’n Maand op reis. Van die ou reisbeskrywings wat ek gelees het, kom nou by my op: “Een jaar op reis in dienst der zending” (Frans Lion Cachet, 1896). “Om de oude Wereldzee” (Abraham Kuyper, 1907) en George Harinck se “Aan het roer staat het hart” oor sý reis in die voetspoor van Kuyper (2015). “A thousand miles in the heart of Africa: A record of a visit to the missionfield of the Boer Church in Central Africa” (Johannes du Plessis, 1905). Die afgelope maand was een van baie kilometers na die noorde, suide, weer huis toe en nóg ’n keer inpak en groet. Van ander kansels, kosters en klankstelsels leer ken. Van nuwe gesigte én ou bekendes. Van die pad vind na gedenkdatums en die onderliggende verband bedink: 12 Oktober 1994, 16 Oktober 2023, 31 Oktober 1517, 2 November 1824, 5 November 1994.
LEES OOK: Elke tree ’n storie: Kerkbode-dokkie
Dit het begin met ’n Sondagreis na ’n klein plattelandse gemeente, vroegoggend die slapende dorpie binne, die strate om die statige kerk nog koel en stil. ’n Duif, ’n klavier, harte wat na die Teenwoordige verlang, na ’n Woord vir hulle lewe saam – “Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly” (Galasiërs 5:22). In pas. Die pad daarheen, die laaste ent voor die dorp, is vól slaggate, het hulle my gewaarsku. Dit is 13 Oktober, dieselfde dag dat die Waldensian by Kaap Agulhas gesink het; die agt dominees op pad van Natal na die Kaapse Sinode van 1862 het die land Goddank veilig bereik. Van dieselfde sinode af, so is ek vertel, moes ouderling Sarel Cilliers in November 1862 voetslaan terug Kroonstad toe, ná die hooggeregshof bevind het afgevaardigdes van buite die Kolonie het nie wettig sittingsreg in die Kaapse Sinode nie. Sy maandelange staptog sou hom deur die Koue Bokkeveld neem, dieselfde landskap waardeur redakteur Le Roux Schoeman en sy klasmaat ds Alex Clark van Op-die-Berg-gemeente 175 kilometer metafories terugdraf na 1849, die geboortejaar van Kerkbode in die onlangse webdokumentêr “Elke tree ’n storie”: Kerkbode word 175 jaar oud. By die ASM-vergadering het ons stilgeraak toe hulle dié video-dokkie van hulle draftog kom wys. Die pad van ons kerk.
LEES OOK | KYK: Trane, gebed en eenheid waar die Bergrivier uitmond in die see
Die mooiste maand Oktober – dankie, daar hét reën in die Noord-Kaap en Namibië geval – is in gereformeerde kerke Hervormingsmaand. Katkisante sê die woorde van die Apostolicum; hulle bely dat hulle – soos Luther – aan Romeine 1:17 vashou, “dat die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus”, sola fide. Dit is vanjaar ’n kwarteeu sedert die Lutherse en die Rooms-Katolieke Kerk in 1999 die “Joint Declaration on the Doctrine of Justification” onderteken het, en die weg na mekaar toe begin verken het. Ander kerke sou langs die pad – soos na Emmaus – by hulle aansluit, hartverwarmend. Die 16e eeuse Reformasies was nie net ’n “hier staan ek téénoor” nie, maar ook ’n soeke na die teenwoordigheid van Christus in die gebreekte brood en daarom na mekaar, sy Liggaam. Daarvoor, het Calvyn opgemerk, is hy bereid om tien oseane te oorkruis. Hervormingsondag, 27 Oktober, was die NG Kerk Monumentpark dus gasvrou vir die Church Unity Commission se gedenkdiens. Ek was bevoorreg om die Woord te bedien: Jesus se aanhaling van Psalm 43, “dat terwyl julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan wees” (Johannes 12:27-36). Die feit dat die “Joint Declaration” dit so duidelik stel: “Justification is both a ‘declaring rigtheous’ and a ‘setting right’.” Deur genade geregverdig, en daarom geroep om reg te maak wat verkeerd is en gebreek het, om daagliks die regte weg te probeer kies. Dít was ook die tema en teks by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se driejaarlikse konferensie vroeër in Oktober: “Choose Life”. Die feit dat twee vroue uit ons afvaardiging tot die SARK se uitvoerende komitee verkies is (dr Nioma Venter en ds Lerisa Meyer) sê iets van hoe ons terugverwelkom word in ’n ekumeniese familie. Dat ook óns genooi word om lewe te kies, ’n pad van wysheid en gehoorsaamheid aan God sodat ons in die land wat Hy gee, mag woon (Deuteronomium 30:19-20). Langs mekaar sit dr Rowan Williams van Kantelberg en prof John de Gruchy en praat oor hoe “collective guilt” en “collective joy” by Dietrich Bonhoeffer onlosmaaklik saamhang. Dít is die lewe van ’n Christenmens. Dit was 19 Oktober 1945, toe juis diegene wat van die begin af teen Nazïsme opgestaan het, nógtans hulle skuld bely het: “Through us infinite wrong was brought over many peoples … We accuse ourselves for not believing more joyously, for not loving more ardently.”
LEES OOK: Dana Snyman | Gedagtes by Cottesloe: Kerk moet nooit museum word nie
Middel-Oktober het ons familie die pad Rouxville toe gevat, om op Zeekoegat om die graf van Pa Hendrik en Ma Grietjie te staan, te huil én te lag saam met die plaaswerkers en ’n neef wat Xhosa vlot tolk. Pa Hendrik, die geseënde vredemaker. Sy skaapkudde kom wei asof uit die niet op die groen gras onder die groot populierbome by ons. Tussenin ons seun op die lughawe gekry, ná hy die Portugese Camino gestap het. Langs die Groote Kerk het ons ’n geelhoutboom vir ons nageslag geplant, twee eeue ná 1824. Want die weg gaan vóórt: Paulus voor koning Agrippa, oor die groot dade van God, Christus se lyding en opstanding, dié lig vir die nasies (Handelinge 26:22). Ons het niks anders te sê nie.
Die moeilikste is om dit sáám met mekaar gesê te kry. In verskillende teologiese tongvalle. Maar ons móét. Karl Barth se woorde: “As long as Christianity exists in different and opposing churches, it denies in practise what it confesses in theory, namely the unity and uniqueness of God, Jesus Christ and the Holy Spirit.” Dít is die reformasie wat ons nodig het: ’n Reformasie van ons hart, hoe ons oor mekaar dink, na mekaar kyk, van mekaar praat. Die teerste reis, is dié reis na mekaar toe, eers na jou eie hart en nog vóór dit na die hart van God.
Gaan versigtig, soos engele, dis heilige grond.
Ds Jan Lubbe is predikant by die NG Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.