Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

‘Ek is te hartseer om Afrikaans te praat’ – Christo Benadé oor moedertaal, geloof en emosie


As ervarings in ons moedertaal ’n sterker emosionele lading het, maak dit sin dat godsdienstige ervarings in ons moedertaal ook ’n groter impak gaan hê as ervarings in ’n tweede taal, skryf Christo Benadé.

Te hartseer om in Afrikaans te praat

Nika was ’n besonderse hond. Sy het lang swart krulhare gehad en 40 kilogram geweeg. Sy was ’n Black Russian Terrier, ’n unieke ras wat deur die Red Star Kennel geteel is om die Russiese soldate tydens die Tweede Wêreldoorlog te help. Die ras is baie lojaal aan hulle eienaar, gewoonlik een persoon in besonder. So het Nika my gevolg waar ek ook al gegaan het. As ek by my lessenaar gesit het, het sy langsaan in die sonkolletjie gelê. Werk ek in die motorhuis, dan lê sy tussen die houtskaafsels en geraas tot ek klaar is.

Nika was so agt jaar oud toe ons begin agterkom daar is iets fout met haar. Die veearts was die volgende stop. Foto: Verskaf

Nika was so agt jaar oud toe ons begin agterkom daar is iets fout met haar. Die veearts was die volgende stop. Sy het vermoed dat Nika kanker het, maar dit moes met ’n ondersoek onder narkose bevestig word. Ek het haar tot by die hok agter in die veearts se gebou geneem en gegroet. Gegroet met die wete, dalk is dit die laaste sien. So is ons daar weg met ’n swaar hart, wagtend op die uitslag. Op pad huis toe besef ek dat dit wreed sou wees om haar wakker te maak uit die narkose, net om haar dan te laat uitsit. Toe kom die oproep van die veearts. Ons liefdevolle, empatiese veearts wie se moedertaal Engels is, begin in Afrikaans met my praat en dra die slegte nuus oor – daar is niks wat sy vir Nika kan doen nie. Toe ek haar wil antwoord, besef ek dat ek myself nie in Afrikaans kan uitdruk om die besluit oor te dra nie. So hoor ek myself sê: “I am too sad to speak Afrikaans.”

Sterk verband tussen moedertaal en emosie

Hierdie ervaring dra ek die afgelope twee jaar saam met my. Is daar iets meer aan die verband tussen taal en emosie as bloot my ervaring, wonder ek? So lees ek die studie in die tydskrif Nature, wat in 2022 deur Marcin Naranowicz gepubliseer is, wat gevind het dat daar wel ’n sterk verband is tussen moedertaal en emosie. Tweetalige mense het ’n sterker emosionele reaksie op emosionele stimuli wat hulle in hulle moedertaal hoor. Die omgekeerde is dat ons inligting wat ons in ’n tweede taal ontvang, meer kognitief prosesseer.

Moedertaal en geloofservaring

Hierdie navorsing het ’n tweede vraag by my as leraar wakker gemaak: Wat is die implikasies van moedertaalgebruik in geloofservaring? Geloof is ’n holistiese ervaring waar ons met ons hele wese in verhouding met God staan. Ons lees die Bybel nie net kognitief nie, maar ook met ons emosies, wil en liggaam. As ons aanbid, doen ons dit met ons verstand, mond, hande, voete, oë, ore en neus. Daar is geloofservarings wat ons hoendervleis gee en ander waar ons trane afgedroog word. As ervarings in ons moedertaal ’n sterker emosionele lading het, maak dit sin dat godsdienstige ervarings in ons moedertaal ook ’n groter impak gaan hê as ervarings in ’n tweede taal.

Lees ook: Boekresensie | Burger verdiep jou begrip van verhouding met Christus en hoe dit roeping kan vorm

Die missioloog Lamin Sanneh plaas groot klem daarop dat die evangelie die effektiefste oorgedra word in ’n persoon se moedertaal. Die kerk is juis gestig op ’n dag waar die Gees ’n taalwonder (Hand 2) doen, waar elkeen die evangelie in sy eie taal hoor. Die kerk is geroep om die eeue oue evangelie voortdurend weer nuut te vertaal in elke taal en konteks. Om mense se moedertaal te gebruik beteken dat ons hulle taalwêreld respekteer met sy beelde en idiome, sodat die evangelie daar kan tuiskom, soos dit deur die jare in Afrikaans gebeur het. Die vraag na jou moedertaalgebruik is egter nie ’n ongekompliseerde vraag nie. In ons eie huis het ons kinders ’n groot deel van hulle vormingsjare in Brittanje spandeer. Vir ons as ouers het die tyd daar min verander aan die feit dat Afrikaans ons moedertaal is. Vir hulle is dit dalk anders; hulle dink, droom en ervaar dalk die lewe en geloof in Engels.

Lees ook: Kaapse ‘tweeling-gemeentes’ versterk brûe oor grense

Die beginsel bly egter dat ons elkeen ’n hartstaal het, ’n taal waarin ons liefkry, kwaad word en aanbid. In ’n land waarin daar elf amptelike tale is en nog baie meer dialekte en kleiner taalgroepe, moet ons die ruimtes behou waarin mense met hulle hele menswees kan kommunikeer en aanbid. Ons menswees is ook gekoppel aan die erkenning dat elkeen van ons ’n hartstaal het. Erkenning van ons elkeen se unieke menswees lê juis daarin dat ons respek het vir hierdie hartstale. In die woorde van pres Nelson Mandela: “If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. If you talk to him in his language, that goes to his heart.”

  • Dr Christo Benadé is leraar by NG Gemeente Suider-Strand.

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.