Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Antikommunisme was ’n spil vir Afrikanereenheid, skryf Ruhan Fourie. Hy bekyk die NG Kerk se rol hierin vanuit ’n geskiedkundige hoek.
Die NG Kerk is histories nou verbind met die mense van Suider-Afrika. Natuurlik in besonder so met Afrikaners. Die geskiedenis van Afrikaners is ook die geskiedenis van die NG Kerk wat veral in die nadraai van die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902) homself vereenselwig het as ’n volkskerk vir Afrikaners. Hierin het ’n wedersydse identiteitvorming gelê waar die NG Kerk homself moes bepaal by die geestelike en materiële lot van sy Afrikanerlidmate, terwyl dié instelling ook ’n leidende rol gespeel het in die vorming van Afrikaneridentiteit.
Met sy wye netwerk van teoloë, dominees, weldoeners en kerklike organisasies, was die NG Kerk reeds teen die vroeë twintigste eeu die instelling met die mees verreikende en diepste invloed in die alledaagse lewe van Afrikaners. Daarom is die NG Kerk ’n besonderse lens vir die geskiedkundige wat die leefwêreld van Afrikaners, wie se kerk-, kultuur- en politieke leiers die hoofmanne van die apartheidorde was, wil verstaan.

Paraat en weerbaar teen aanvalle
’n Kernaspek van hierdie leefwêreld was die alomteenwoordige “Rooi gevaar”. Afrikanerparaatheid en -weerbaarheid vir kommunistiese aanvalle op Suid-Afrika is nog vars in die geheue van baie Afrikaners. ’n Mens dink hier veral aan herinneringe van pa’s, ooms, broers en seuns wat op die grens, in die skadu van die Koue Oorlog, moes veg teen dié gevaar. Tog is daar ook die interne vrese van kommunistiese subversie van die volk wat ’n mens anekdoties optel in herinneringe van die “goeie ou dae”.
In ’n Kerkbode-artikel in Februarie 2021 (getiteld Kerk in SA: Het ons ’n plek en roeping?) byvoorbeeld skryf ds Rudi Swanepoel hoe diegene wat nie gekonformeer het nie deur die kerk uitgekryt is as “ketters en terroriste”. En “Kommuniste, linkses en humaniste wat nie deel is van die Afrikanervolk en die ware kerk nie”. Ds Danie Mouton, uitvoerende direkteur van die Oos-Kaapse Sinode, skryf in ’n opiniestuk vir Kerkbode in 2016 (getiteld Wat sal ons van die Algemene Sinode onthou?) hoe moeilik dit vir die NG Kerk was om sy identiteitsgevoel en roeping in ’n post-apartheid samelewing te vind ná dekades “toe die duiwel en die kommuniste nog vyand nommer een was …”
Terwyl daar ’n duidelike herinnering aan die vrees vir kommunisme is onder Afrikaners, en dan ook historiese aksies teen die Rooi gevaar was, is daar tot dusver nie sistematies gekyk na hoe antikommunisme ontwikkel, onderhou en gefunksioneer het onder Afrikaners nie. Die Koue Oorlog en PW Botha se Totale Aanslag blyk nie alleen die juk te dra van Afrikanervrese van ’n bose kommunis onder elke bed nie. In my boek, Christian Nationalism and Anticommunism in Twentieth Century South Africa (2024) neem ek die rol van die NG Kerk in hierdie verband onder oënskou.
Die groeiende Afrikanerwerkersklas
Die eerste spruit van antikommunisme het sy kop uit gesteek toe die NG Kerk homself ontferm het oor die lot van die groeiende Afrikanerwerkersklas aan die Rand in die 1910’s en 1920’s. Dominees het gewroeg en gewerskaf om die Afrikanerproletariaat te red teen die sosialistiese vakbondwese. Die oproep tot ’n Christelik-nasionale vakbondfront uit kerk- en kultuurgeledere is gou opgeneem deur die Broederbond en sy vennote. So is dié werkers gekoöpteer in wat sou ontwikkel in ’n Afrikaner-nasionalistiese beweging wat teen die einde van die 1930’s begin spoed vang het. Binne die beweging word antikommunisme ’n spil vir Afrikanereenheid. In 1946 word Afrikanerantikommunisme, saamgesnoer in die stigting van die Antikommunistiese Aksiekommissie, of Antikom, met die mandaat om “Christelike leer en lewe soos verkondig deur die drie Afrikaanse kerke, as die magtigste bolwerk teen die kommunistiese lewensbeskouing” te handhaaf, luidens hulle stigtingsdokument. Dit is saamgestel deur verskeie Afrikanerorganisasies, met die meerderheid verteenwoordiging uit NG Kerk-geledere, en sou voortaan sorg vir antikommunistiese propaganda. Kort na die NP se oorwinning in 1948 sou Antikom en die NG Kerk staatsonderdrukking van kommunisme help populariseer en legitimeer. Die staat is so effektief in hierdie taak dat die kommunistiese ywer kwyn, en so ook kerklike antikommunisme bedaar.
