Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Sy is veilig | Mensehandel: die wreedheid onder ons neus


Sy is veilig deur Emma van der Walt

Uitgewer: LUCA, 2024

Resensent: Rethie van Niekerk

 

Sy is veilig is nie ’n maklike lees nie. Die tema van mensehandel word kaalvuis aangepak en sal enige leser omkrap. Verder lees dit meer soos ’n praatjie, waar die skrywer wissel tussen anekdotes en inligting. Dit sou lesers gehelp het as die skrywer gekies het vir óf ’n meer gestruktureerde oordra van inligting – met staaltjies om dit te onderstreep, óf ’n oorkoepelende verhaal, dalk selfs ’n outobiografie wat haar betrokkenheid by die stryd teen mensehandel beskryf.

Tog wonder ’n mens: Kan enige iemand bekostig om nie hierdie boek te lees nie? Emma van der Walt krap die waarheid van die wreedaardighede wat onder ons neus, in ons midde, in voorstede en agterplase aan die gang is, met byna tasbare passie oop. Die dringendheid is duidelik.

Tussen die verhale van spesifieke vroue en kinders kom die leser onder die indruk van die skrikwekkende omvang van mensehandel, veral in Suid-Afrika. Van der Walt help haar lesers om te verstaan hoe vroue in mensehandel vasgevang word, asook die manier waarop traumabinding, geweld, dreigemente en (dikwels gedwonge) dwelmafhanklikheid hulle in slawerny hou. Die verweefdheid van sekswerk met kriminaliteit en geweld teen vroue word duidelik blootgelê. Die onderduimsheid van hierdie onderwêreld word ontstellend ontbloot wanneer daar gepraat word oor sogenaamde “sendelinge”, of die manier waarop kerke gebruik word. Ook die aandadigheid van sekskopers word helder belig.

Een ding is seker: ’n Mens kan nie Sy is veilig lees en ooit weer onaangeraak wees as jy ’n sekswerker sien, by ’n bordeel verbyry, of selfs ’n dwelmafhanklike op die sypaadjie sien lê nie. Van der Walt se deernis is pynlik aansteeklik.

Sy is veilig bied ook prakties ’n aantal gebede, voorstelle vir betrokkenheid, asook skakels na hulpverleningsorganisasies, onder andere Van der Walt eie organisasie, Brave to Love (bravetolove.org).

Beskikbaar in beide Afrikaans en Engels by LAPA.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.