’n Brug tussen Brackenfell en Khayelitsha

Só klim gemeentes oor skeidsmure op hulle geloofsreis, skryf CONETTE LE ROUX.


Aaron Makili sê hy en ander Khayelitsha-dominees “came over the fence” om vanaand hier by die NG gemeente Brackenfell-Wes te wees.

“God het gesê almal wat in sy naam glo moet een wees. Hy het nie gesê swart pastore moet eenkant bid en wit dominees anderkant nie,” het dié stigter van die Great Commission gesê.

Vanaand is NG leraars en lede van die Great Commission in Khayelitsha bymekaar om hulle twee jaar lange verhouding saam te vier. En vir die proses van verhouding bou word “tweelinge”, ’n kombinasie van ’n NG gemeente en ’n Khayelitsha gemeente, saamgevoeg.

Vir Simon Motaung is die tweeling-proses wat “church in action” werklik beteken: “Now we trust each other. Our country are going through hard times. Twinning is a tool to really get to know people that you usually would never socialise with.”

’n Ander Khayelitsha-pastoor het weer by sy tweelinggemeente geleer kleu­­ters moet na die kleuterkerk ge­stuur word. Voorheen het hulle kleuters op en af tydens die diens gestap terwyl hy probeer konsentreer het om te preek, het hy vertel.

Maar maklik was dit nie. “I am not going to lie. It was not an easy process. At first we only drank coffee with white people,” het Simon tong-in-die-kies onder ’n gelag laat hoor.

Veral omdat die NG leraars en die Khayelitsha-pastore se gebruike baie verskil, het Simon gesê. “I wanted to praise God and do something. The Dutch Reformed dominees first wanted to plan the process.”

Ds Wouter van Velden van die NG gemeente Welgemoed vertel later die afstand na Khayelithsa was vir hom veral uitdagend. Sy tweelinggemeente is Disciples of Christ waar Aaron pastoor is. “Dit is moeilik en moeite om in die middae na werk daar uit te kom. Ek het een middag met my bromponie daar gaan kuier, maar toe het die honde my gejaag sover soos ek gery het. Nou ry ek maar met die kar,” het hy laggend vertel.

Ds Francois Herselman van die NG gemeente Parow-Panorama beaam ook dat daar baie uitdagings is: “Om te identifiseer met hulle omstandighede en ’n verhouding oor geografiese grense te bou, is ’n uitdaging maar is oorkombaar. Ons grootste uitdaging is om ons eie persepsies oor lidmate in Khayelitsha te veran­der.”

Maar vir elkeen was die seën en voordele wat hulle, ten spyte van die groot verskille, ontvang het, oor en oor die moeite werd.

“Alhoewel daar ’n groot gebrek aan hulpbronne vir Simon en sy gemeente is, is hy steeds passievol oor sy roeping. Hy en sy gesin woon in moeilike omstandighede maar hulle is gefokus op die uitbreiding van God se koninkryk. Die verhouding help ons om werklik dankbaar te wees, maar ook om deernis vir ons broers in Khayelitsha te ontwikkel. Vandat ons ’n verhouding begin het, het ons oë oopgegaan vir die werklikheid waarin so baie mense in Suid-Afrika daagliks leef. In gebiede wat geen infrastruktuur, min riolering, min ge­­­bou­de huise, min vervoersisteme het, is hulle steeds kerk en bring só die hoop van die evangelie,” sê Francois.

Francois dink terug aan ’n geleentheid waar ’n plaaslike aftreeoord in hulle omgewing komberse en truie vir House of Hope-lidmate gebrei het. “Elke keer as ons met mekaar skakel gebeur daar ’n wonderwerk. Ons het die dames, almal bo 75, saamgeneem en die oggend in die erediens in Khayelitsha het hulle dit self aan die lidmate oorhandig. Die mooiste was toe lidmate van House of Hope spontaan agter die dames kom staan het en hulle vasgehou het terwyl hulle dankie sê.”

“Partnership is godly,” het ds Pha­phi­le Celesi, prinsipaal van die NehemiaBybelinstituut, daarna gesê.

“Die kerk moet nie langer in silo’s funksioneer nie. Christelike kerke misluk daarin om te verenig en saam na een doel te streef,” het Phaphile aangedaan gesê.

Dr Wilhelm Verwoerd, wat hom al jare vir restitusie beywer, het afgesluit: “Dié verhoudings is die hart van die evangelie. Ons moet dieper, hoër en wyer gaan soos die liefde van Christus.”

Verander só ons land

Dié verhoudings gaan verandering in ons kerk en land bring, glo Francois. “Gemeentes wat nie ’n vennoot in ’n ander bevolkings­groep het nie, is arm. Ons kinders leer ’n nuwe taal aan en bou ’n nuwe verhouding. Ongelukkig is ons land geweldig gepolariseer, maar die kerk het die geleentheid om brûe te bou. Ek wil bid vir elke gemeente om by so ’n vennootskap betrokke te raak. Kin­ders van God het ’n verantwoor­delik­heid teenoor mekaar, maak nie saak watter taal hulle praat of hoe hulle aanbid nie. Brûe bou oor kultuur- en sosio-ekonomiese grense is tog wat Jesus kom doen het. Ons moet een liggaam wees waarbinne ons mekaar se laste dra, vir mekaar bid en bemoedig, mekaar bedien met ons gawes en deel in die vreugde van kindskap.”