“Kleindorpse leraar, dankie dat jy getrou bly aan God in jou kerk en gemeenskap.
Moenie moedeloos word nie.”
So skryf ds Ivor Swartz op 17 Julie op sy Facebookblad, ’n ‘post’ wat ook die nuutste Vrydagnuus van Kaapkerk gehaal het. Swartz was vandeesweek die spreker by drie aandbyeenkomste as deel van ’n jeugweek wat deur honderde tieners bygewoon is in die ouditorium van die NG Moederkerk op Riversdal.
Die “kleindorpse leraar” na wie hy verwys is ds André Jordaan wat hierdie jaarlikse instelling begin het toe hy 30 jaar terug as jong dominee sy eerste beroep by dieselfde gemeente aanvaar het en steeds as enigste voltydse leraar bedien.
By navraag vertel ’n opgewonde Jordaan dat hy na al die jare steeds voluit betrokke is met die geestelike bediening van jongmense. Hy vat leiding by die tienerbediening by twee van die dorp se drie skole en klink so trots soos ’n pa wanneer hy vertel van die 50 jeugleiers wat hy opgelei het om weekliks tienergespreksgroepe te lei. “Hulle is die ruggraat van die jeugbediening op ons dorp. Ek sal oorlog toe gaan met hulle”, sê hy.
Lees ook: Gemeentes: Só kan jy jong entrepreneurs uit townships as ’n Nelson nomineer
Die jaarlikse jeugweek beskryf hy as ’n “ware gemeenskapsprojek”. Hulle is drie kerkleiers wat dit saam beplan: hy, sy kollega, ds Tertius Lamprecht van NG Gemeente Riversdal-Wes en pastoor Francois Barnard van die AGS. Laasgenoemde het ’n orkes op die been gebring wat elkeen van die drie aande se voorsang gelei het.
Ook die skoolhoofde van al drie plaaslike hoërskole ondersteun die projek. Die Hoër Landbouskool Oakdale se onderwysers ry selfs die tieners wat wil kom met busse aan.
Elke jaar nooi hulle ’n spreker (voriges sluit in name soos Rodney Seale, Cassie Carstens en Manie Botha). Vanjaar het Ivor Swartz, ’n NG dominee van Gauteng en die skrywer van “Die verlore seun vannie Gaatjie” sy storie kom vertel.
Dit is wat Ivor Swartz op sy Facebookblad geskryf het (hier vertaal uit Engels na Afrikaans):
Geen foefies nie.
Geen groot begroting of internasionale sprekers nie.
Geen valse beloftes van wonderwerke en genesings nie.
Net honderde tieners in ’n klein dorpie genaamd Riversdal wat God aanbid, in ’n NG Kerk.
Ek het gebid: “Laat die aanbidding oor U heiligheid gaan, nie ons gawes nie”
Daar is ’n beweging van God onder kleindorpse kerke wat getrou die volgende generasie bedien – dikwels sonder enige fanfare of nasionale erkenning!
Maar die kerkplantende “kenners” laat ons glo dat God van die stede na buite beweeg.
Gelukkig weet ons, die lewende God soek aanbidders wat in gees en waarheid aanbid; nie in strategie en invloed nie!
Kleindorpse leraar, dankie dat jy getrou bly aan God in jou kerk en gemeenskap.
Moenie moedeloos word nie.
Moenie opgee nie.
God het jou geroep vir ’n tyd soos hierdie.