Ons kan uit die hok van armoede ontsnap
Deur Braam Hanekom
Uitgewer: Barnabas Uitgewers, 2024
Resensent: Scherlize van der Merwe
Die skrywer klink reeds in die titel van die boek oortuig van sy saak: Ons kan uit die hok van armoede ontsnap. Hy help dan lesers om hierdie “hok” te verstaan en moedig lesers aan om te leer hoe denke, lewe en reëls buite hierdie hok kan lyk.
Die meeste mense worstel met die bestaan van armoede in Suid-Afrika. Daar word dikwels rondom braaivleisvure gesels en gekla oor die omvang van armoede en wat dit tot gevolg het. Die armoede voel so groot, dat dit bykans onmoontlik lyk om op te los. Ons hoor dikwels van jongmense wat juis om hierdie rede ons mooi land verruil vir “groener” weivelde.
Hierdie boek is ook ’n poging om lesers se verbeelding rondom die bydrae tot die oplossing van armoede aan te wakker. Hanekom maak dit duidelik dat ons nie armoede ooit sal kan uitwis nie, maar dit hoef ons nie te keer om ’n poging aan te wend om waardigheid terug te gee aan diegene wat niks meer oor het nie.
Hanekom plaas lesers in die skoene van dié wat vasgevang is in die hok van armoede, deur te beklemtoon hoe armoede bogenoemdes kan stroop van potensiaal en waardigheid. Hy verduidelik dan hoe dit die samelewing raak.
Verder word daar fokus geplaas op rolspelers wat ’n verskil kan maak in die ontsnapping uit die “hok van armoede”: individue, die regering en natuurlik die kerk. Hanekom spandeer een hele hoofstuk om lesers te oortuig dat die kerk se hart nie by God kan wees en dan nie by die armes nie, want daar is hoop buite die “hok”.
Hy skryf realisties dat die verligting van armoede nie ’n oornag verskynsel is nie, maar ’n verandering en toewyding aan kleiner take oor tyd wat eilande van hoop kan skep. Hy verwys ook na voorbeelde soos die onderwysstelsel, vroeëkinderontwikkeling, die ingrype van kerke, maatskaplike toelaes, kriminaliteit, misdaad en korrupsie.
Vir mense met ’n behoefte daaraan om armoede in ons land te verstaan en op ’n manier ’n bydrae wil maak, maar nie weet hoe nie, kan hierdie boek waardevol wees.
Beskikbaar by CLF.
Ds Scherlize van der Merwe is predikant van NG Gemeente Ysterplaat.