Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boekresensie | Burger verdiep jou begrip van verhouding met Christus en hoe dit roeping kan vorm

Verbind aan Christus deur Coenie Burger

Uitgewer: Bybel-Media, 2024

Resensent: Dewald Niemandt

Hoe lyk dit as gereformeerde mense dieper probeer gaan?

Hierdie vraag lê agter Coenie Burger se nuwe boek Verbind aan Christus.

Burger beantwoord dit namens ons Gereformeerdes deur sy diepgaande en tydige skrywe. Hy nooi die leser om die kernwaarheid van die Christelike geloof te herontdek: ons vereniging met Christus. Burger ontsluit hierdie tema op ’n kosbare wyse vir gewone gelowiges deur gebruik te maak van die stemme van die Nuwe Testament en dié van die kerklike tradisie. Van Calvyn tot Murray, van Paulus tot Johannes, help hy ons om te verstaan hoe gereformeerde spiritualiteit lyk en kan lyk.

Die boek is nie net ’n goeie uiteensetting van die teologie nie, maar dien ook as ’n boeiende pastorale gesprek wat die leser aanmoedig op hierdie dieper reis. Voor elke hoofstuk is daar tekste en aanhalings om die gesprekke te begrond in die tradisie. Daarna die uiteensetting van die teologie wat Burger kunstig in verband bring met die daaglikse uitlewing van ons geloof en die kerk se heilige taak.

Luister ook :

Burger se breedvoerige insigte oor hoe hierdie waarhede die kerk van vandag kan transformeer, is oortuigend en bemoedigend. Hy beklemtoon hoe die verstaan van ons verbondenheid aan Christus nie slegs teoreties is nie, maar hoe dit prakties geïmplementeer moet word. Hy is eerlik oor sy eie stryd met die intellektualisering van teologie, maar standvastig daarin dat teologie nie net verstaan moet word nie, maar dat ’n mens daarmee moet kan leef.

Hierdie boek is ’n waardevolle bydrae tot die teologiese denke van die Gereformeerde tradisie, maar ook die groter diskoers van teologie in Suid-Afrika. Ek beveel dit sterk aan vir gelowiges en teoloë wat op soek is na ’n dieper begrip van hulle verhouding met Christus en hoe dit hulle geloofslewe en roeping kan vorm.

Beskikbaar by Bybel-Media.

Ds Dewald Niemandt is predikant by die NG Kerk Bryanston.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top