Daar het onlangs drie goed in die verloop van een week gebeur wat my hierdie vraag laat vra het: Marietjie, wat op aarde maak jy nog hier?
Ons het 200 jaar van kerkwees gevier; ek het gehoor van ’n kollega (’n vrek goeie dominee, na my mening) wat ’n pos oorsee aanvaar het en ek het te doen gekry met die onbeholpenheid van die kerkorde. Nou, natuurlik kan die meeste van ons ’n legio ander ervaringe opnoem wat ons hierdie vraag laat vra, maar hierdie was sommer net so in die oorgang tussen Oktober en November …
Verstaan mooi, dit is nie ’n negatiewe vraag nie. Dit is ook nie ’n vraag wat impliseer dat ek my Bybel wil vat en loop nie. Dit is ’n vraag waarvan ek seker is dat daar nog ’n antwoord voor is. Ek moes net vir ’n oomblik weer daaroor gaan dink. En hierdie is maar ’n paar van die dinge wat ek gedink het:
Jongmense op ’n Sondagaand
Dit is nie die groot strukture en besluite en debatte op RSG wat my hier hou nie. Dit is die agt en toe later 15 en toe 20 en deesdae 35 jongmense wat op ’n Sondagaand in Kloofstraat bymekaarkom. Ons het nie die grootste aanddiens in die stad nie. Ons het nie eens die grootste NG aanddiens in die omgewing nie. Maar dit is ’n klompie jongmense wat enigiets anders kon doen, maar gekies het om saam kerk toe te kom. Hoekom? Ek wonder self soms. Maar ek dink hulle voel veilig. Hulle kan hulle onsekerhede en vrae hier kom lig. Hulle kan lag. En planne maak vir die week. Hulle voel minder alleen wanneer hulle hier was.
Groter vrymoedigheid
Dit is ook nie 360 jaar of 200 jaar of 30 jaar se geskiedenis wat my hier hou nie. Dit is die feit dat my kinders en my kinders se maatjies (ook dié wat eintlik skaam is) die vrymoedigheid het om die antwoorde in die kerk uit te skree. Nou die oggend vra ek: Wat verstaan julle nie? En ’n 7-jarige seuntjie skree van heel agter: Ek verstaan nie hoekom kinders altyd moet luister na wat grootmense sê nie. En ek dink vir ’n oomblik: Hoe ver sou ons nie al gevorder het as almal die kans gehad het om hardop in die kerk uit te roep wat hulle nie verstaan nie? En ook: Miskien moet die grootmense ’n bietjie na die kinders begin luister.
Gemaklik met vrae
Dit is nie omdat ek dink dat ons die heel beste of enigste ware teologie het nie. Dit is omdat, ten spyte van ons geskiedenis (en hede), die meeste gemeentes, en ek hoop veral die een waar ek dien, die ruimte skep waar mense kan sê dat hulle nie verstaan nie, dat hulle onseker is, dat hulle sukkel om te glo, dat hulle kwaad is vir God, dat hulle nie kan sin maak van wat om hulle aangaan nie. Dit is ’n plek waar ons geleer het om gemaklik te wees met vrae, eerder as met selfversekerde antwoorde. Dit is ’n plek waar een van die jongmense in my belydenisklas sy eie belydenis so begin: ‘Ek glo in ’n God wat ek nie verstaan nie.” En waar ’n ander een vertel hoeveel gemakliker hy gevoel het met sy eie twyfel toe hy sien die dominees het ook nie al die antwoorde nie.
Vormende stories van ander
Ek bly nie hier oor die taal of die kultuur of omdat almal lyk soos ek nie. Inteendeel, dit is dalk eerder ’n rede om te waai. Maar ek glo ook dat alhoewel ons dikwels misluk ons dit ’n prioriteit gemaak het om na diegene te luister wat anders as ons dink en praat. Wie se storie in hierdie land anders lyk as myne. Wie se keuse oor wie hulle liefhet nie so gemaklik deur almal aanvaar word, soos my eie keuse nie. So, ek bly hier want daar is mense wat my genadig genoeg is om hulle storie met my te deel en by wie ek kan leer ten spyte van die geskiedenis van my kerk en my vel en die normatiwiteit van my seksualiteit. Hier hoor ek die mooiste en die seerste stories en dit vorm my.
Ek is definitief nie in hierdie kerk omdat ons God gevind het nie. Ek is hier omdat God ons gevind het. Omdat God my gekies het en ek gedoop is, voor ek ’n idee gehad het wat dit beteken of die invloed wat dit op my gaan hê. En omdat God nie net vir my gekies het nie, maar omdat daar ook ander rondom my is. Mense wat die Here liefhet omdat Hy hulle eerste liefgehad het.
- Ds Marietjie Steyn is leraar by Groote Kerk in Kaapstad.
Dankie Marietjie. Ek is ook baie lief vir ons kerk, en juis omdat ons nie alltyd die antwoorde het nie, kan ons maar net met ons eie gebrokenheid na God gaan.