Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
5 November is ’n datum wat in die geskiedenis van die NG Kerk enersyds as ’n dag van lig maar ook as ’n dag van groot duisternis onthou moet word.
Dit was op 5 November 1980 wat die Hervormingsdaggetuienis in Die Kerkbode gepubliseer is. Wat bekend geword het as Die Getuienis was een van die eerste helder ligstrale wat in die donkerte van die kerk se apartheidsteologie deurgebreek het.
LEES OOK: Getuienis op Hervormingsdag, 31 Oktober 2024
Veertien jaar later het daar in Waterkloof in Pretoria die klank van ’n geweerskoot bo die klappers van Guy Fawkes uitgeklink om die lewe van prof Johan Heyns te beëindig. Die sluipmoordenaar is nooit gevang nie. Dié moord op ’n teoloog van die NG Kerk was ’n dag van groot duisternis.
Wat het hierdie twee gebeure met mekaar in gemeen? Die antwoord is prof JA Heyns.
Heyns was saam met prof WD Jonker verantwoordelik vir die opstel van die Hervormingsdaggetuienis wat in 1980 op 5 November deur agt teoloë van die kerk in Die Kerkbode gepubliseer is. Dit is so na as moontlik aan Hervormingsondag gepubliseer omdat dit vir die ondertekenaars groot historiese waarde gehad het. In die Getuienis is by medegelowiges gepleit om biddend te streef na:
- die uitskakeling van liefdelose en rassistiese gesindhede;
- solidariteit met almal wat deur sosiale praktyke en ekonomiese wanverhoudinge in omstandighede van verhelpbare lyding en nood gedompel is.
- ’n vorm van kerklike eenheid waarbinne gelowiges met dieselfde belydenis tot sigbare eenheid kon kom.
Die Getuienis was ’n uitdaging aan die NG Kerk en is in die woorde van dr FE O’ Brien Geldenhuys beskryf as “die grootste gebeurtenis sedert Cottesloe twintig jaar vroeër”. Die storm wat Die Getuienis in die kerk ontketen het was van so ’n aard dat ’n geheime byeenkoms van predikante uit die noordelike deel van die land op 23 Maart 1981 byeengeroep is. Die doel van die byeenkoms was om die ondertekenaars oor die kole te haal. Dit was Heyns wat na sy toespraak deur die nagenoeg 540 predikante wat teenwoordig was, staande toegejuig is. Die lig het inderdaad in die NG Kerk begin deurbreek.
LEES OOK: Artikel 32: Prosedure vir gemeentes wat by ander sinodes wil inskakel
Prof Johan Heyns sou enkele jare later nog ’n groter rol in die kerk speel nadat hy op 14 Oktober 1986 as moderator van die Algemene Sinode verkies is. Sy verkiesing het ’n nuwe dimensie aan die vergadering verleën en selfs afwagting geskep. Dit was tydens hierdie vergadering dat die NG Kerk formeel vir ’n nuwe pad weg van apartheid gekies het.
Toe kom die duisternis op 5 November 1994 met een skoot uit die geweer van ’n sluipskutter. Die geskiedenis leer dat hierdie duisternis die lig nie kon uitdoof nie.
Miskien is dit die groot boodskap wat die onthou van 5 November ook in 2024 moet bring.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.