Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Resensie: Voedsame pitkos oor God se skeppingswonders, beloftes en seën


Polsslag deur Johann van Zyl

Uitgewer: Bybelkor, 2023

Resensent: Rudolph Scharneck

 

Soms het ’n mens behoefte aan pitkos, ’n kort, treffende gedagte wat jou eie denkprosesse aan die beweeg sit en jou menswees voed sonder om te ingewikkeld te raak. Hierdie boek is ’n poging om sodanige pitkos vir mense te bied.

Die skrywer bied sy eie gedagtes in kort paragrawe aan, elkeen met ’n afsonderlike tema. Hierdie gedagtes groepeer hy dan onder 12 groter “Bybeltemas”. Hy kies vir 12 omdat die syfer 12 so ’n belangrike rol in die Bybel speel. Hoewel daar op die voorblad geïmpliseer word dat die hele boek aanhaak by die skeppingsmotief, is dit slegs die eerste groter tema wat daarop fokus. ’n Wye verskeidenheid van motiewe word verder in die boek aangeraak.

Elke gedagte begin met ’n teksverwysing, maar die teks word meestal nie in detail bespreek nie. Daar word eerder uitgebrei op ’n enkele motief binne die aangehaalde teks. Dit word dan deur verwysings na ander Bybeltekste, gebeure regdeur die geskiedenis en voorbeelde uit die alledaagse lewe geïllustreer.

Die skrywer se omgang met tekste sal waarskynlik vir baie mense nie deurgaan as goeie teksuitleg nie, maar die boek word nie uitgegee as ’n Bybelstudiehandleiding nie. Die skrywer is ook nie ’n teoloog van beroep nie. (Die uitgewers beskryf die skrywer as volg: Johann van Zyl is ’n landbou- en finansiële joernalis met ’n onversadigbare liefde vir navorsing en statistieke. Dit gebruik hy dan mildelik in sy skryfwerk, wat dié boek insluit. Johann is ook ’n groot musiekliefhebber en ’n ywerige drawwer).

Vir gewone mense met ’n behoefte daaraan om elke dag ’n kort gedagte te lees waaraan hulle kan herkou of met ’n geliefde of vriend oor kan gesels, kan hierdie boek moontlik baie waardevol wees.

Beskikbaar by Bybel-Media.

Dr Rudolph Scharneck is predikant by die NG Kerk Goudini op Rawsonville.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.