Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Petrus Kriel van Levubu skryf: Die voorsitter en algemene sekretaris van die ASM het hulleself verhef tot wat genoem word globale spirituele leiers. So het hulle twee die NG Kerk aan ’n standpunt van ’n groep, wat hulle self as Globale Christelike leiers sien, verbind. Daarmee is in effek die hele NG Kerk en al sy lidmate deur hierdie twee predikante verbind tot ’n groep mense wat feitlik onbekend is. Hulle het nou die dagbestuur van die ASM oortuig om vir hulle eensydige optrede ’n algemene biddag vir die NG Kerk uit te roep op 6 Oktober 2024.
LEES OOK: Voorbidding vir Israel-Palestina
Die saak wat hulle die NG Kerk so aan verbind het, is die konflik in die Midde-Ooste. Deur hierdie twee predikante se handtekeninge is die NG Kerk verbind aan ’n dokument wat die konflik met die volgende ideologiese interpretasie so stel: “Nonviolent resistance to prolonged occupation has been met with unjustified violence by Israel and has been delegitimized by ill-considered condemnation from parts of the international community. This has contributed to a growing belief among many Palestinians in the West Bank that armed resistance is both legitimate and effective, even inevitable. This growing conviction is contrasted with a perceived failure and impotence of the commitment to non-violent resistance, peacebuilding, and reconciliation that, as Christians, we share and support. On all sides of this conflict, belief in the possibility of peace and the commitment to non-violent approaches is waning.”
Die NG Kerk word nou op ’n biskopale wyse deur predikante, wat hulleself sien as spirituele leiers, opgeroep om met ’n gebedsdag hierdie waanbeeld in die kerk in te dra. Hierdie ideologisering van die kerk se gebed word vals vroom nou voorgehou as “’n daad van liefde.”
Verlede jaar wou twaalf geestelike leiers van die NG Kerk ook op soortgelyke wyse die NG Kerk met so ’n tipe gebedsdag verbind om deel te word van die opbouende politieke verset teen die ANC-regering, en so sou hulle die versetblok, wat deur die DA gelei is, se spirituele leiers geword het. Toe breek die DA met hulle eie versetgroep en word deel van die RNE. Met hierdie politieke realiteit het hulle spirituele magsdrif in niksseggendheid verdwyn.
Nou het ons twee spirituele leiers wat die NG Kerk in sy geheel by ’n internasionale konflik wil laat inkoop met ’n gebedsdag. Dit het tyd geword dat die NG Kerk hierdie opbou van ’n biskopale kerk van bemagtigde spirituele leiers aanspreek. Ons is immers ’n presbiteriale kerk met regerende en lerende ouderlinge – lerende ouderlinge wat gewone bedienaars van die Woord van God is, en nie globale spirituele leiers is nie.