Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Prof Johan van der Merwe se rubriek (09.07) het betrekking. Dit is verblydend dat iemand van sy statuur, kennis en ervaring ons herinner aan die belangrike 200-jarige herdenking later vanjaar van 1824 se eerste Algemene Sinode. Ek onthou nog ’n ander rubriek wat hy in Kerkbode in Oktober 2022 geskryf het, waarin hy gevra het of die Algemene Sinode (AS) se rakleeftyd verby is. Daarin vermeld hy ook die geskiedenis van die voorafgaande byna 200 jaar en noem hy die moontlikheid van ’n nuwe vorm van eenheid soos ek nou ook tussen die lyne van hierdie brief lees.
Die AS het die afgelope paar dekades talle besluite geneem wat die totstandkomingsooreenkoms (1962) tussen die destydse samestellende NG kerke misken, ignoreer en ondermyn. Verder eien hulle vir hulleself gesag toe wat nie deel was van die oorspronklike ooreenkoms nie. Die NG Kerk gebruik die Presbiteriaanse kerkstelsel – die moderator is dus nie soos ’n “pous” nie. Dit werk “van onder na bo”; dus van presbiters/ouderlinge op na die algemene sinode. Die kerkraad is die regerende liggaam van ’n plaaslike gemeente. Die algemene sinode is, anders as die kerkraad, bloot tydelik van aard en is geen permanente bestuursliggaam nie.
’n Bepaalde groep gemeentes het ’n besluit geneem om uit die verband met die AS te tree en weer hulle regmatige gesag as plaaslike kerkrade terug te neem. Dit is volgens my in lyn met die 1824-gebeure en vind dus aanklank by wat prof Johan skryf: “(Dit kan) ’n eerste belangrike tree (wees) op pad na ’n bepaalde manier van kerkwees in Suid-Afrika, ’n manier van kerkwees, waar die struktuur van die kerk die gemeentes van die kerk tot diens behoort te wees. Anders gestel: Hoe die kerk werk moet altyd in diens van die roeping van die kerk op grondvlak wees.”