Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Kerkmusiek: Dit is maklik om kerke in een van hierdie twee wye, algemene kategorieë te plaas: tradisioneel óf modern.
Kerkmusiek: In die vooruitsig is ’n Skool vir Himnologie (kerkmusiek) by Hugenote Kollege waar dr Riaan Steyn se praxisteorie vir ’n kerkmusiekkurrikulum geïmplementeer gaan word, berig Doret Niemandt. Foto: Die musiekspan by die Algemene Sinode-sitting in 2023.

Kerkmusiek: Kurrikulum wink vir die NG Kerk | Doret Niemandt gesels met Riaan Steyn


Kerkmusiek is ’n onmisbare deel van die erediens. Daar behoort baie meer gedoen te word om dit te ontgin. Dr Riaan Steyn skryf hieroor in sy tesis vir ’n PhD aan die Universiteit Stellenbosch getiteld “’n Himnologiese praxisteorie vir ’n ekumenies-gereformeerde Suid-Afrikaanse kerkmusiekkurrikulum vir opleidingsgebruik binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika”. Doret Niemandt vind meer uit.

 

Sondagoggend stap jy net na die lofsang in by die kerk. Vanoggend was weer een van daardie oggende en jy is vreeslik laat. Sjoe, gelukkig het jy nog niks gemis nie! Dit is hoe ons baie keer dink oor die erediens, sê Steyn.

Die voorsang is amper soos die voorgereg, jy is mos eintlik daar vir die preek, die hoofgereg. Ons mis dan egter uit op ’n geheelmaaltyd wat versigtig, biddend en afwagtend beplan is. ’n Liturgie met musiek om ons te begelei in ’n ontmoeting met God.

Kerkmusiek het geen enkele ‘bloudruk’

Dit is maklik om kerke in een van hierdie twee wye, algemene kategorieë te plaas: tradisioneel óf modern. Hierdie keuse word gewoonlik gemaak op grond van die kerk se aanbiddingstyl. Is daar ’n tannie agter die orrel of ’n hele orkes op die verhoog?

Steyn verwys na Thomas Long se worship wars – verskillende aanbiddingstyle word teenoor mekaar gestel. Kerkmusiek is egter glad nie so eenvoudig nie en musiekstyle, of eerder aanbiddingstyle, hoef nie teenoor mekaar te staan nie. Daar is nie ’n bloudruk vir “kerkmusiek” nie, sê Steyn.

Kerkmusiek was nooit ’n “genre” nie. Die tye verander, en soos wat die konteks verander sal daar altyd misnoeë wees met ’n sekere styl van kerkmusiek.

Dr Riaan Steyn

Dit is juis die unieke konteks van elke gemeente wat vir Steyn van kardinale belang is wanneer dit by kerkmusiek kom. Soos wat ons met die Bybel omgaan, sê hy. Ons gebruik dieselfde teks, maar in elke gemeente klink dit anders.

Dit word geïnterpreteer vir daardie gemeente se unieke situasie – die fokus verskil. Eenvoudig gestel, gemeentes kan dieselfde liedere sing, maar in elke gemeente klink dit anders. Die genre en musiekverwerking en instrumente verskil.

LEES OOK | FOKUS OP KERKMUSIEK: Só werk die vereistes en voordele van jou gemeente se kerkmusieklisensie 

Die teks en liturgiese musiek klink noodwendig anders in verskillende tye van die kerklike jaar, maar hou ook die konteks hermeneuties in gedagte. Die teks en liturgiese musiek kan dus anders klink in ’n gemeente in die Karoo as in ’n gemeente in Pretoria-Oos. Sodat elke gemeente God kan ervaar wanneer hulle saam aanbid.

Dit is die liturg se taak om ’n ruimte te help skep waar mense God kan ontmoet. En dit gaan verskil van gemeente tot gemeente. Steyn werk met ’n narratiewe benadering – mense se stories, se lewens, is belangrik tesame met die alles-bepalende konteks. Kerkmusiek kan dus nie staties wees nie.

