“Die Gees van die Here het vir my gesê ‘jy moet uitgaan met jou sweep’.”
Cathy Ross maak haar oë toe wanneer sy vertel oor daardie oggend in 2016 toe sy met haar sweep op haar wit plastiekstoel gaan sit het tussen klipgooiende bendelede en geweier het om op te staan. Vir twee ure.
Ons sit in die kombuis van die veeldoelige gemeenskapsentrum van MCM Miqlat, die Christelike organisasie in Paarl-Oos wat sowat ’n jaar na haar brawe uitstap ook ’n Drama- en Skryfskool vir eksbendekinders kon begin. ’n Rukkie later sluit Jenny Arendse, sentrumbestuurder by ons aan. “Cathy is my regterhand,” vertel sy oor hierdie ma en ouma wat mense daar ken as ‘Ma Cathy’.

Kerkbode se besoek aan die Tiffany-gebou (Tiffany’s is hoe die mense hier praat), waar die sentrum al vir jare ’n veilige hawe bied vir hierdie arm omgewing se kinders, het voortgevloei uit ’n onderhoud vir ’n Kollig-podsending (sien bo-aan) kort te vore met Aletia Grundling, MCM Miqlat se hoof sedert 2012. Sy het vertel hierdie brawe stap van Ross was ’n keerpunt. Dit was die begin van die medeskeppende proses wat gelei het na versoening tussen bendelede in ’n woongebied wat toe soos ’n oorlogsone was.
MCM se verhaal is een van 12 gevallestudies wat opgeteken is in ’n nuwe boek, Caribuntu: Social innovation in South Africa. Die boek is saamgestel deur prof Erwin Schwella, ’n kenner op die gebied van sosiale innovasie – ’n term wat nie verwar moet word met selfoontegnologie of sulke dinge nie. Soos hy dit aan Kerkbode verduidelik het: “Sosiale innovasie probeer innovasie gebruik om prototipe oplossings te skep, eintlik te medeskep, daarom sosiaal, met die mense wat self as gevolg van die komplekse probleme swaarkry maar terselfdertyd ook soms medeskeppers is van die probleem … selfs bydraend … en daarom, as mens ’n behoorlike proses kan fasiliteer, die beste insette kan lewer om die probleme op te los”. Hy vertel meer in die klankgreep onder.
Sosiale innovasie vra betrokke raak
Sosiale innovasie en die proses van saam werk aan oplossings vir komplekse maatskaplike probleme, kry sigbaar lewe in ’n storie soos dié van MCM.
Die woongebied waar MCM se gemeenskapsentrum is, is bekend as Klein Nederburg. Tussen vaalblou woonstelblokke en klein huisies met klein tuintjies drentel mense, kinders en los honde rustig rond op die oggend van Kerkbode se besoek. Ross en Arendse woon in die area. Hulle vertel tydens die bendegevegte in 2016 was die prentjie baie anders. Die bendegevegte was soms so erg dat kinders nie kon skoolgaan nie. Sommige het gewoon ophou skoolgaan. Taxi’s en motors was te bang om in die strate te ry. Hulle het dan maar vir Grundling gebel en gewaarsku om nie in te kom na die sentrum nie.
Selfs ná sy met haar stoel ’n tweeuurlange gevegstilstand kon afdwing, het die bakleiery daardie middag weer opgevlam, sê Ross. Iets in haar het egter verander. Soos sy sê “jy kan bid maar jy kan nie net dit doen nie, jy moet aanspreek … ek is verby daai ‘dis nie my kind nie’”. So sy was elke dag uit met haar sweep.



Ook by Grundling hoor ’n mens sy het vroeër dieselfde jaar “’n lig gaan op”-ervaring gehad dat MCM met die bendekinders as “youth at risk” moet begin werk. Toe sy wil terugkrabbel oor sy wit en ’n vrou is en bendebase is gevaarlik, toe “slaan (God) my vir ’n ses met die woorde: ‘dit gaan nie oor jou nie, jy het bronne …’” soos sy vertel in MCM se boek, Hanne innie lig, voete oppie grond.
‘Ons wou die bendes se kinders wys julle behoort’
Na Ross se brawe sweepklap, het hierdie vroue van die bendeleiers gaan sien en genooi om na MCM se sentrum te kom vir ’n saampraat oor vrede. Al het die eerste gesprek in chaos geëindig is besluit om aan te hou uitreik. Die bendelede, tussen 13 en 19, is genooi om die sentrum se gimnasium te gebruik. Dan kry hulle ook ’n bord warm kos.
“Ons het net liefde en omgee gewys. Ons wou vir hulle wys julle behoort,” vertel Grundling.
Algaande het dinge kalmer begin word. Dit was al minder nodig vir Ross om met haar sweep uit te gaan.
’n Volgende keerpunt was toe die groep bendekinders die film ‘Noem my Skollie’ gewys is wat gebaseer is op die lewe van oudbendelid John Fredericks. Soos hy self vertel in Hanne innie lig … toe die film klaar is, was die saal tjoepstil. Toe staan hy op en vertel sy storie waarna een seun opstaan en hom voor almal vra: “Uncle, hoe kan ek change?” en sy antwoord was: “… dit is in jou hande, jy moet besluit.”

