Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

“Daar was ’n aanval deur Hamas, ’n slagting deur Hamas. En die reaksie van Israel was ’n oorlog. Maar nou is dit meer as ’n oorlog, dis vernietiging, uitwissing, dit is ’n volksmoord,” het patriarg-emeritus Michel Sabbah vandeesweek gesê. Foto: 'n Straattoneel in Gasa, Oktober 2023 / Wikimedia.

‘Dis nou méér as oorlog’ – SA kerkleiers luister na noodkreet van Christene in Midde-Ooste namate dodetal klim in Gasa


“Ons kort internasionale stem om vir Israel te sê, hou op moor, word weer menslik, julle het julle menslikheid verloor.”

Só het die patriarg-emeritus Michel Sabbah vandeesweek tydens ’n virtuele gesprek tussen Palestynse kerkleiers en leiers uit die NG Kerk en VG Kerk gesê.

“Daar was ’n aanval deur Hamas, ’n slagting deur Hamas. En die reaksie van Israel was ’n oorlog. Maar nou is dit meer as ’n oorlog, dis vernietiging, uitwissing, dit is ’n volksmoord,” het die intergeloofsleier op 25 April via Zoom gesê en sowat 16 deelnemers aan die gesprek vir hulle solidariteit bedank.

“Ons is nou al amper ses maande in hierdie oorlog en die enigste ‘vordering’ is die dodetal … Waarheen ons op pad is, weet niemand nie, Amerika weet nie, Europa weet nie … Israel, ek dink hulle weet wat hulle wil hê. Die totale verwoesting van Gasa.”

Met ’n dodetal van 34 000 mense in Gasa en sowat 70 000 mense beseer en tienduisende uit ’n bevolking van meer as twee miljoen sonder skuiling, is dié gesprek saamgeroep deur ds Riaan de Villiers van Groote Kerk in Kaapstad om te luister en ekumeniese vennootskap te probeer bewerkstellig.

Eerw Dr Munther Isaac

’n 16 jarige Palestynse Christen is die dag voor dié einste Zoom-konferensie dood tydens haar poging om uit Gasa na Egipte te vlug, het nog een van die sprekers, dr Yousef Alkhouri, vertel.

Alkhouri het bygevoeg dat die aantal Christene wat deur die Israeli-weermag doodgemaak word eweneens aan ’t toeneem is, ondanks die feit dat slegs sowat 800 mense uit ’n bevolking van 2,2 miljoen in Gasa Christene is, aldus dié aktivis.

LEES OOK: Leraar vertel oor Betlehem-besoek: ‘Ons het merkwaardige en brawe mense ontmoet’

Alkhouri is ’n dosent by Betlehem Bybelkollege en verbonde aan die drukgroep Kairos Palestine wat die teologiese perspektief bevorder van Israel se “militêre besetting van Palestynse grond as sonde teen God en die mensdom” en internasionaal probeer steun werf vir nie-gewelddadige weerstand.

Alkhouri voel versaak deur die “Kerk in die Westerse Wêreld” wat volgens hom gekies het om onvoorwaardelik by die koloniale regime van Israel te staan. Dit is ook ’n “historiese oomblik vir die NG Kerk in Suid-Afrika,” meen Alkhouri. “Leer ons uit die geskiedenis? Kerk en teologie is herhaaldelik as wapen gebruik teen gemarginaliseerde mense en ons sien dit in Palestina.”

Eerw dr Munther Isaac, ’n prominente teoloog van Betlehem, het gesê daar is wel baie steun wêreldwyd vir ’n skietstilstand. “Maar ek kan nie tevrede wees voor die oorlog verby is nie.

Marius Greeff, toergids.

“Ek stem nie saam met Hamas nie. Ek ondersteun nie Hamas nie. Maar as jy van hulle ontslae wil raak, raak ontslae van die Israeli-besetting. Mense word gevoer met hierdie idee dat Palestyne wakker word en dink, ons haat die Jode, ons wil hulle doodmaak, dis nie waar nie. Ons was in ons land, Joodse immigrante het na ons land gekom en dit het die probleem begin,” volgens Isaac, wat eersdaags Suid-Afrika sal besoek.

Ds Riaan de Villiers.

De Villiers was in Desember deel van ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging wat onder meer Betlehem besoek het. Ander deelnemers aan die gesprek was plaaslike leraars soos dr André Bartlett en van die VGK dr Llewellyn MacMaster, asook die toergids ds Marius Greeff, wat al vir twee dekades groepe na Israel begelei. Greeff het die situasie tussen die nasies as toksies beskryf. “Kinders aan beide kante word grootgemaak om te haat.” Greeff wou weet of die kerk se stem teen Hamas-geweldpleging gehoor word? Isaac het daarop gereageer dat mense nie verstaan dat Palestyne onderdruk en hulle regte ontneem word nie. “Vir seker keer die kerk nie die doodmaak van kinders of die ontvoering van kinders goed nie. Ons het dit oor en oor en oor gesê. Kerkleiers het openbare verklarings in koerante uitgereik,” het Isaac gesê. “Israel het radikale leiers verkies en wat doen die wêreld? Stuur vir hulle wapens om ons dood te maak.”

MacMaster het pogings om ’n balans te vind tussen veroordeling van Israel en Gasa geproblematiseer. “Ek staan met Palestina en Gasa.”

Die Israeli-weermag het vandeesmaand tesame met berigte oor aanvalle op terreurteikens in Gasa, inligting verskaf oor toevoegings tot die “steunkorridors” wat die weermag vestig waarlangs noodwerkers voorrade aan inwoners van Gasa kan verskaf.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.