Die landwye reaksie op die NG Kerk in Noord-Kaapland se Rampdroogteprojek het alle verwagtinge oortref, te blyke uit verslae wat by die onlangse streeksinode gedien het.
Meer as R11 miljoen is ingebring: “’n Verslag kan nie vasvang wat werklik gebeur het nie … die golf van welwillendheid en deernis … woorde is te min om dit alles te kan verwoord,” skryf ds Kobus van Tonder, voorsitter van die ad hoc taakspan gemeenskapsversorging in sy verslag aan die sowat 150 afgevaardigdes wat op 9-13 Mei in Kimberley vergader het.
Sy span van nog twee leraars en sy vrou Hanelie het aan die einde van 2019 saam met landbouorganisasie Agri Noordkaap en die NG Kerk in Noord-Kaapland se kerklike maatskaplike organisasie, Caritas, met fondsinsamelingsprojekte begin om humanitêre hulp in die streek te verleen.
In drie jaar is meer as R5,7 miljoen se fondse aan 21 hulpbehoewende gemeentes in die streek uitbetaal. Skool- en koshuisgelde en studentegeld was ’n groot nood – R3,6 miljoen is aan die Studente-Droogtehulpfonds uitbetaal om hiermee te help.
Die projek maak hom emosioneel, vertel nog een van die spanlede, ds Marais Kluge: “Ek het in drie jaar van betrokkenheid by hierdie ad hoc taakspan meer gesien wat die kerk van die Here moet wees as in my hele lewe … die projek was ’n wonderwerk wat ons sien gebeur het!”
’n Miljoen rand het ook gegaan na Agri Noordkaap wat dit weer in die vorm van koopbewyse vir die aankoop van kruideniersware na plaaslike besighede gekanaliseer het. Sodoende kon plaaslike ekonomieë aan die gang bly.
Agri Noordkaap se president, Nicol Jansen, het gesê “dit was werklikwaar ’n baie geseënde projek wat ’n enorme verskil gemaak het”.
Hoewel die veld mooi herstel toon na goeie reënval die afgelope somer, wag ’n lang pad op die pad na herstel, waarsku Jansen. Boere se uitdagings sluit in kredietverskaffers wat ongeduldig raak, verminderde veekuddes en berge skuld.
Daarom voorsien hulle dat hierdie Rampdroogteprojek nog gaan voortgaan maar met ’n sterker fokus op heropbou en pastorale sorg, sê ds Christo Jonck van die sinodale kommissie vir hulpdienste (SKHD) wat ook op die taakspan is.

Kerkverband: Spanning met Algemene Sinode
Die afgelope weeklange sinodesitting was ’n versoeningsgesinde saamtrek wat in die ouditorium van ’n charismatiese kerk met sitplek vir 800 gehou is. Aan die einde van ’n tweedaglange bespreking oor Skrifgesag en hermeneutiek (hoe verstaan ons die Bybel) het voorsitter ds Kobus Conradie opgemerk “moet tog asseblief nie dat ons vir mekaar vinger wys nie … ons glo en vertrou dat ons ’n weg (met verskillende) perspektiewe … sal kan oorleef.”
Die afgevaardigdes het gestem dat daar met beide die Algemene Sinode asook dolerende gemeentes in hulle streek oor kerkverband gepraat moet word vóór die volgende streeksinodale-saamtrek.
“Die NG Kerk in Noord-Kaapland is hartseer en ontstig oor die spanning en wantroue wat tussen die Algemene Sinode en die sinodes en gemeentes van ons NG Kerk die afgelope tyd ontstaan het,” lui een van verskeie voorstelle wat eenparig aanvaar is. “Ons treur oor die moontlike oneer wat dit aan die Here se Naam kan bring. Ons treur oor die seer en ontsteltenis van sommige kerkrade, ampsdraers en lidmate.”
Ds Rudi Janse van Vuuren, touleier by die Taakspan Sinodebeplanning, het die uitkoms van die gesprekke vir Kerkbode as volg saamgevat: “Die Noord-Kaap koop in by die Algemene Sinode … (ons) gaan nie uit die breër verband uitklim nie, maar ons gaan met die Algemene Sinode ’n pastorale pad soek dat ons mekaar kan vind.”
