Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

PODSENDING | Kerkbode op 175: ’n Unieke blik op als van Runderpes, maanlanding, eerste demokratiese verkiesing en teologiese meningsvorming


Wat lesers in die NG Kerk van vandag as Kerkbode ken, is 175 jaar gelede gestig deur ’n energieke man wat op Stellenbosch gebore is in ’n tydperk toe daardie dorp nog net 13 strate gehad het.

Dit was uiteraard ’n ander wêreld met ’n geheel ander kennislandskap – vars nuus was skaars én kosbaar. Maar Abraham Faure, die kerkjoernalistieke pionier, wou nie net ’n stuk neutrale nuustegnologie in die kerk se midde neerlê nie. Hy wou walgooi teen die liberalisme en sy termyn lei die eerste van ses “fases” in waarna daar soms verwys word wanneer daar bo-langs oor die geskiedenis van Kerkbode gepraat word.

 

Kort ná Bloedrivier

In die hele kerkverband was daar met die stigting van die kerkblad maar sowat 40 gemeentes (dit was 11 jaar ná die Slag van Bloedrivier) en as oudste publikasie van sy soort in Suid-Afrika, was so ’n publikasie ’n uiters waardevolle bron van inligting. Hy berig oor twee Vryheidsoorloë, die Jameson-inval, die Runderpes, die maanlanding, die eerste demokratiese verkiesing en dan die meer onlangse geskiedenis waar die NG Kerk se eie posisie begin verander namate hy veral politieke mag verloor.

Vandag is die meeste Kerkbode-lesers digitaal – altesaam so 1 miljoen klieks per jaar op www.kerkbode.co.za – en Kerkbode se stem klink op in ’n reuse-koor van digitale stemme op sosiale media en ander kerklike platforms.

April_2024

Oor die name deur die jare

Die publikasie verskyn op Saterdag, 13 Januarie 1849 as De Gereformeerde Kerkbode in Zuid-Afrika. Daarna volg ’n paar ander baadjies: 1880-1883 as De Christen: Weekblad voor Kerk en Maatschappij. In 1886 verskyn dit as De Kerkbode. In 1932 word dit Die Kerkbode en uiteindelik gewoon Kerkbode, soos dit vandag heet. 

Maar het ’n kerklike nuusblad – digitaal of te not – nog ’n staanplek in ’n kommunikasie-ekosisteem waar inligting vrylik en digitaal vloei? Hoe vergelyk Kerkbode met ander kerk- oftewel niskoerante? Dit is van die onderwerpe wat in gesprek met die joernalis Lizelle de Bruin na vore kom in hierdie radio-onderhoud wat op 5 Mei vanjaar op RSG uitgesaai is.

Namens Kerkbode gesels die joernalis Le Roux Schoeman, tans redakteur van dié publikasie wat deur Bybel-Media uitgegee word. Schoeman gee sy indruk van die unieke invalshoek wat Kerkbode op Suid-Afrika se geskiedenis bied. “Wat geskiedskrywing betref, is dit ’n soort kykweer vanaf ’n nuwe kamerahoek,” sê Schoeman. “En boonop ’n naby-skoot van die gereformeerde Afrikanerpsige as ’n mens deur die brieweblaaie lees. Daar word byvoorbeeld deur een voormalige redakteur op ’n kol na die geweldige ‘vrae-nood’ onder lesers verwys … Wat ek glo vandag deur soekenjins en selfs Facebook absorbeer word,” sê Schoeman. “Voor Google was daar prof EP Groenewald (die geleerde korrespondent wat lesers se vrae oor als onder die son sou beantwoord,” skerts Schoeman.

Die onderhoud duur 9 minute en 28 sekondes en kan HIER geluister word.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.