Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Citrusdal se gemeenskap spring self in om hulle mense wat swaarkry te help na die dorp se toegangspaaie verspoel het.
Citrusdal se gemeenskap het self ingespring m hulle mense wat swaarkry te help na die dorp se toegangspaaie verspoel het. Foto: Cederberg Local Municipality Facebookblad

Gemeenskap staan mooi saam, sê dominee op ‘eilanddorp’ omring met vloedwaters

Dit is vir hom mooi om te ervaar hoe die gemeenskap saamwerk, maar hulle het ook uitdagings vertel ds Rudi Janse van Vuuren vanuit Citrusdal, die dorpie aan die voete van die Cederberge wat in Julie vir ‘n tweede keer vanjaar van die buitewêreld afgesny was na al die toegangspaaie verspoel het.

Hy noem van miljoene rande se geskatte skade aan vrugteboorde en lykshuise wat vol raak. Honderde mense, ondermeer uit die informele woonbuurt langs die Olifantsrivier, was ook sedert die naweek dakloos met sommige wat net die klere aan hulle lyf oor gehad het. Net hulle as gemeenskap kon help tot die owerhede kon slaag om ‘n plan te maak met die herstel van ‘n pad of twee. Eers teen Woensdag was een pad oopgestel.

Honderde mense is dakloos met sommige wat net die klere aan hulle lyf oor het. Foto’s: Verskaf
Daar is ook mense, ingesluit kinders, wat bly in ACT se saal.
Drie etes per dag word gekook by ACT se saal. Foto: Verskaf

Vir Van Vuuren is hierdie sy eerste ervaring van gestrand wees op ‘n “eilanddorp” na hy vanuit Prieska in die Noord-Kaap hierheen beroep en in Mei as leraar bevestig is by die NG gemeente hier.

Vir die dorpenaars is die situasie meer bekend na die dorp verlede jaar ook weens vloedwaters afgesny was. Daarom het die dorp nou ’n rampspan waaraan al die kerke en hulporganisasies deelneem om noodhulp te koördineer. Van Vuuren vertel so is besluit dat al die kos en klere gestoor word in die saal van ACT (Action for Community Transformation), ’n NPO waarin hulle gemeente saam met die VGK ’n hand in die ontstaan daarvan gehad het. Van hier af word dit versprei onder meer na die gemeenskapsaal waar van die hawelose mense gehuisves word. Daar is ook mense, ingesluit kinders, wat bly in ACT se saal.

Lees ook: Kerk wat werk-reeks: ‘Ons glo projekte moet onafhanklik word’ | Fokus op NG Kerk Pongola in KZN

Hy sê dit is vir hom mooi hoe die hele dorp saamwerk. Een besigheid het begin brood bak toe hierdie stapelvoedsel begin skaars word op die winkelrakke. Mense bring groente, komberse, baba en ander klere na ACT se saal. Hier word ook drie etes per dag gekook. “Ons kyk maar waar ons hulle kan ondersteun te midde van die massiewe uitdaging dat ons niks in die dorp kan inkry nie,” vertel hy en voeg by: “Hier is ’n klomp mense wat erge trauma beleef het, maar die gemeenskap staan ongelooflik saam. Dit is spesiaal”.

Só kan jy help:

Donasies kan inbetaal word aan ACT by Standardbank, rekeningnommer 30 118 577 8 (Swiftcode SBZAZAJJ)

  • Berig aangepas sedert publikasie.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top