Clarens is nie net ’n mooi plek nie, daar gebeur ook mooi dinge! Soos die storie van die Clarens Eagles. Jan Venter, die dominee op die dorp, sê hy glo vandag dit is die Here wat die klompie jongmanne ’n paar jaar gelede oor sy pad gebring het.
Dit het gebeur kort na hy by die gemeente op die klein dorpie in die Vrystaat aangekom het. ’n Groepie seuns uit die informele nedersetting buite Clarens het kom aanklop en gesê hulle wil leer rugby speel. Hulle was geïnspireer deur die 2019 Wêreldbekertoernooi. Toe Jan weer sien was hy nie net die nuwe dominee op die dorp nie, maar ook die afrigter van ’n rugbyspan bestaande uit jongmanne waarvan die meeste nog nooit voorheen op ’n rugbyveld was nie.
Hy sê hulle moes van niks af leer rugby speel. Dit het 18 maande gevat voor hulle reg was vir hulle eerste wedstryd teen ’n ander ontwikkelingspan.

’n Mens kan die verwondering in Jan se stem hoor wanneer hy oor die seuns praat.
“Dit is ’n wonderlike storie van passie, deursettingsvermoë en idealisme. Die projek het ’n spesiale verbintenis met die UVS Shimlas en het in 2023 na Bloemfontein getoer tydens die Varsitybeker-toernooi. Ons het ook net voor die 2023 Wêreldbekereindstryd ’n eerste tuiswedstryd op Clarens gespeel (en gewen!). ’n Inwoner van die dorp het opgemerk dat dit die eerste keer in 60 jaar was dat ondersteuners uit AL die groepe op die dorp op een dag dieselfde span ondersteun het. Dit bly ’n ontwikkelingsprojek wat pastorale, persoonlike, finansiële en ander steun aan die seuns verleen. Van ons seuns het begin studeer aan die NWU en UVS en sien uit om hulle rugbyvaardighede te ontwikkel.”
Daar is vandag heelwat mense wat deel is van die projek, onder andere Paolo Bertuzzi, die eienaar van ’n Italiaanse restaurant op Clarens wat in sy jong dae klubrugby gespeel het in Italië. Jan sê dis ’n groot voorreg om so saam met ander mense op die dorp betrokke te wees by die talentvolle jongmanne. Hy is deesdae geensins die hoofrolspeler in die verhaal nie. “Ek is maar ’n deel van ’n hele community rondom die rugbyprojek,” sê hy.
By die pastorie langs die mooi sandsteenkerk ontmoet ek een middag die agtsteman van die rugbyspan. Hy en van die ander Eagles doen smiddae by die dominee se huis hulle huiswerk, verduidelik hy. Vir hulle is Jan nie “dominee” of “pastor” nie, hy is “coach”. Rugby-coach, maar toenemend ook lewens-coach.
Jan vertel van sy eie uitdagings as kind: “Ek het my pa op vierjarige ouderdom verloor in ’n motorongeluk. My ma se tweede huwelik was ongelukkig maar ’n droewige affêre en ons was blootgestel aan die disfunksie van ’n gebroke gesin en die geweld en trauma wat daarmee saamgaan. My ma is ’n dapper kanniedood-vrou wat te midde van die omstandighede seker gemaak het dat ek en my twee susters kon gaan studeer en in die lewe ingaan. Ek is haar daarvoor ewig dankbaar.”

Na skool het hy teologie studeer by die UVS.
“Ek het my reis as predikant begin in Port-Elizabeth saam met ds Frans Nel in die gemeente PE-Sonheuwels. Vandaar het ek demissie ontvang en by die destydse VCSV gaan werk in voltydse jeugbediening. Ek is toe beroep na Pretoria-gemeente as studenteleraar by die destydse Pretoria Technikon (deesdae TUT). Daarna is ek as jeugleraar na Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie in die suide van Pretoria. Ek was jeugleraar vir so ses jaar en het daarna een van die gemeente-dominees geword,” sê Jan.
Ek vra hom oor domineewees op Clarens.
“Dis ’n klein gemeente met 230 lidmate op die boeke. Die kerk was in 2020 honderd jaar oud. Ons grootste bate is ons mense. Die gemeente se siel is vernuwend en oop vir nuwe dinge en vreemde mense. Ons het ’n skat van kuns en musiekgawes en ’n verskeidenheid ander gawes en talente. Dit is asof hier ’n poel is waarheen dit spoel,” sê hy en vertel van die gemeente se hart vir die nood in die gemeenskap.
Lees ook: Nuwe pelgrimservaring: Natuurskoon, stap en sobremesa
Ek eet middagete by een van die gemeentelede, Dons Kritzinger, my oud sending-prof by Tuks. Hy is 81, maar preek steeds gereeld by gemeentes in die omgewing oor kultuur- en kerkgrense heen. En hy het ’n hart vir die ekologie. Een oggend gaan stap ek en kom op prof Dons – en ’n ander oompie ouer as hy – af waar hulle indringerplante met ’n kettingsaag afsaag en uitsleep teen die walle van ’n droë spruit. Daardie aand lei hy en twee van die ander gemeentelede die lofprysing in die kerk.
“Ons Clarens Geloofsfamilie is ’n heerlike, warm familiehuis met wonderlike mense wat lief is vir Jesus,” sê Jan. “My voorganger, Sakkie van den Bergh, het deeglike en diep werk hier gedoen. Ek pluk die vrugte daarvan. Ek is omring deur toegewyde voorvatters en vasvatters waarvoor ek diep dankbaar is. Die gemeente se identiteit is ’n ‘liefdevolle huis, op die rots Jesus Christus, met ’n hart vir die wêreld.’”
Jan is ’n talentvolle man, wat onder andere kan sing en kitaarspeel, en hy is lief vir fietsry en tyd in die mooi natuur deurbring. Passies wat hy hier soos op min ander plekke kan uitleef. Maar soos met enige bediening, het kerkwees op Clarens ook haar uitdagings.
Waaraan hou hy vas as dit rof gaan?
“My vrou Hester, my drie dogters en skoonseun is die aardse huis waar ek my wonde lek. Ek het egter ten duurste geleer dat ek net by God waarlik ’n toevlug kan vind. Die bediening maak soms diep, donker draaie met ’n mens en ek is so dankbaar dat die Here, ten spyte van my hardkoppige eiewysheid, my altyd optel en nuutmaak. Ek begin dit al amper-amper regkry om eerste by God te skuil en nie in my eie planne nie.”
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugontwikkeling en die NG Gemeente Villieria.