Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Philip McLaren het swaar gekry met sy 24ste Comrades wat hy gehardloop het vir hulle Vrystaatse gemeente se bediening aan senior lidmate. Foto: Verskaf

Twee Vrystaters hardloop Comrades vir Bybels, seniors


Die laaste sowat 10 km van sy “swaarste” Comrades nog het sy rug vreeslik gepyn, maar die 62-jarige ds Philip McLaren vertel hy het die 12 ure en vier minute vasgebyt net om die eindpunt betyds te probeer haal.

Ons gesprek volg nadat hy Sondag 9 Junie ’n TV-onderhoud na hierdie jaarlikse ultramaraton-instelling toegestaan het. Hy moes aan die verslaggewer Vanes-Mari du Toit vashou om hom regop te hou. Hy het met minute die afsnytyd gemis.

Dié predikant van die NG Gemeente Bedelia op Welkom in die Vrystaat het al 24 Comrades-padwedlope suksesvol voltooi en vir twee silwer medaljes gekry maar hierdie was sy moeilikste een. Volgens hom was hy goed voorbereid, maar hy vermoed hy kon dalk sy rug met perdry seergemaak het. “’n Mens verstaan nie die goed nie,” sê hy maar voeg by die kameraderie en bystand van ander langs die pad het hom baie gehelp.

Op hulle gemeente se Facebookblad staan hy het gehardloop “vir bediening by ons senior lidmate en Huis Salome”. Hy vertel Huis Salome is ’n ouetehuis waar hy Sondae preek en by betrokke is. Sy gereelde Comrades-deelname is een van die planne wat hy en sy gemeente maak om hierdie bediening te kan befonds. Vanjaar kon mense hom borg vir R1 per kilometer of meer. Vanjaar se poging het rondom R12 000 ingebring.

Lees ook: Labirinte – ’n uitnodiging om al wandelend te bid

“Ek hardloop maar vir aanvulling van die gemeente se fondse,” vertel die sportiewe leraar wat op sy dag as skrumskakel Curriebekerrugby vir Oos-Transvaal gespeel het. Oor nog ’n Comrades hardloop, sê hy gelate “as die Here my spaar sal ek seker nog so twee doen”.

Nog ’n Vrystater met ’n langasem is Christo Brink. Hierdie lidmaat van die NG Gemeente Jacobsdal het sy tekkies op die teer laat val vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA). Dit was sy 34ste deelname aan die ultramaraton luidens sy gemeente se Facebookblad. Die poging het glo sowat R23 000 ingebring. “Baie dankie, Christo, vir jou bydrae tot Bybelverspreiding in ons land! Dit word opreg waardeer,” lui ’n BSA-kommentaar op die blad.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.