Die sinode het ook besluit om te kyk hoe die gesprek oor hereniging met die VGK weer op die tafel kan kom na dit grootliks skipbreuk gelei het met die buitengewone sinode van 2015.
Orania se Boshoff lei gesprek
Die sinode was volgepak met daglange besprekings en saans was daar vergaderings van tydelike kommissies. In die agenda van 330 blaaie was sake soos die eiesoortige aard van die kerk, ’n nuwe sinodale struktuur vir Noord-Kaapland, Skrifgesag en -gebruik, die Algemene Sinode, dolerende gemeentes en missionale kerkwees gelys.
Die gesprek oor onderlinge verskille oor Skrifgebruik en -gesag was, nes in ander sinodale streke van die NG Kerk, ’n groot besprekingspunt. Die gesprek is oor twee dae gelei deur dr Carel Boshoff, voorsitter van die sinodale kerkordekommissie (SKOK), een van vier sinodale kommissies vir die NG Kerk in Noord-Kaapland. Daar is nie ’n moderatuur soos in die ander tien sinodale streke nie.
SKOK het vroeg in 2019 ’n buitengewone sinodesitting aangevra onder meer oor “die woelinge in die kerk rondom besluite van die algemene sinode” soos die agenda dit verwoord.
Boshoff het aan die hand van ses vrae die afgevaardigdes genooi om aan die gesprek deel te neem, “die belangrike ding is nou waar almal vir almal hoor … sodat ons kan sê só lyk dit in die Noord-Kaap,” het hierdie ouderling van NG gemeente Orania gesê.

Terugvoer oor twee jaar
Tydens die besprekings het dit geblyk daar is ongemak by van die streek se gemeentes oor die Algemene Sinode se hantering van die interne teologiese geskille oor selfdegeslagverhoudinge en Skrifgesag. Teen die einde van die week het die afgevaardigdes eenparig besluit Noord-Kaapland se kerkordekommissie sal voor die volgende sinodesitting met die algemene sinode in gesprek tree om die oorsake te identifiseer wat “hartseer en verdeeldheid veroorsaak het” en dit aan te spreek.
Die sinodale kommissie vir bedieningsondersteuning sal leiding neem sodat gespreksgeleenthede in gemeentes geskep word om oor hierdie sake te praat. Daar gaan ook met dolerende gemeentes in gesprek getree word.
Na twee jaar sal beide kommissies oor die verloop van hierdie gesprekke by Noord-Kaapland se volgende sinodesitting terugvoer gee.
“Ons moet nederig wees”
Tussendeur elke dag se gesprekke het lede van taakspanne verslag gedoen oor verskillende sake. Een van hulle, ds Bootjie Booysen, voorsitter van die taakspan aktuele sake, het terugvoer gegee oor die rol van hermeneutiek (Skrifverstaan en -hantering). “Ons moet onthou ons lees almal die Bybel met ’n bepaalde bril as gevolg van ons opvoeding, ons agtergrond … wie ons is,” het hy verduidelik. Oor gereformeerd wees het hy gesê dit beteken “ons kom om die Woord saam met mekaar … en ons lees die Bybel in die lig van die totale Bybel. God vra van ons om werklik te swoeg met sy Woord … maar ons moet nederig wees … as gereformeerdes om te dink net ek ken sy wil … dit is gevaarlik”.
Nuwe leierskapstruktuur ondersoek
Noord-Kaaplandsinode het nie soos ander sinodes ’n uitvoerende leierskap- model nie. Daar is wel vier kommissies met taakspanne, maar hierdie model het gebreke getoon tydens die Covid-pandemie toe die beplande sinodesitting nie weens inperkingsmaatreëls kon plaasvind nie. Die kommissies kon nie terugvoer gee oor hulle werksaamhede nie en nuwe opdragte kon nie gegee word nie. Die behoefte is daar vir ’n kritiese gesprek dat die sinode sy struktuur en leierskapsisteem herbedink, het Janse van Vuuren aan die afgevaardigdes verduidelik.
’n Koördineringsgesprekgroep, bekend as die Sinode van Noord-Kaapland se deputate (ou gereformeerde woord), gaan oor die volgende twee jaar werk aan ’n moontlike nuwe leierskapsmodel.
- Hierdie berig is aangepas sedert dit gepubliseer is. Red.


