’n Oorspronklike kunswerk wat die tragiese maar ook merkwaardige lewe van Krotoa herdenk en ook op visuele wyse met die NG Kerk in verband bring, is Vrydagaand (26 Julie) by die Groote Kerk in Kaapstad bekendgestel.
Tradisionele leiers, plaaslike politici, sowat 50 gaste, asook di Marietjie Steyn en Riaan de Villiers van dié historiese gemeente, het toegekyk hoe die kunstenaar Dieuwke-Jean Linee teen sterk skemer die muurportret van agter ’n swart doek onthul in die smal steeg waar die kerkgebou se kloktoring, wat uit 1704 dateer, pryk.
“Sy is die moeder van ons nasie,” het Danab Bradley van Sitters oor Krotoa gesê, ’n Khoekhoen-vrou, wat onder meer as tolk vir die Nederlandse koloniste opgetree het en in 1662 gedoop en as lidmaat bevestig is in dié gemeente wat haar lewe nou herdenk.
Susanna Swarts, al die pad van Van Rhynsdorp, het gesê sy kry Krotoa eintlik jammer. “Sy was eintlik ’n slaaf. My hart gaan uit oor haar. Maar die trane moet ek terughou.”
Oor Linee se kunswerk, wat die dualiteit van Krotoa se lewe uitbeeld as twee aparte figure waarvan een huil, het Swarts gesê: “Dis trane wat rol, dis oë wat praat. Dit vra om hulp, dit vra om vergifnis, dit vra om mens te wees.”
Linee, die kunstenaar, vertel: “Krotoa was ook bekend as Eva van Meerhof, die naam wat aan haar gegee is deur kolonialiste. Dit is een persoon, maar twee dele van haar lewe wat ek uitbeeld.”
Niemand het net een storie nie, het Steyn in ’n verwelkomingswoord gesê. “Vir baie is hierdie plek (Groote Kerk) ’n plek van uitsluiting. Ons kan nie en ons sal nie daardie storie ontken nie. Maar dit is nie die enigste storie nie. Dit is ook die gemeente wat Krotoa gedoop het. Waar sy van die nagmaalbeker gedrink het,” aldus Steyn.
In ’n verklaring het die Groote Kerk die viering, wat ook op die vooraand van Vrouemaand in Augustus val, as volg verduidelik: “Amongst the many former Cape governors, political figures and rich landowners buried at the Groote Kerk, lies the mortal remains of a truly significant ancestor whose life and story is an important reminder of the various challenges and traumas that we continue to face as society and country today. Hers is a story of loss, displacement, abuse, hope, courage and strength which tragically ended in rejection and abandonment. This remarkable South African woman who was named Krotoa at birth, and later baptised Eva by our congregation died on 29 July 1674.
“She is described as translator, negotiator and peacemaker and on the weekend of 26-28 July 2024 we will celebrate the life and story of Krotoa – Eva, the first Khoi member of our Groote Kerk congregation, together with a variety of partners and collaborators we will host the following weekend program and members of the press are invited to attend.”
- Lees meer oor Krotoa: https://ecke.co.za/eva-2/
- Lees meer oor die diens by Groote Kerk: https://grootekerk.org.za/krotoa/