Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Is ons dalk onwetend skuldig aan Ouderdomisme (“Ageism”)?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Albin Bowler van Bellville skryf: Ouderdom is een van die eerste eienskappe (saam met ras, geslag en fisieke gestremdheid) wat ons raaksien wanneer ons iemand die eerste keer ontmoet.

Ouderdomisme gebeur wanneer ons mense beledig, seermaak, benadeel en verontreg op grond van hul ouderdom. Dit erodeer die liefde tussen generasies.

Ons kan ouderdomisme eenvoudig beskryf as diskriminasie weens ouderdom. Dit bestaan eintlik uit drie liefdelose dimensies, nl.: stereotipering (ons gedagtes), vooroordeel (ons gevoelens) en loop uit op diskriminasie (ons gedrag). Hierdie drie dimensies is ook ter sprake by rassisme, seksisme en ander “-ismes”.

Die tragiese aspek is dat diegene wat teen senior volwassenes diskrimineer, gaan eendag self deel van die groep word.

Sienings wat voorbeelde is van ouderdomisme, bv.:
• ouer persone is broos, stadig, onbekwaam en vriendelik, m.a.w. alle senior volwassenes is dieselfde,
• jong volwassenes is lui, ongeduldig, beterweterig en materialisties.

Die skrywer fokus op senior volwassenes bo vyf-en-sestig jaar.

Ouderdomisme kan selfs oorveuel met ander “-ismes” soos rassisme, seksisme of en “ableism” wat die benadeling vererger.

Daar is ‘n skerp fokus in Suid-Afrika op grond van rassisme en seksisme. Die samelewing vaar heeltemal korrek uit teen, bv. rassisme en seksisme, maar ouderdomisme word egter toegelaat. Rolspelers in die samelewing, bv. politici, onderwys, media en selfs kerke gee baie minder aandag aan ouderdomisme. Gevolglik staan minder daarteen op as met die ander “-ismes”.

Die volgende kan binne die NG Kerk-gemeenskap oorweeg word:
– Net soos Diensleraars, behoort Vol Leraars ook na 70 jaar te kan voortgaan met dienswerk in gemeentes. Die leraar se gesondheid en geestestoestand behoort eerder ‘n belangrike oorweging te wees. Die keuse behoort te lê by die leraar self en die gemeente.
– Net soos daar modules in Jeugbediening by Fakulteite: Teologie is, behoort daar ook modules te wees in Bediening aan Senior Volwassenes.
– Net soos daar by Hugenote Kollege, bv. ‘n sertifikaatkursus is in Familie- en Jeugbediening, behoort daar ook ‘n sertifikaatkursus te wees in Senior Volwasse-bedieningvaardigheid.

Ons moet ook oplet na ons woordeskat wanneer ons oor ouer persone dink, skryf en met hulle praat:
– Weens die groei in die ouer bevolking, praat sommige skrywers van ‘n silwer tsoenami, wat ‘n negatiewe beeld skep.
– Verkleinwoordjies bv. die ou mensies, ens. Verkleinwoordjies bevestig die vernederende jammerte teenoor senior volwassenes, want hulle word as afhanklike kinders beskou.

Ons kan ‘n wêreld skep en bestuur vir alle ouderdomme – ook vir ouer persone. Dit is tyd om duidelik NEE te sê vir enige vorm van ouderdomisme!

  • Bowler bestudeer gerontologie vanuit ‘n teologies-pastorale perspektief. Hy fokus op veerkragtige veroudering en aspekte wat remmende faktore is, bv. ouderdomisme en die mishandeling van ouer persone.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top