“Dit is vir my fisies baie moeilik … my lyf is nie gemaak om so deur die Noord-Kaap te trek nie … dis warm, die wind waai, dis droog en dis ’n stowwerige pad …”
Só verwoord radio-persoonlikheid Amore Bekker (58) haar belewenis van die 2023 Red ’n Plaas Camino terwyl ons gesels in die mooi sitkamer van die plaashuis op Haasfontein, een van die min plase naby die droogtegeteisterde Karoodorp Williston met genoeg water danksy ’n fontein … net 20 km terug is ’n plaas waar die turksvye al verdroog.
Bekker word beskou as die moeder van die Red ’n Plaasprojek wat sy vanjaar vir ’n tweede keer in vennootskap doen met die NG Kerk in Noord-Kaapland en hulle welsynsorganisasie Caritas Gemeenskapsfokus asook die Wes-Kaapse sinode s’n Diakonia, so ook Kerkbode, die landbouorganisasie Agri-Noordkaap en veeldagstaporganisasie, Tankwa Camino.
Maar, soos Bekker dan byvoeg, “niks wat maklik is, is die moeite werd nie”.
Pelgrimstog vra uithou
Tydens die stap en in gesprekke op sosiale media klink dit of die meeste van vanjaar se meer as 100 camino-stappers met haar saamstem.
Hierdie staptog van sowat 166 km oor agt dae was vir vele hulle eerste veeldagstap- en kampervaring, maar selfs van die ervare deelnemers meen dit was enduro sowel as camino.
“Camino” is ’n Spaanse woord wat pad of roete beteken. Deesdae word dit grootliks verbind met die eeue-oue pelgrimsroete in Spanje, die Camino de Santiago. In Middeleeuse tye het sulke pelgrimsroetes dikwels gepaard gegaan met ontbering en swaarkry. Soos die skrywer/joernalis Johannes de Villiers dit een aand tydens die stap verduidelik het, die pelgrims het die gevaar geloop om beroof te word. In vandag se tyd soos op hierdie camino lyk die swaarkry net anders soos stink plastiektoilette, warm son en seer voete.
Luister ook na Johannes se potgooi oor stap:
Vir vele stappers het hulle swaarkry hulle herinner aan die doel hoekom hulle aan hierdie droogtebewusmakingsprojek deelneem. KwaZulu-Nataller Sandra Odendaal sê dit laat haar dink aan die boere wat in die veld loop en “… sien hulle hoe hulle diere swaarkry en hulle kan nie vir hulle sorg nie … En hulle het nie genoeg geld vir hulle kinders se skoolgeld nie …”, voeg sy by terwyl sy gesels met SABC-joernalis Reginald Witbooi wat ook hierdie camino kom stap het om daaroor te berig (video onder).
Spore van die droogte
Tydens die stap sien ons min skape in hierdie skaapwêreld. Veegetalle staan op 40% teenoor ses jaar terug vertel skaapboer en veebemarker Hernus le Roux van Williston een aand. Vir hom is die boervroue die heldinne van hierdie verhaal omdat hulle deur hierdie moeilike droogtetyd met so min tevrede was en steeds hul mans kon moed inpraat.



Soos ’n mens deur verwaarloosde Karoodorpe soos Williston stap, langs die pad die leë plaashuise sien en met die mense gesels, besef jy hierdie droogte raak die hele omgewing. Die meeste plase het deesdae net een of twee plaaswerkers wat beteken ’n groot bron van werk het ook as ’t ware opgedroog. Dit raak gemeenskappies soos die een op Zwartkop, net so 20 km suid van Verneukpan in die Boesmanland waar plaaswerk ’n hoofbron van inkomste vir die gemeenskap se mense was.
Die meeste inwoners het nou al weggetrek – daar is net 120 inwoners oor. Die skool het toegemaak, maar daar is ’n kleuterskooltjie wat boervrou Magda Maritz uit haar eie sak en met skenkings aan die gang hou vir sowat 14 kinders jonger as vyf jaar. Sy wys trots die bibliotek

ie wat sy in ’n vertrek in die gemeenskapsaal ingerig het. “Dit is my pride en joy … verlede maand is 275 boeke uitgeleen,” vertel sy.
Op ’n bultjie staan die netjies witgeverfde VGK-kerkie met sy blou dak. Dit word net vir dienste gebruik wanneer ’n prediker hulle besoek.
Dit is in dieselfde gemeenskapsaal dat die sanger Jak de Priester, nóg een van Bekker se genooide glansgansies op die voorlaaste aand van die camino, konsert hou vir die mense van Zwartkop. ’n Groot geleentheid … die inwoners pak die saaltjie vol en luister blinkoog.
Later dieselfde aand hou Bekker saam met ’n paar ander vir die stappers ook konsert. Kyk gerus ds Deon van der Berg, leraar op Vanwyksvlei se video oor die konsert onder.
Ongelooflike gees
Tydens die stap deel aktrise-nou-dramajuffrou op Langebaan, Lindie Stander, een aand met die hele groep dat sy al die Spaanse camino gestap het, maar hierdie staptog stuur haar ’n ander mens huis toe. Soos sy uit haar stapjoernaal voorgelees het, “… die afgelope week was sielsomkerend. Ek het moed en krag op plekke ontdek waarvan ek vergeet het. Ek het gehoor en gesien hoe mense omgee vir mekaar … vir my ook. En dit voel goed …”