Geluide teen apartheid
In 1960, toe druk op die apartheidregime toeneem in die nadraai van die Sharpevilleslagting, skop die dekade van Rooi gevaar af. Sommige verligte Afrikaners, insluitend kerkmanne, begin suutjies geluide teen dogmatiese apartheid maak wat ’n verkrampte teenslag ontketen. Sentraal tot hierdie veldtog om kritici stil te maak, was om hulle te etiketteer as voorstanders van kommunisme, of dié se kleiner boeties humanisme en liberalisme. In hierdie atmosfeer mobiliseer ’n handjievol eensgesinde ultra-verkramptes uit politieke en kultuurkringe, met Albert Hertzog as die spilpunt, om Antikom as voertuig te gebruik om die politieke speelgrond na regs te trek. Om die opportuniste se saak te versterk nader hulle die groot kerkman van die Kaap, dr Koot Vorster, toe al ’n uitgesproke antikommunis in eie reg, om as publieke voorman te dien. Hierdie kring toets die antikommunistiese konsensus se regse grense so dat dit tot ’n regse splinter in die NP lei, en Vorster uit pas met die NG Kerk val teen die einde van die dekade. Gedurende die 1970’s word Afrikanerfamilies direk by die bestryding van kommunisme betrek toe dienspligtige mans Grens toe gestuur is. By die huis vlam sendinginisiatiewe op waar veral vroue op hawens traktaatjies uitdeel aan seemanne van sogenaamde ‘Rooi skepe’, en jong kinders in plattelandse skole fondse insamel vir Bybelverspreiding aan kommunistiese lande.
Heyns en Jonker
Soos die NG Kerk se leierskap in die 1980’s begin herbesin oor apartheidteologie, begin die antikommunistiese ywer van die vorige twee dekades bedaar. Kerkleiers, soos proff Johan Heyns en Willie Jonker, staan sterk in hulle afkeur van kommunistiese dogma, maar verruil paranoia met pragmatisme. So begin Heyns kommunisme, in die vorm van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, aanvaar as ’n deel van ’n komende “nuwe” Suid-Afrika waar ’n Afrikaner nasionalistiese orde sou plek maak vir demokratiese pluralisme. En so, met die val van die Berlynse Muur in 1989, eindig apartheid kort daarna, en daarmee ook die alomteenwoordige, almagtige spook van kommunisme.
Lesse te leer?
Wat leer ons hierdeur van antikommunisme? Dat die Rooi gevaar selde werklik oor kommunisme gegaan het, en veel eerder oor die behoud van ’n status quo, en in sommige gevalle selfs die terugkeer na ’n enger wit oppergesag. Dit het uiteindelik ten doel gehad om Afrikanereenheid en -eenvormigheid te vestig, ’n illusie van morele legitimiteit vir onderdrukking te skep, en om Afrikaneridentiteit te vorm volgens wat ’n Afrikaner nie behoort te wees nie. Deur dit alles was die NG Kerk die konstante antikommunistiese tuig van Afrikanerdom, tog met wisselende invloed en prominensie.
Terwyl afkeur in kommunisme opsigself geregverdig geag kan word, moet gevra word tot hoe ’n mate antikommunistiese propaganda, verdagmakery en die vereniging van Afrikaners se leefwêreld die ware gevare van volgehoue onderdrukking van swart mense verdoesel het.
- Dr Ruhan Fourie is ’n historikus verbonde aan die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie by die Universiteit Stellenbosch. Sy boek Christian Nationalism and Anticommunism in Twentieth-Century South Africa word uitgegee deur die Christelike Lektuurfonds (CLF).
- Hierdie artikel is ná publikasie aangepas. – Red.

Hierdie is ‘n voorbeeld van “teologisering” en van “teologiese geskiedskrywing” sonder om erns te maak met die God van die Bybel en die gesag van die Skrif. Die hermeneutiese sleutel waarmee hy die geskiedenis ontsluit en beskryf , is ‘n neo marksistiese benaderingswyse waarin ‘n klassestryd die bepalende invloed uitoefen. Ironies beweeg hy baie nader aan die “kommunisme” as wat hy dalk self besef.
Alles wat gebeur het in die NG kerk word in hierdie denkskema ingeforseer. Daarom kan hy ook die stryd teen apartheid en die teenstand teen selfdegeslag verhoudings op dieselfde lyn plaas – twee sake wat hoegenaand nie met mekaar enige raakvlakke het nie. En om dit dan as verklaringsmetode te gebruik vir die geskiedenis maak van sy geskiedskrywing ‘n stuk onsinnigheid.
Beide die twee sake van Apartheid en selfdegeslagsverhoudinge, het volgens Fanie le Roux geen raakvlakke nie. Beide egter, word deur die Skrif afgewys. Apartheid raak geen grond wanneer die Gebod duidelik spreek om jou naaste lief te hê soos jouself nie. Homoseksualiteit kan weer geen vervulling vind in die liefde nie, omdat nét die verhouding tussen man en vrou daartoe verorden is. Tragies dat beide hierdie raakvlakke, BINNE die kerk sanksioneeris is, wat eers deur n geheime organisasie gedryf is en later deur die Algemene Sinode tot beginsels verhef is. Kommunisme was n floue weerkaatsing hiervan.
Het jy die boek gelees, Fanie? Ek het. Die boek is goed nagevors. Anders as teologie self, is Fourie se boek op primere bronne gebasseer.