Dit was kort hierna dat een van die bendelede, Kurt Vlok, soos Grundling hom beskryf, ’n skaam tienerseun met ’n Adidas-hoodie op die kop, haar kom sien het. Hy het haar vertel hy is klaar met die bendelewe en gevra, hoe kan sy hom help.
“Met wysheid van Bo vra ek hom wat sy droom is en hy vertel dat hy baie goed kan rap, dans, ’n film in sy kop het en gedigte kan skryf,” skryf sy in dieselfde boek wat ook die storie vertel van MCM se drama- en skryfskool wat in Maart 2017 gevolg het.
By hierdie skool, onder leiding van Paarl-skrywer en -digter Gaireyah Fredericks, het eers net een, toe later 14 voormalige bendelede met pen en papier hulle stories geskryf. Soos Aletia vertel, “stories van soeke na kos elke dag, soeke na liefde, soeke na ’n vaderfiguur”.
Einde 2016 hou MCM hulle eerste Flêtse Fees. Grundling sê dit was Vlok se voorstel om vir die mense van Paarl-Oos te wys “ons was eers die baddies, maar ons is nou die goodies”. By hierdie geleentheid het die eksbendekinders hulle eie dramaproduksie opgevoer. Duisende mense was daar, insluitend hulle grootouers, ouers, gaste uit ander dorpe sowel as die burgemeester. Dié fees het sedertdien ’n jaarlikse instelling geword.
Sedertdien het van die bendeleiers die naweekbaklei opgegee vir krieketwedstryde tussen hulle eie krieketspanne gespeel op die “landjies” soos oop stukke grond tussen huise hier genoem word.
Nie dat Paarl-Oos nou vry is van geweld nie. Tydens Kerkbode se onlangse besoek by Tiffany’s vertel Arendse haar suster se oudste seun is die naweek doodgeskiet in ’n straat net ’n paar kilometer van MCM. Die vyfde een hierdie jaar om net in daardie straat so te sterf.
Soms as dit weer nodig is, vertel Ross is sy weer in die straat met haar sweep.
Maar ons hoor ook dat wat by hulle rondom hulle sentrum gebeur het, gee hoop. Kinders kan weer in die strate speel en skool toe gaan. Teruggaan na waar hulle was wil niemand nie. Soos Dylan Damons, een eksbendeseun, skryf in sy gedig, “So ver het gekom” (volledige gedig onderaan): “deurdruk is my antwoord”.
Sy gedig is een van talle wat in Maart verskyn het in MCM se drama- en skryfskool se eerste dig- en fotobundel Da’s nog soveel meer wat bekendgestel is by ’n glansgeleentheid met die digter Antjie Krog as ’n eregas. Krog skryf in haar voorwoord oor die bundel: “Vibrant words show lives lead in different, often difficult, spaces. Exquisite pictures show the beauty and breath of them!”
Dylan Damons se gedig: So ver het gekom
So ver het gekom
Waar ek my trane gelos het
my gebede van my smeking
terwyl ek op God wag vir ’n antwoord
tye waar dit lyk God het my verlaat
moes ek maar sleep-sleep die pad loop
waar ek was in ’n bodemlose put
my antwoord was altyd God
hoe ek deur al my swaar dae deurgedruk het
was my woorde altyd: deurdruk is my antwoord
Ek is nie gemaak om op te gee nie
daarom sal ek die wedloop voleindig
met hart en siel sal ek veg
terwyl ek altyd onthou waardeur ek kom
– Dylan Damons
- Die boek Caribuntu: Social innovation in South Africa onder redakteurskap van prof Erwin Schwella is onlangs bekendgestel tydens die loodsing van ’n nuwe Sentrum vir Innovasie wat deel vorm van Hugenote Kollege se Skool vir Sosiale Innovasie. Die sentrum staan onder leiding van dr Frederick Marais.
