Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Hier op die koppie staan ’n monumentjie ter ere van die oud-stryders wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het, maar van die koperplate is losgebreek en waarskynlik vir afvalyster iewers verkoop. Grafiti oral. Woedende woorde in ’n woedende taal wat ons nie verstaan nie. Tussen die rotse lê ’n man en slaap, ’n leë bottel langs hom op die grond. Haweloos. Doer stap ’n ou met ’n kappiebaadjie verby, stadig, het hy dalk ’n mes in sy sak? Foto: Dana Snyman

Dana Snyman | Gedagtes by Cottesloe: Kerk moet nooit museum word nie


Dit voel of hier op die Cottesloe-koppie in Johannesburg ’n monument moet staan – ’n eenvoudige marmersuil of iets. Iets waardigs.

 

Dit is hier naby waar die Cottesloe-beraad gehou is, vir baie van ons wat in die kerk grootgeword het ’n soort skelwoord. Cottesloe. Die plek waar die kommuniste die kerk wou oorneem.

Dit is ’n koel Oktoberoggend en ek en my geliefde stap rondkyk-rondkyk hier rond en neem foto’s. Toevallig is dit Hervormingsondag.

LEES OOK | Marietjie Steyn: Hoekom is ek nog in die (NG) Kerk?

In Desember 1960 het ’n stuk of 80 afgevaardigdes van die Wêreldraad van Kerke (WRK) in een van die Universiteit van die Witwatersrand se koshuise – die Cottesloe-koshuis – hier naby vergader om die politieke situasie in die land te bespreek. Die NG Kerk was toe nog lid van die WRK. Iets in ons wil hier wees. Iets in ons is wil hê die kerk se ou woorde moet nuut in ons gebore word.

Dit was ’n paar maande ná die Sharpeville-opstande naby Vereeniging waartydens 69 protesteerders doodgeskiet is toe hulle teen die land se paswettte geprotesteer het. 1960.

LEES OOK: Johan van der Merwe | 5 November: ’n Dag van lig en duisternis

Hierdie was toe ’n ander, gevaarlike land en, wel, dit is steeds ’n gevaarlike land. Hier op die koppie staan ’n monumentjie ter ere van die oud-stryders wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het, maar van die koperplate is losgebreek en waarskynlik vir afvalyster iewers verkoop. Grafiti oral. Woedende woorde in ’n woedende taal wat ons nie verstaan nie.

Tussen die rotse lê ’n man en slaap, ’n leë bottel langs hom op die grond. Haweloos.

Doer stap ’n ou met ’n kappiebaadjie verby, stadig, het hy dalk ’n mes in sy sak?

LEES OOK | Webdokkie: Kerkbode word 175 jaar oud

By die Cottesloe-skool hier naby wapper ’n verslete nuwe Suid-Afrikaanse vlag. Jy kan nie anders as om te dink nie: Dit is wat van die land geword het: ’n verslete droom, anders as die land wat daardie 80 afgevaardigdes – 79 mans en 1 vrou – dit wou hê.

Van die 79 manlike afgevaardigdes was 18 swart predikante van oor die wêreld heen.

“Afrikaner en Engelssprekende, blank en swart, draaien om elkaar heen en beloeren elkaar. Maar weldra komen er persoonlijke contacten tussen mense van verschillende afkomst,” skryf Visser van’t Hooft, een van die afgevaardigdes. “De Bijbelstudie, de humor van elkaar en die het samen eten (alleen die Hervormde Kerk zaten altijd alleen aan een tafeltje apart) droegen by tot ontdooiing. En ten slotte was er een echte verbroedering. Mense, die niet geneigd waren sentimenteel te worden, waren diep onder de indruk.”

Alan Paton, die bekende skrywer, het die beraad as verteenwoordiger van die Anglikaanse kerk bygewoon.

Die Hervormde Kerk, wat toe ook nog deel van die WRK was, se afvaardiging het nie saam met die ander beraadgangers in die Cottesloe-koshuis tuisgegaan nie. Het glo elke aand in Pretoria gaan oornag.

Aan die einde van die beraad het die beraadgangers ’n verklaring uitgereik wat min of meer daarop neergekom het: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In elke kerkgebou moet iemand van enige ras welkom wees. Pandemonium! Dr HF Verwoerd het dadelik van regeringskant daarteen beswaar gemaak. Net vier van die NG Kerk se afgevaardigdes was ten gunste van die Cottesloe-verklaring: drr Beyers Naudé, Frans Geldenhuys, Attie van Wijk en prof Willem Landman.

Naudé was destyds die leraar by die NG Gemeente Aasvoëlkop in Northcliff hier in Johannesburg Hy het uit die kerk bedank en die Christelike Instituut help stig, ’n verligte organsie wat Christene oor grense heen bymekaar wou bring. Kort daarna is hy ingeperk deur die noodmaatreëls wat die regering destyds toegepas het. Mag net een mens op ’n slag in sy huis ontvang het. Moes gereeld by die polisiekantoor gaan aanmeld.

Die Cottesloe-koshuis is afgebreek, maar ek en my geliefde neem nog ’n paar foto’s van die koppie af, dan ry ons kerk toe. Na die Aasvoëlkop-gemeente toe, af in DF Malan-rylaan wat Beyers Naudé-rylaan geword het.

Die Aasvoëlkop-gemeente heet ook nou Aan-die-berg.

Ons skuif by een van die banke in. Ds Rudi Swanepoel praat met ’n sagte, wyse stem. Die kerk moet nooit ’n museum word nie, sê hy. Iets van die kerk se verlede moet jy onthou en eer, maar jy kan nie daarby stilstaan nie, soos in ’n museum nie. Jy moet vorentoe leef, altyd maar van die liefde probeer vorentoe gaan.

Ek herinner my aan die skrywer WA de Klerk se woorde: “For years to come the Afrikaans churches would have to grapple with the issues that Cottesloe put on the table.” Dis Nagmaalsondag. Langs my sit ’n swart man. Die blokkie brood lê spierwit in albei van ons se hande.

Ons eet dit en drink die wyn.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.