Fyn aanvoeling nodig

Hiervoor het die dominee en die musiekleier ’n fyn aanvoeling nodig. Die liturg moet ’n sensitiwiteit ontwikkel en die regte kennis en vaardighede hê om hierdie ruimte te skep.

Dit is hier waar Steyn meen kerkmusiekkurrikulum inkom. In die Suid-Afrikaanse ekumenies-gereformeerde konteks bestaan tans geen praktykgerigte kerkmusiekkurrikulum wat op die opleiding van himnoloë fokus nie.

Steyn het verskillende peilings himnologies ondersoek: Ekklesiologies, teologies, musikologies en kurrikulêr.

Aanbidding in die Bybel

Hoe het aanbidding in die Ou en Nuwe Testament gelyk en hoe het dit deur die kerk se geskiedenis (ekklesiologies) verander? ’n Breë verstaan van hoe ons denke oor musiek in die kerk deur die eeue heen verander het, en hoe die Algemene Sinode daaroor oor dekades heen gedink het, is ’n deurslaggewende beginpunt vir ’n kerkmusiekkurrikulum.

Behalwe vir hierdie belangrike agtergrond, is daar ander vakke in teologie en musikologie wat onontbeerlik vir so ’n kurrikulum is. Steyn beskryf dit as ’n transpirant wat bo-oor mekaar gesit word.

In beide dissiplines is daar vakke wat oorvleuel en wat mekaar kan aanvul met die skep van ’n nuwe kurrikulum. Asook ander dissiplines. Ons praat dus van ’n intra- en interdissiplinêre benadering, sê Steyn.

In so ’n kurrikulum moet die ekklesiologiese landskap dus verstaan word en ’n interdissiplinêre benadering geïnkorporeer word. Steyn se tesis dien as roetemerker, of praxisteorie, vir ’n praktykgerigte kerkmusiekkurrikulum. Die kurrikulum-praxisteorie is ook aanpasbaar in verskillende kontekste en tradisies.

Nadenke oor e-rituele

Aangesien dit die eerste is in sy soort, gaan dit van die grond af opgebou moet word. Daar moet byvoorbeeld gedink word oor e-rituele.

Hoe kom ’n gemeenskap van gelowiges “saam” en word ruimtes geskep wanneer ’n erediens ge-stream word? Dit sal ’n vakgebied wees soos Musiektegnologie of Himnotegnologie.

Daar is verskillende nuwe himnologiese vakke deur Steyn voorgestel wat bestaan uit die verskillende dissiplines wat nou himnologies saamgevoeg word as een komplimentêre vak.

In die vooruitsig is ’n Skool vir Himnologie (kerkmusiek) by Hugenote Kollege waar Steyn se praxisteorie vir ’n kerkmusiekkurrikulum geïmplementeer gaan word. Studente sal dus himnologie kan studeer en as deel van die verskillende bane van predikantwees, kan bedien in ’n gemeente.

Iets van God se koninkryk

Op ’n Sondagoggend stap jy by die kerkgebou in en word gegroet met ’n warm handdruk. Jy ruik die koffie vir na die diens wat reeds in die kombuis prut.

Jy hoor die kerkmusiek wat die gebou vol maak. Jy gaan kry ’n sitplek en sit jou selfoon af. Jy groet die tannie en oom wat agter jou sit. Liturgie spoel deur alles.

Dit is die liturgie van die lewe, sê Steyn. Al die momente waar iets van God se koninkryk deurbreek en ons iets van God kan ervaar.


  • Dr Riaan Steyn werk by Welgemoed-gemeente as musiekdirekteur en Traxtudio.
  • Dr Doret Niemandt is predikant van die NG Gemeente Valleisig.
  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Kerkmusiek: Kurrikulum wink vir die NG Kerk | Doret Niemandt gesels met Riaan Steyn”

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.