ondersteun deur ’n virtuele stap, fietsry, selfs rolstoelry van enige afstand in hulle omgewing te reël. Vind meer uit hoe jy kan help op Red ’n Plaas Red ’n Gemeenskap se webblad.
- DJ Muller werk as ’n multimedia inhoudsvervaardiger vir die kommunikasiespan van die NG Kerk se sinode van Wes-Kaapland ook bekend as Kaapkerk.
