Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Cas Wepener | Kaalvoetkennis …


Om te ken behels ’n lyflike kennis. Ons ken juis ook deur ons sintuie. Dit beteken dat my voetsole oor skerp rotspunte en skulpe wat sny loop wanneer ek oor “armoede op voetsoolvlak” in Suid-Afrika lees. Ek dink daar is kennis wat ek slegs kaalvoet kan optel wat nou krities belangrik is in ons land, skryf Cas Wepener.

My laerskoolvriendjie se gesin het uit Nederland na Suid-Afrika geëmigreer. En wanneer ek by hom gaan speel het, moes ons ons skoene by die voordeur uittrek en dan op ons sokkies in die huis rondloop. Dit is ’n totaal ander belewenis van ’n ruimte wat jy kry, as jy nie sole tussen jou en die vloer het nie. Wat jy met jou stewels aan nie weet nie, weet jy nou – mat, plank, teëls. Jy voel ook nat vloer, skoon vloer, sanderige vuil vloer. En dikwels is daar een toon wat meer voel as die ander nege tone weens daardie gaatjie in die een sokkie.

Toe ek onlangs weer by Europese mense my skoene moes uittrek, het ek aan die woord “voetsoolvlak” gedink wat ons dikwels in koerantberigte sien. Ek weet wat met “voetsoolvlak” bedoel word. Maar hoe meer ek oor die woord wonder, hoe meer besef ek dat ek op verskillende maniere kan ken en kennis kan hê. Ook hoe ver vanaf voetsoolvlak ek in ons land leef. As ek terugdink oor my lewe, besef ek dat ek sekere dinge al vir dekades weet, maar nooit besef het nie. Wat natuurlik in sigself iets vertel van hoe ’n mens dinge kan weet sonder om te weet dat jy dit weet. Kom ons noem dit kaalvoetkennis.

Luister ook: Kollig | ‘Dit gaan dieper as wat jy van buite sien …’ – maatskaplike werker vertel oor werk met haweloses

Die meeste mense beleef dié soort ken en kennis veral in sekere seisoene van die jaar. So byvoorbeeld trek meer mense hulle skoene en sokkies in die somer uit. Warm seesand wat tussen jou tone deur krul. Rotspunte en skerp skulpe wat jou voelsole gaar steek. Yskoue seewater wat onder jou voete wegtrek en jou in die nat sand tussen seeslakke insuig. En jy besef, dikwels sonder om te besef dat jy besef, dat jy juis deur jou voetsole in voeling is met somer en vakansietyd. Somer ken ’n mens deur jou voete en jou vel, veel meer as deur kopkennis.

Dit is lekker kaalvoetkennis daardie – om so op sokkies die binnekant van ’n Europese huis te verken of deur jou voetsole aan Mosselbaai se strande te vat. Dit is egter nie die voetsoolvlak waarna die ekonome gewoonlik verwys nie – daardie sogenaamde “grassroots level”. Ekonome het gewoonlik arm mense in die oog. Mense wie se voete loop waar myne nie loop nie; die ellende van ons land raaktrap en so dinge weet wat ek in my wildste verbeelding nie kan sien nie. Want kyk, daar is ken en daar is ken. Dit weet die Bybel ook, want in beide die Grieks en die Hebreeus kan “ken” onder meer ook na geslagsgemeenskap verwys. Om te ken beteken nie net om met jou verstand ’n artikel oor die ekonomie te snap nie. As jy oud genoeg is sal jy onthou hoe ’n dominee met ’n verhewe stem op die kansel gesê het: “En Abraham het haar beken”. En jy het in jou kinderverbeelding gesien hoe Abraham sy hand na ’n vrou uitsteek en “aangename kennis” sê. Toe nou nie.

Om te ken behels ’n lyflike kennis. Ons ken juis ook deur ons sintuie. Dit beteken dat my voetsole oor skerp rotspunte en skulpe wat sny loop wanneer ek oor “armoede op voetsoolvlak” in Suid-Afrika lees.

Ek dink daar is kennis wat ek slegs kaalvoet kan optel wat nou krities belangrik is in ons land. Die probleem met my is, ek sien nie die brandende bos nie. Ek hoor nie die stem wat vra dat ek dringend, maar dringend, my skoene moet uittrek nie.

Lees ook: Marius Nel: God se kweekhuise vir wellewende mense

Kom ons verbeel ons vir ’n oomblik dis Sondagoggend. Kerk begin 9:00. Ek stap kerk toe of parkeer naby die kerk. Ek stap tot by die ingang, maar daar staan my Nederlandse vriendjie se ma as ouderling wat met ’n wysvinger na my skoene beduie en sê: “Trek uit. Sokken ook, hoor!”

Ek tree kaalvoet oor die drumpel. Eers vanaf die sementblad voor die gebou na die koue leiklipingang en dan stap ek af in die paadjie op die dik rooi mat. En hier is die vrae vir my kaalvoet eksperiment … “wie is God wanneer ek eers my skoene uittrek voordat ek in die kerk instap?” “En op watter manier weet ek nou wie my naaste is?” “Is daar ’n verskil in my kennis van God wanneer ek ongepantser onder my voetsole in die kerkbank sit met die houtvloer onder my sole?” “En hoe voel voetsoolvlak onder my sole wanneer ek hoor ek moet my naaste liefhê soos myself?” “Is daar dalk iets broser aan kaalvoet ken – die ken van God en mens?”

Die seën is uitgespreek en die diens is klaar. En die Hollandse tannie by die deur wil nie my skoene en sokkies vir my teruggee nie. Sy sê nee, betree op voetsoolvlak nou die liturgie van die lewe. En in my hand druk sy ’n teksversie om saam met my te vat, drie versreëls uit ’n gedig van Wilma Stockenström. Ek kyk af en lees:

Om te weet waar ek trap

onderaardse riviere vlermuisstil

vloei, laat my bedeesder trap

En loop die wêreld kaalvoet tegemoet. Ek lees die Sondagkoerant met my vel asof dit in braille geskryf is. En ek weet … dat daar dinge is wat ek nie weet nie. En ek moenie nader beweeg aan die mense op voetsoolvlak in ons land, voordat ek my sandale uitgetrek het nie. Want miskien, net miskien, brand die bos in ons land juis daar waar mense elke dag op voetsoolvlak leef. Ja, daar is ken, en dan is daar kaalvoet ken.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top