Op 16 Oktober vanjaar was NG Gemeente Brackenfell-Wes die gasheer vir die jaarlikse samekoms van die Great Commission Network/NG Vennootskap. Hulle gemeenteleraar, ds Jacques Strydom vertel meer.
Elke jaar steek lidmate van ’n paar gemeentes van Khayelitsha die sogenaamde “boereworsgordyn” oor om saam met lidmate van gemeentes in die noordelike voorstede van Kaapstad te kuier. Soos pastoor Aaron Makili van Disciples of Christ altyd sê “we came over the fence”.
Lees ook: ’n Brug tussen Brackenfell en Khayelitsha
Op vanjaar se byeenkoms was ons openingsteks uit Lukas 10 waar die 72 volgelinge van Jesus twee-twee uitgestuur is om vrede te verkondig, genesing te bring en bereid moes wees om ander se gasvryheid te aanvaar – wat ook al voorgesit word. Dit weerspieël die hart van hierdie netwerk van gemeentes. Die teks getuig daarvan dat ons nie maar net enkelinge is nie, maar dat ons gemeenskappe sáám beter bereik kan word. Ons het almal iets om by te dra, selfs oor ons grense heen.
Die netwerk bestaan al vir langer as agt jaar. Dit is saamgestel uit ‘tweelingpare’ van ’n NG gemeente en ’n Khayelitsha-gemeente wat saam ’n pad stap. Volgens Makili, wat die stigter van die Great Commission Network is, is die droom om dertig sulke tweelinge op te rig regoor Kaapstad. Hy vertel soms is wedersydse kompromieë nodig om mekaar se verskillende maniere van doen in ag te hou soos omgang met tyd waar hy graag grappig vertel hoe die NG gemeentes dit regkry om ’n hele diens binne ’n uur te hou.
Deur die loop van die jaar werk hierdie gemeentes op verskillende maniere saam. Op 16 Oktober is byvoorbeeld gehoor hoe ds Heerden van Niekerk en die getuieniskommissie van die NG Gemeente Welgemoed vir Makili en sy gemeente, Disciples of Christ, ondersteun. Hulle skenk kos en komberse vir die Khayelitsha-gemeente se sopkombuis en nooi van hulle tieners saam na die #imagine-jeugkampe. Makili het vertel dat dit vir hulle tieners wonderlik was om so saam met ander jongmense in hulle geloof te kon groei.
Pastoor Msele Feziwe van God’s Merciful Hands het weer vertel hoe die lidmate van die NG Gemeente Kenridge hulle in hulle diepste nood gehelp het. Tydens die winterstorms en vloede het hierdie gemeente gehelp om van sy lidmate se huise se dakke te herstel en ook die kerk self toe dit skade gely het.
Ander hou weer oor en weer dienste by mekaar. So het pastoor Linda Madikane van House of Hope hierdie jaar ’n erediens gelei by NG Gemeente Parow-Panorama. Op hierdie dag het die kerke se jeug ook lekker saamgekuier. Lidmate van Parow-Panorama woon ook dienste in Khayelitsha by. Die groot bederf was ook toe van House of Hope se lidmate roosterkoeke vir Parow-Panorama se kosmark gemaak het en almal saam op hierdie dag kon kuier.
Hierna het Truida Prekel van die organisasie SynNovation en haar span die vennootskappe gehelp om nuut en innoverend te dink oor die bou van selfs dieper verhoudings wat kan help om die nood in hulle gemeenskappe aan te spreek. Tydens hierdie sessie skryf een van die jonger deelnemers onder andere: “I wish Khayelitsha can be a crime free area so our twins can come freely.”
Daar is saamgedroom oor gebedsaande, sportdae en jeuggeleenthede en daarna is die aand afgesluit deur saam om ’n tafel te eet en te kuier … die plek waar vele verhoudings al gebou en versterk is.
As jy hierdeur bemoedig is en as gemeente aan hierdie netwerk wil deelneem, kan jy my, Jacques Strydom, by jacquesstrydom@brackenfellwes.org.za kontak.
- Jacques Strydom is gemeenteleraar by NG Kerk Brackenfell-Wes.