Hierdie gees van omgee en mededeelsaamheid onder die stappers het ’n mens van die eerste dag af opgeval. Dit was soos een groot familie wat vir mekaar hamers en pleisters, selfs skoene leen, mekaar se blase dokter en help om tente op en af te slaan. Stander se hondjie Eddie het al op die tweede dag “peetouers” gekry wat hom aanry terwyl sy stap want die sleepkarretjie waarin sy hom wou trek was vir haar te swaar.
Soos Bekker dit stel, “die gees op hierdie pelgrimstog is ongelooflik, ek wens elke Suid-Afrikaner kan dit beleef.”
Maklik die helfde van die stappers was aan die verkeerde kant van 50, tog het die meeste deurgedruk om die hele roete van Williston tot op Verneukpan te voltooi, al het dit beteken dat party soms ’n laaste paar kilometers in ’n bakkie ry om hul apostelperde te laat rus.


Op 79 was Corieta de Wet uit Struisbaai die oudste stapper terwyl Elé Wessels op 29 een van die jongstes was. Wessels het vertel sy en haar ma Ansie sou saam hierdie staptog kom doen het, maar sy is met die seldsame neurologiese siekte Guillain Barré-sindroom gediagnoseer in Januarie. Nou stap sy hierdie staptog vir haar ma, sê Wessels.
Daar het ook boere uit ander distrikte kom saamstap, soos boervrou Dawie Joubert uit die Tankwa Karoo asook skaapboere Wildré le Roux en Eben van Eck uit die omgewing van Beaufort-Wes. Le Roux en boervrou Surita Bruwer, ook van Williston, het weer kom stap om dankie te sê, soos hy dit stel “… vir die mense wat vir ons pakkies en voer laat aflewer het … en wat ons sommer net sterk gemaak het terwyl ons alleen en swak was hier in die Karoo”.
Lees ook: Regstreeks: Geselsies met stappers by Red n Plaas Camino onthul groot dankbaarheid
Een groot lekkerte was die vele maniere waarop boeremense uit die omgewing kom dankie sê het vir wat hierdie projek vir hulle beteken. Party het al agt dae kom saamstap, ander ’n paar dae of selfs net vir ’n paar kilometer saam met hulle kinders. Sommige weer het langs die pad vrugte uitgedeel, pannekoek gebak en selfs draairoomyse kom maak. Op die eerste en laaste aand is skaap gebraai, slaaie gemaak en vars brode voorgesit.

Danie Pieterse van Tankwa Camino, die maatskappy wat die logistieke reëlings van die stap hanteer het, het verduidelik hierdie omgee kom uit die hart. Soos hy dit stel, “hier is nie geld of vleis nie … die goed wat aan julle langs die pad uitgedeel word kom uit liefde”.
Vir ds Kobus van Tonder, voorsitter van die taakspan wat droogtehulp hanteer in die Noord-Kaapse sinode, was dit ’n wonderlike ervaring om hierdie dankbaarheid te kon beleef. Hy vertel baie boere het vir hom kom dankie sê omdat die projek gehelp het dat hulle hulle kinders se skool- en koshuisgeld kon betaal en op hulle boerdery kon fokus.
Die NG Kerk in Noord-Kaapland het in 2019 in vennootskap met kerklike maatskaplike organisasies soos Caritas en Diakonia asook die landbouorganisasie Agri-Noordkaap met fondsinsamelingsprojekte begin om gemeenskappe wat swaarkry weens die droogte te help. In hierdie tyd is Bekker ook genader en so is die Red ’n Plaas-inisiatief gebore wat ’n staptog in 2021 in die Boesmanland ingesluit het.
Meer as R11 miljoen is op hierdie manier ingesamel waarmee 21 hulpbehoewende gemeentes gehelp kon word asook skool- en koshuisgelde betaal word van boere wat swaarkry.
Lees ook: Sinode Noord-Kaapland: Geld stroom in vir droogtehulp, gesprek oor kerkverband duur voort
Van Tonder vertel dat danksy die 2023 Red ’n Plaas-inisiatief kon R375 000 reeds vanjaar in die eerste kwartaal uitbetaal word om 60 kinders en jongmense se skool- en koshuisgelde te betaal. Hy hoop dat hulle dit elke kwartaal sal kan doen.
Nicol Jansen, president van die landbouorganisasie Agri-Noordkaap, het op die laaste aand van die staptog vir die stappers vertel die Droogtehulpfonds staan op meer as R800 000* (op 26 April het dit die miljoenrandkerf oorgesteek).
“So daai seer voete en blase was absoluut die moeite werd,” het hy afgesluit.
Of soos sanger Elvis Blue dieselfde laaste aand sing ’n paar uur na hy 600 km vanaf George na Verneukpan op sy fiets kafgedraf het, “… al loop ek op ’n stofpad (tot in Verneukpan) … al kom daar donker deur … volg ek jou, want jy gee my ’n rede om te glo!”
Persone wat steeds ’n bydrae wil maak, kan dit inbetaal by:
RSG Red ’n Plaas Camino
Eerste Nasionale Bank
Rek no 62614450435
Takkode: 230101
Verwysing: Plaas + jou naam
- Berig aangepas na publikasie.
